About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2008
>>
[2008] ZASCA 145
|
|
S v Bredenhann (732/07) [2008] ZASCA 145; [2009] 2 All SA 135 (SCA) (27 November 2008)
Links to summary
DIE
HOOGSTE HOF VAN APPèL
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
UITSPRAAK
Saaknommer: 732/07
Geen gesagswaarde
In die saak tussen:
MADLEEN ALBERTINA MARIKE BREDENHANN APPELLANT
en
DIE STAAT
R
ESPONDENT
Neutral citation:
Bredenhann v S
(732/07)
[2008] ZASCA 145
(27 November 2008)
CORAM: CLOETE, COMBRINCK ARR
et
BORUCHOWITZ WNDE AR
DATUM: 11 NOVEMBER 2008
GELEWER: 27 NOVEMBER 2008
GEKORRIGEER:
OPSOMMING: Moord – feitevraag of appellant
skuldig is aan moord of begunstiging by die pleging van moord.
Murder – factual issue whether appellant was
guilty of murder or being an accessory after the fact to murder.
(Judgment
in Afrikaans.)
BEVEL
Op appèl vanaf:
Pretoria
se Hooggeregshof
Mynhardt, Molopo & Du
Plessis RR (Volle hof)
1. Die appèl word van die hand gewys.
UITSPRAAK
COMBRINCK JA (Cloete AR
et
Boruchowitz Wnd AR stem saam)
[1] Drie vrouens van dieselfde familie, 'n 27-jarige
dogter, haar moeder en ouma aan moederskant, het saamgewoon in 'n
huis in 'n
voorstad van Pretoria. Die moeder en ouma het 'n
slaapkamer gedeel en die dogter het in 'n aparte slaapkamer langsaan
geslaap.
Gedurende die vroeë oggendure van Saterdag 13 April
2003 is die moeder en ouma wreed met 'n byl aangerand terwyl hulle in
hul beddens gelê het. Hulle het albei aan hul beserings beswyk.
Die dogter, die huidige appellant, is aangekla van die moord
op haar
moeder en ouma. Die saak het in die Pretoria se Hooggeregshof voor
Botha R gedien. Hy het die appellant op beide klagtes
skuldig bevind
en haar tot twee termyne lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Sy het
tot die volbank van die provinsiale afdeling
teen die
skuldigbevinding appelleer. Met 'n meerderheid van twee teen een is
die skuldigbevinding bekragtig. Mynhardt R het die
meerderheidsuitspraak gelewer en Molopa R het saamgestem. Du Plessis
R het die minderheidsuitspraak geskryf. Laasgenoemde was van
mening
dat die staat nie daarin geslaag het om te bewys dat appellant aan
moord skuldig was nie en dat daar slegs bewys is dat
sy skuldig was
aan begunstiging by die pleging van moord. As gevolg van hierdie
bevinding is spesiale verlof tot appèl tot
hierdie hof
toegestaan.
[2] Die getuienis voor die verhoorhof is breedvoerig
uiteengesit in al drie uitsprake en 'n gedetailleerde uiteensetting
in hierdie
uitspraak sal oorbodig wees. 'n Bondige opsomming van die
vernaamste bewese feite sal voldoen. Verskeie bure het die oggend van
13 April 2003 tussen 4 en 5 uur as gevolg van honde wat geblaf het en
geluide wat hulle gehoor het, wakker geword. Hulle het vermoed
dat
die geluide vanaf die huis waar die drie genoemde vrouens gewoon het,
gekom het. Twee van die bure het getuig dat hulle 'n
venster hoor
breek het en by verdere ondersoek vasgestel dat dit appellant se
slaapkamervenster was wat gebreek was. Die een getuie,
mnr Du Plessis
het appellant buite die venster sien staan, besig om glas uit haar
hare te vee. Die ander, mev Wesselman, het appellant
in die kamer
gesien waar sy besig was om iets uit 'n hangkas te haal. Sy het vir
haar geskree en gevra of daar by hulle ingebreek
is en of hulle kon
help. Appellant het geantwoord dat sy 'OK' is maar dat daar nog
iemand in die huis was. Sy het toe die polisie
op die noodnommer
10111 ontbied. Appellant het toe met haar motor Pretoria-Noord
Polisiestasie toe gery waar sy omtrent 5 vm opgedaag
het en aan
sersant Robinson vertel het dat daar by haar woning ingebreek is en
dat sy by haar moeder en ouma se kamer in is en
dat daar net bloed
was. Sy het gevra dat die nooddienste ontbied word. Sersant Robinson
het gemerk dat daar bloedspatsels op haar
arm was. Verskeie
polisielede is na die huis waar hul eers moes wag vir die appellant
om terug te keer om die motorhek oop te sluit.
