About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2008
>>
[2008] ZASCA 135
|
|
Van Rooyen NO v Rorich Wolmarans & Luderitz (146/08) [2008] ZASCA 135; [2009] 2 All SA 201 (SCA) (26 November 2008)
DIE
HOOGSTE HOF VAN APPèL
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
UITSPRAAK
Saaknommer: 146/08
Geen gesagswaarde
In die saak tussen:
PIETER BERNARDUS VAN ROOYEN NO APPELLANT
en
RORICH WOLMARANS & LÜDERITZ ING
RESPONDENT
Neutral citation:
Van Rooyen v
Rorich Wolmarans & Lüderitz
(146/08)
[2008] ZASC 135 (26 November 2008)
CORAM: SCOTT, BRAND, COMBRINCK ARR, BORUCHOWITZ
et
GRIESEL WNDE ARR
DATUM: 4 NOVEMBER 2008
GELEWER: 26 NOVEMBER 2008
GEKORRIGEER:
OPSOMMING: Insolvensie – feitevraag of aan
respondent as aktevervaardiger opdrag deur kurators van 'n insolvente
boedel gegee
is om die opbrengs van die verkoop van boedelbates aan
'n derde oor te betaal.
BEVEL
Op appèl vanaf:
Pretoria
Hooggeregshof (Ledwaba R)
Die appèl word van die hand gewys met koste.
UITSPRAAK
COMBRINCK AR (Scott, Brand, ARR, Boruchowitz
et
Griesel Wnde ARR stem saam)
[1] Die appellant, in sy hoedanigheid as kurator van die
insolvente boedel van Johannes Jacobus Smith, het in die Pretoria se
Hooggeregshof
aksie ingestel teen die respondent, 'n ingelyfde
maatskappy wat handel dryf as prokureurs, vir betaling van 'n bedrag
van R809 806.
Die verhoor het voor Ledwaba R gedien wat die eis
van die hand gewys het met koste. Met verlof van die hof benede wend
die appellant
hom nou in hoër beroep na hierdie hof.
[2] Die appellant het sy eis gegrond op 'n mandaat wat
deur hom en sy mede-kurator in die boedel, mnr Lüderitz, aan
respondent
gegee is om twee eiendomme wat uit die boedel verkoop is
aan die kopers oor te dra. Die respondent, so is beweer, moes aan die
kuratore verreken vir die fondse ontvang. In stryd met die mandaat
het die respondent '. . . nalatiglik versuim om toe te sien dat
die
voormelde opbrengste van die betrokke transaksies aan die gemelde
boedel oorbetaal word . . ..' As gevolg van die nalatige
versuim het
die boedel skade gely aangesien die fondse aan 'n maatskappy, De Mist
Trust Corporate Services (Edms) Bpk ('De Mist')
betaal is. Die bedrae
is nooit van die maatskappy verhaal nie aangesien dit gelikwideer is.
Die respondent het in sy pleit beweer
dat deel van die mandaat gegee
deur een van die kuratore, 'n mnr Lüderitz, behoorlik daartoe
gemagtig, was dat die koopsom
aan De Mist betaal moes word. Die
bedrae is aan laasgenoemde as behoorlik gemagtigde verteenwoordiger
van die kuratore betaal en
die mandaat is dus behoorlik uitgevoer.
Daar was ook 'n spesiale pleit van verjaring wat deur die verhoorhof
verwerp is. Daar is
geen kruisappèl teen daardie bevel en niks
verder hoef daaroor gesê te word nie.
[3] Behalwe vir die kernvraag oor wat die terme van die
mandaat was, was meeste van die feite wesenlik tot die saak nie in
geskil
nie. By die voor-verhoorkonferensie is die volgende feite
erken, en ek haal aan uit die notule:
'1.2 Die feit dat die Eiser en wyle A H W Lüderitz
te alle relevante tye mede-kuratore was in die insolvente boedel van
Johannes
Jacobus Smith;
1.3 Die feit dat, gedurende ongeveer die begin van Mei
1996, die Verweerder opdrag ontvang het om namens die twee gemelde
kuratore,
twee transporte te behartig ten aansien van die verkope van
onroerende eiendomme uit die insolvente boedel, te wete :
1.3.1 die transport van Gedeelte 29 van die plaas
Witfontein en Gedeelte 1 van die plaas Vleiland aan ene E van
Niekerk;
1.3.2 die transport van Gedeelte 16 ('n gedeelte van
Gedeelte 3) van die plaas Vaalbank aan K N en M M Grobbelaar;
1.4 Die feit dat dit 'n uitdruklike, alternatiewelik
stilswyende, verder alternatiewelik geïmpliseerde terme van die
Verweerder
se opdrag was dat hy dit op 'n behoorlike en professionele
manier en sonder nalatigheid sou verrig ten einde toe te sien dat die
transporte insake voormelde transaksies behoorlik en korrek plaasvind
en geregistreer word;
1.5 Die feit dat die transporte inderdaad in die naam
van die kopers plaasgevind het;
1.6 Die feit dat die Verweerder op 31 Julie 1996 'n tjek
ten bedrae van R512 380 ten gunste van De Mist Trust Corporate
Services
getrek het ten aansien van die Van Niekerk transaksie;
1.7 Die feit dat op 1 Augustus 1996 die Verweerder 'n
tjek ten bedrae van R307 428 ten gunste van De Mist Trust
Corporate Services
getrek het ten aansien van die Grobbelaar
transaksie;
1.8 Die feit dat die Verweerder bogemelde feite op 11
Junie 2003 skriftelik aan die Eiser bevestig het tesame met afskrifte
van
die betrokke tjeks;
2.1 Die feit dat gemelde wyle Lüderitz te alle
relevante tye 'n direkteur van De Mist Trust Corporate Services
(Edms) Bpk was;
2.2 Die feit dat gemelde wyle Lüderitz te alle
relevante tye 'n direkteur van die Verweerder was;
2.3 Die feit dat die Verweerder te alle relevante tye
die enigste aandeelhouer en gevolglik houermaatskappy van gemelde De
Mist
Trust Corporate Services (Edms) Bpk was.'
[4] Die appellant het voor die verhoorhof getuig en twee
getuies geroep. Die getuienis was daarop gemik om te bewys dat daar
'n
verpligting gerus het op die respondent as aktevervaardiger om die
opbrengs van die verkope van die boedel se eiendomme slegs aan
die
kuratore en niemand anders oor te betaal nie. Respondent het mnr
Endres geroep wat getuig het oor die bepalings van die mandaat.
Daar
dien gemeld te word dat dit gemene saak op die getuienis was dat dit
vry algemeen voorgekom het onder insolvensie-praktisyns
dat
trusmaatskappye of beslote korporasies, wat deur hulle gestig is,
gebruik word om die praktiese bereddering van die boedels
en die dag
tot dag administrasie daarvan te behartig.
[5] In sy betoogshoofde het appellant se advokaat
aangevoer dat die crux van die saak is of die respondent nalatig
opgetree het
al dan nie. Hy het egter nie met die vraagstuk in betoog
voor ons volhard nie. Die appèl moes slaag, het hy aangevoer,
op
die enkele grond dat daar nie bewys is dat dit 'n term van die
mandaat was dat die koopsomme aan De Mist oorbetaal moes word nie.
Lüderitz is voor die verhoor oorlede en die enigste persoon wat
kon getuig oor die terme van die mandaat was die aktevervaardiger
in
die respondent se diens, gemelde Endres. Die getuie se getuienis, so
is betoog, was teenstrydig met wat hy by 'n insolvensie-ondervraging
gesê het en ook teenstrydig met die pleitstukke. By die
insolvensie verrigtinge het hy gesê dat hy nie opdrag van
Lüderitz gekry het om die bedrae aan De Mist oor te betaal nie,
maar wel van 'n mnr Brough, 'n diensnemer van De Mist. In die
pleit
is beweer dat Lüderitz die opdrag gegee het. In sy getuienis in
die hof het hy gesê daar was 'n algemene praktyk
by respondent
dat waar Lüderitz 'n kurator was in 'n boedel bedrae ontvang
namens die boedel aan De Mist verreken moes word.
Endres se getuienis
moet dus verwerp word met die gevolg dat die term waarop respondent
staat maak nie bewese is nie.
[6] Die enigste vraag in die appèl is derhalwe of
dit deel was van respondent se mandaat dat die gelde ontvang uit die
twee
kooptransaksies aan De Mist as verteenwoordiger van die boedel
betaal moes word, al dan nie. Soos tereg deur die advokaat vir die
respondent uitgewys is die onus op die appellant om te bewys dat die
term nie deel van die mandaat was nie.