In die hoofslaapkamer
het hulle die lyke van die oorledenes gevind. Hulle het op hulle
onderskeie beddens gelê. By appellant
se moeder, mev
Bredenhann, was daar baie bloedspatsels op die muur, plafon en
meubels. Behalwe vir 'n bloedbesmeerde kussing was
daar min bloed in
die omgewing van wyle mev Wambach, die ouma. Op die bed langs die
oorledene het 'n bloedbesmeerde byl gelê.
Beide oorledenes is
verskeie kaphoue teen die kop toegedien. Die moordtoneel is grafies
in fotos wat by die verhoorhof ingedien
is, uitgebeeld. Die polisie
het opgemerk dat daar bloedspatsels aan appellant se bloes was. Daar
is daarop beslaggelê en
dit is gestuur vir forensiese
ontleding. Appellant het daardie oggend aan verskillende persone
uiteenlopende mondelinge verklarings
gemaak oor wat die nag gebeur
het. Deskundige getuienis deur die staat aangebied, wat nie betwis is
nie, het die volgende bewys:
eerstens dat beide oorledenes dood is
aan bloedverlies as gevolg van die kopwonde wat hulle toegedien is;
tweedens, dat doksalimien
in beide se bloed gevind is. Dit het daarop
gedui dat hul elk 'n normale dosis slaapmiddel ingeneem het. Derdens,
dat die bloed
wat op die byl gevind is, dié van wyle mev
Bredenhann was. Vierdens, dat die bloed wat op appellant se bloes
gevind is dié
van haar moeder, mev Bredenhann, was. Vyfdens,
dat ten einde daardie tipe bloedspatsels op haar bloes te gekry het,
moes appellant
nie meer as twee meter van die oorledene gestaan het
toe die kophoue toegedien is nie.
[3] Appellant het getuig dat sy die nag wakker gemaak is
deur die hondjie wat by haar slaap. Sy het opgestaan en gaan water
drink
in die badkamer oorkant die gang. Sy hoor toe 'n geluid in die
kombuis en toe sy kyk, sien sy twee figure. Sy kruip toe weg in die
badkamer en sien een persoon gaan by haar kamer in. Sy hardloop toe
na haar ma se kamer om haar en haar ouma te waarsku. Toe sy
by haar
ma se bed kom, kom daar 'n persoon die slaapkamer binne en skakel die
lig van die badkamer (wat 'en-suite' was) aan. Sy
hurk toe laag langs
haar ma se bed. Die persoon kom na haar ma se bed, leun oor en kap na
haar ma. Sy spring toe op, skree en gryp
hom en probeer hom wegstamp.
Hulle stoei en die aanvaller stamp haar toe weg, mik 'n hou na haar,
mis en slaan haar ma raak. Sy
kruip toe hande-viervoet oor haar ma en
haar ouma en vlug by die kamerdeur uit. Die aanvaller skree toe:
'Madeleen (appellant se
voornaam) is op pad na jou.' Sy identifiseer
die stem as dié van haar oom, Ludwig Wambach. Sy kruip toe
weereens weg in
die badkamer en daarna hardloop sy haar kamer binne
en sluit die deur. Die aanvallers probeer by die kamer inkom en dreig
haar
dat as sy iets sê oor wat sy gesien het, dieselfde met
haar sal gebeur. Die tweede aanvaller se stem het geklink soos dié
van Ludwig se seun, Dieter, maar sy was nie seker nie. Daar volg toe
twee kaphoue teen die deur. Sy breek toe die venster met haar
leeslampie, spring uit, besef sy het haar motorsleutels vergeet,
spring terug in die kamer, kry haar sleutels en 'n trui uit die
kas
en spring weer uit. Sy bevestig dat mnr Wesselman haar gevra het of
daar ingebreek is en dat sy gesê het sy is 'OK' maar
dat daar
nog iemand in die huis is. Sy is toe met haar motor weg polisiestasie
toe. Sy het erken dat sy die weergawe van die gebeure
aan niemand
vertel het voor haar arrestasie nie – nie eens aan haar
familielede nie.