1
[7] Endres het as volg getuig oor die aangeleentheid:
'Waarom het u in hierdie geval van hierdie insolvente
boedel en wat al die transporte betref wat daaronder geresorteer het,
aan
De Mist verreken en betaal? --- U edele van my voorgangers by die
firma insluitende mnr Danie Kolver het voorheen die insolvente
boedel
oordragte hanteer, nadat mnr Kolver . . . Mnr Kolver is in 1995 of
1996 weg by die firma en daarop het ek voortgegaan om
hierdie
insolvente boedel oordrag te hanteer. Dit is aan my oorgedra deur my
voorgangers en was dit ook algemene praktyk by die
firma om in
boedels waar mnr Lüderitz die aanstelling het en waarvan De Mist
Trust die verteenwoordigers was om die administrasie
te hanteer aan
De Mist te verreken.
Verstaan ons die getuienis dat dit was bestaande
instruksie in die praktyk vanaf, in die firma dat dit is hoe u dit
moes doen? ---
U edele dit was 'n staande praktyk en instruksie by
die firma en dit was voor hierdie boedeloordragte so gedoen gewees en
ook vir
'n hele tydjie daarna.
Van wie het u verstaan kom hierdie staande instruksie?
--- U edele ek het verstaan dat dit 'n staande instruksie vanaf mnr
Dolf
Lüderitz, die kurator, was.''
Sy getuienis is deur die verhoorhof aanvaar en daar is
ook 'n uitdruklike bevinding dat sy getuienis nie teenstydig is met
dit wat
hy by die insolvensieverhoor gesê het nie. Na deurlees
van Endres se getuienis by die insolvensieverhoor is ek van mening
dat die verhoorhof volkome korrek was in hierdie opsig. Al was daar
hier en daar 'n geringe teenstrydigheid is daar geen basis
waarop
Endres se getuienis van die algemene praktyk as onbetroubaar of
ongeloofwaardig beskou kan word nie. Appellant het, toe
Endres se
getuienis in kruisverhoor aan hom gestel is, erken dat hy nie in
staat is om dit te weerlê nie.
[8] Die waarskynlikhede is ook stewig aan die kant van
die respondent. Dit is hoogs onwaarskynlik dat Endres sonder die
bestaan
van die praktyk op eie houtjie die bedrae aan De Mist sou
oorbetaal. Daar was in dieselfde boedel 'n derde oordrag van 'n
eiendom
aan 'n mnr Prinsloo. Daar is dieselfde prosedure gevolg en is
die koopsom na Endres se wete ook aan De Mist oorbetaal. Die bedrag
het later in die boedelrekening beland. Endres het ook in 'n
kantoormemorandum, gedateer 6 Maart 2000, verslag gedoen aan L
üderitz
oor oordragte van eiendomme uit die boedel J J Smith en by elke
transaksie is gemeld dat die bedrag aan De Mist betaal
is. Die
memorandum, volgens Endres, is sonder protes deur Lüderitz
ontvang. Daarbenewens het Lüderitz self, so het Endres
getuig,
van die tjeks wat aan De Mist uitgemaak is, as direkteur van
respondent, mede-onderteken. Daar was ook niks buitengewoon
of vreemd
daaraan om die bedrae aan De Mist te betaal nie. Die maatskappy was
belas met die praktiese dag tot dag taak van bereddering
van die
boedels. Daarbenewens was die respondent die alleen-aandeelhouer in
die maatskappy en Lüderitz 'n direkteur.
[9] Ek is gevolglik van mening dat die verhoorhof se
bevinding dat dit wel 'n term van die mandaat was dat die opbrengs
van die
verkope aan De Mist oorbetaal moes word, onaanvegbaar is.
Streng gesproke was die hekkie te hoog vir die respondent gestel en
al
wat bevind moes word, soos hierbo vermeld, was dat appellant nie
daarin geslaag het om te bewys dat daardie term nie deel van die
opdrag was nie.
[10] Die appèl word van die hand gewys met koste.
……………………
..
P C COMBRINCK
APPÈLREGTER
APPEARANCES:
FOR
APPELLANT: C L H HARMS
M H
VAN TWISK
INSTRUCTED
BY: SURITA MARAIS PROKUREURS
PRETORIA
CORRESPONDENTS: NAUDES
ING
BLOEMFONTEIN
FOR
RESPONDENT: M MARITZ SC
INSTRUCTED BY: GELDENHUYS LESSING MALATJI ING
PRETORIA
CORRESPONDENTS: HONEY
PROKUREURS
BLOEMFONTEIN
1
Stocks & Stocks (Pty) Ltd v Daly &
Sons (Pty) Ltd
1979 (3) SA 754
(A) te
762G-H.