[4] Die appellant se getuienis is deur die verhoorhof
verwerp as nie redelik moontlik waar nie. Die bevinding is deur die
belese
regters in die meerderheids- en die minderheidsuitspraak
bevestig. Die appellant se advokaat het in sy betoogshoofde
aanvanklik
aangevoer dat die bevinding van die vier regters verkeerd
was. Gedurende betoog voor ons het hy egter toegegee dat hy geen
gronde
gehad het om die bevinding in twyfel te trek nie. Gevolglik is
die feit dat die appellant 'n valse weergawe gegee het van wat gebeur
het nie in hierdie appèl in geskil nie. Vir die redes in al
drie uitsprake verskaf is ek van mening dat appellant se advokaat
se
toegewing gegrond is en ek ag dit onnodig om weereens die redes te
herhaal waarom haar getuienis verwerp moet word.
[5] Die verhoorhof het bevind dat die
omstandigheidsgetuienis teen appellant baie sterk was. Die appellant
was in die huis en een
van die slagoffers se bloed was op haar klere.
Haar verduideliking oor hoe dit gebeur het is vals. Die enigste
redelike afleiding
wat gemaak kan word is dat sy aandadig was aan die
aanval op die twee oorledenes. Die hof het gevolglik dit nie nodig
geag om 'n
bevinding te maak oor hoe presies die moorde gepleeg is en
wie almal betrokke was nie. Die meerderheid in die volbank was van
mening
dat appellant 'n mededader was. Sy was, so is bevind, deel van
'n komplot en het die werklike daders bygestaan deur te help om die
huis binne te kom, die moorde te pleeg en hulle uit die voete te
maak. Dit is onwaarskynlik dat sy enige van die moordhoue toegedien
het. Du Plessis R in sy minderheidsuitspraak het bevind dat die bloed
op appellant se bloes wel aantoon dat sy by was by die moorde,
maar
nie dat sy noodwendig goedkeurend by was nie. Daar kan nie met
sekerheid afgelei word dat appellant haar met die aanval vereenselwig
het nie. Die omstandighede in geheel beskou, so is bevind, laat
steeds die moontlikheid dat appellant 'n vals weergawe gegee het
om
die werklike dader te beskerm.
[6] Op die keper beskou draai hierdie appèl om
die vraag of die verhoorhof, soos deur Du Plessis R bevind, misgetas
het deur
te bevind dat daar voldoen is aan die tweede toets in
R
v Blom
1
deurdat 'n ander redelike afleiding uit die bewese feite gemaak kon
word, naamlik dat die appellant nie-goedkeurend by was toe
die moorde
gepleeg is. Hierdie tweede toets blyk uit die volgende
dictum
van Watermeyer AR in
Blom
2
:
'The proved facts should be such
that they exclude every reasonable inference from them save the one
sought to be drawn. If they
do not exclude other reasonable
inferences, then there must be a doubt whether the inference sought
to be drawn is correct.'
[7] Voordat hierdie vraag behandel word, is dit dienlik
om weer die vermaning in
R v Mlambo
3
te herhaal:
'
An
accused's claim to the benefit of a doubt when it may be said to
exist must not be derived from speculation but must rest upon
a
reasonable and solid foundation created either by positive evidence
or gathered from reasonable inferences which are not in conflict
with, or outweighed by, the proved facts of the case.
Moreover, if an accused
deliberately takes the risk of giving false evidence in the hope of
being convicted of a less serious crime
or even, perchance, escaping
conviction altogether and his evidence is declared to be false and
irreconcilable with the proved
facts a court will, in suitable cases,
be fully justified in rejecting an argument that, notwithstanding
that the accused did not
avail himself of the opportunity to mitigate
the gravity of the offence, he should nevertheless receive the same
benefits as if
he had done so.'
(Sien verder
S v Steynberg
4
.
)
[8] Daar bestaan drie moontlikhede as dit kom by die
vraag oor wie die moordenaar(s) was, naamlik, eerstens, een of meer
vreemdeling(e),
of tweedens, 'n persoon of persone aan appellant
bekend en derdens, die appellant. By die tweede moontlikheid is die
vraag of die
appellant goedkeurend by was in die sin dat sy deur haar
dade haar assosieer het met die moorde en of sy nie-goedkeurend
bygestaan
het. Die eerste moontlikheid, (dat vreemdelinge betrokke
was), kan onmiddellik uitgeskakel word. Daar was geen gedwonge
toegang
tot die huis verkry nie. Die drie honde het nie geblaf nie.
Met 'n ooggetuie by is dit hoogs onwaarskynlik dat so 'n gewelddadige
moordenaar appellant ongedeerd sou gelaat het. Die appellant het dan
ook geen rede gehad om 'n valse weergawe te gee van wat gebeur
het
nie. Indien die appellant self die moorde gepleeg het – die
derde moontlikheid hierbo genoem – is sy tereg skuldig
bevind
aangesien die aard van die aanval sodanig was dat sy nie nodige
direkte opset moes gehad het om te moor. Wat die tweede
moontlikheid
betref, was beide die verhoorhof en die meerderheid in die volbank
van mening dat dit te betwyfel is dat die appellant
die moordhoue
toegedien het en dat sy bystand moes gehad het. Ek kan egter nie sien
waarom daar op die getuienis sodanige twyfel
moes wees nie. Nie een
van die bure het enige ander persone gesien nie. Een het net 'n motor
soortgelyk aan haar pa s'n sonder
ligte aan in die straat sien
verbyry ongeveer die tyd van die moorde, maar dit insigself is
niksseggend. Die polisie kon ook geen
teken in die huis of daarbuite
van enige derde persone vind nie. Die enigste getuienis van ander
persone wat betrokke was by die
moorde is dié van die
appellant en sy was bevind 'n leuenaar te wees. Die waarskynlikhede
dui na my mening daarop dat die
appellant op haar eie sonder bystand
die moorde gepleeg het.
[9] Indien die moorde wel deur 'n persoon (of persone)
aan die appellant bekend gepleeg is en sy haar vereenselwig het met
sy (of
hulle) dade, dan was die verhoorhof korrek en is sy tereg
skuldig bevind. Die enigste oorblywende moontlikheid is dat die
aanval
deur iemand aan die appellant bekend gepleeg is en dat sy haar
nie met die misdade vereenselwig het nie, maar slegs hulp verleen
het
aan die dader deur sy identiteit te weerhou en sodoende hom toegelaat
om vervolging vry te spring. Na my mening kan op sterkte
van die
appellant se optrede die moontlikheid dat sy nie-goedkeurend
bygestaan het terwyl die moorde gepleeg is, verwerp word.
[10] Dit is duidelik dat hierdie moorde beplan was –
die aanval het nie voortgespruit uit 'n skielike rusie of 'n
onverwagte
gebeurtenis nie. Die moordtoneel self bewys dit. 'n
Vreemde byl is op die ouma se bed gevind – 'n mens bring nie 'n
byl in
'n slaapkamer in tensy jy dit as 'n wapen gaan gebruik nie.
Dit is duidelik van die posisies waarin die lyke gevind is dat hulle
op hul beddens gelê en slaap het toe hulle aangeval is. Die
feit dat hulle oënskynlik geen weerstand gebied het (behalwe
dat
die ouma 'n hou moes probeer afweer het, aangesien een van haar
vingers afgekap is) en nie geskree het nie, getuig ook hiervan.
As
daar 'n geheimsinnige maar bekende aanvaller was, moes hy geweet het
dat die appellant ook in die huis sou wees en dat hy 'n
plan moes
maak met haar. Tog, volgens die hipotese, stap hy by haar kamer verby
om die moorde te pleeg sonder om hom oor haar te
bekommer – en
wanneer sy wel op die moordtoneel verskyn, doen hy haar geen leed aan
nie. Die vraag ontstaan eerstens, hoe
het sy in die moordkamer beland
en tweedens, hoe het dit gekom dat sy binne twee meter van haar ma
gestaan het toe dié aangeval
is?
[11] Óf die appellant het geweet die aanval gaan
plaasvind en sy het saam met of net na die moordenaar die kamer
binnegegaan,
óf sy was onbewus van wat gaan gebeur en het as
gevolg van ander faktore onwetend dat iets gaan gebeur, ingegaan. In
die
eerste geval sou dit beteken sy was goedkeurend by die moorde. In
die tweede geval sou 'n mens verwag dat sy onmiddellik sou gil
en
vlug toe sy 'n persoon met 'n byl in haar moeder se kamer waargeneem
het – wat sy nie gedoen het nie.
[12] Die vraag oor hoe sy baie naby haar ma was toe die
dodelike houe toegedien is strook ook glad nie met die
'nie-goedkeurende
bystander' teorie nie. Volgens die fotos en
sketsplan wat ingehandig is, het die twee beddens waarop die
oorledenes gelê
het so te sê teen mekaar gestaan met die
ouma se bed naaste aan die deur. Tussen die moeder se bed en die ver
kant se muur
het 'n laaikas en 'n bedkas gestaan met 'n spasie van
ongeveer 'n halwe meter tussen die kant van die bed en die kaste. Die
aanvaller
moes in hierdie spasie gestaan het toe hy die dodelike houe
toegedien het. Appellant kon nie langs hom gestaan het nie –
die spasie is te nou en sy moes dus half voor hom gestaan het om die
bloed op haar bloes te gekry het. Hoe sy as 'nie-goedkeurende'
toeskouer in hierdie posisie kon beland het, is onverklaarbaar. As sy
die houe en die bloed wat gespat het waargeneem het, sou
'n mens ook
verwag dat sy al gillend uit die kamer sou vlug en gaan hulp soek.
Maar wat maak sy? Sy gaan terug na haar kamer, breek
'n venster en as
haar buurvrou navraag doen oor wat aangaan, sê sy sy is
'allright'. Sy sê niks van die gruweltoneel
wat sy waargeneem
het en dat haar ma baie ernstig beseer is nie. Sy kon immers nog
noodhulp ontbied het om haar ma te behandel
– sy kon toe nie al
geweet het dat sy dood is nie. Sy het dan nog tyd gehad om daaraan te
dink om 'n trui uit die kas te
haal om vermoedelik saam te neem
indien sy koud kry. Sy het verder ook tyd gehad om, nadat sy by die
buitehek uit is, te stop,
die hek toe te maak en te sluit – dit
terwyl haar moeder en ouma besig is om dood te bloei. Sy moes ook by
gewees het to
haar ouma aangeval is, aangesien sy vir haar vorige
kêrel se suster, wat sy op pad polisiestasie toe gebel het,
gesê
het dat haar moeder en haar ouma beseer is.
[13] 'n Verdere vraag wat nie rym met die
'nie-goedkeurende bystander' moontlikheid is waarom appellant valse
weergawes aan verskeie
mense gegee het oor wat gebeur het. Aan
sersant Robinson het sy gesê daar is by haar woning ingebreek.
Aan inspekteur Otto,
een van die eerste polisiemanne op die toneel,
het sy gesê dat sy in haar kamer gelê het en toe iemand
in die woning
gehoor het. Sy het 'n ruit gebreek, uitgeklim en
polisiestasie toe gery. Aan 'n mnr Fouche, 'n paramedikus wat haar
vir skok behandel
het dieselfde oggend, het sy gesê dat sy
alleen in haar kamer was toe sy kapgeluide hoor. Sy het geskree sy
gaan die polisie
bel en is toe by die gebreekte venster uit
polisiestasie toe. Aan haar broer, Albertus Bredenhann, het sy vertel
dat toe sy agtergekom
het dat daar mense in die huis was, sy haar
deur gesluit het. Sy het nie gesê dat sy iemand gesien of
herken het nie. Voor
haar arrestasie het sy ontken dat sy op die
moordtoneel was. Eers toe dit blyk dat sy moet verduidelik hoe haar
moeder se bloed
op haar bloes gekom het, het sy met die weergawe
gekom wat sy ook in die verhoorhof herhaal het – wat vals was.
As sy haarself
nie met die moorde assosieer het nie en slegs ten doel
gehad het om die identiteit van die aanvaller te weerhou om hom te
beskerm,
waarom nie van die begin af vertel dat sy 'n ooggetuie was
tot die moorde, maar dat die moordnaar aan haar onbekend was of 'n
masker
aangehad het en sy hom nie kon identifiseer nie?
[14] Alles in ag genome is ek van mening dat daar geen
moontlikheid bestaan dat die appellant nie die moorde goedgekeur het
nie.
Óf sy het die moorde self gepleeg wat myns insiens die
waarskynlikste is, óf sy het haar vereenselwig met dade van
die aanvaller en hom aktief bygestaan in die pleeg van die misdrywe.
[15] Die appèl word van die hand gewys.
………………………
..
P C COMBRINCK
APPÈLREGTER
VERSKYNINGS:
VIR
APPELLANT: J P KRIEL (PROKUREUR)
IN OPDRAG
VAN: J P KRIEL & KIE
PRETORIA
KORRESPONDENTE: NAUDES
BLOEMFONTEIN
VIR
RESPONDENT: E C J WAIT
IN OPDRAG VAN: DIE DIREKTEUR VAN OPENBARE VERVOLGING
PRETORIA
KORRESPONDENTE: DIE DIREKTEUR VAN OPENBARE VERVOLGING
BLOEMFONTEIN
1
1939 AD 188
2
Te 202
in fine
- 203
3
1957 (4) SA 727
(A) te 737F-738D
4
1983 (3) SA 140
(A).