Van Eeden and Another v Prokureursorde van die Noordelike Provinsies and Another (557/2007) [2008] ZASCA 91; [2009] 1 All SA 477 (SCA) (12 September 2008)

65 Reportability
Legal Practice

Brief Summary

Attorneys — Re-admission — Application for re-admission under s 15(3) of the Attorneys Act 55 of 1979 — Appellant previously struck off the roll for misconduct involving trust account shortages — Finding that appellant concealed accounting records to obstruct investigation into trust deficit — Court holding appellant unfit for re-admission. The appellant, a former attorney, sought re-admission after being struck off the roll due to misconduct related to a significant trust account deficit. The initial removal was based on findings of financial mismanagement and concealment of records. The application for re-admission was opposed by the Attorneys' Order, which cited the appellant's failure to demonstrate fitness for practice. The court found that the appellant had not sufficiently proven the absence of a trust deficit and concluded that he was unfit to practice law again.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2008
>>
[2008] ZASCA 91
|

|

Van Eeden and Another v Prokureursorde van die Noordelike Provinsies and Another (557/2007) [2008] ZASCA 91; [2009] 1 All SA 477 (SCA) (12 September 2008)

Links to summary

DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL
VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer: 557/2007
GEEN GESAGSWAARDE
In die saak tussen:
ALBERT JACOB VAN EEDEN APPELLANT
en
DIE PROKUREURSORDE VAN DIE
NOORDELIKE PROVINSIES EERSTE RESPONDENT
DIE GETROUHEIDSFONDS VIR
PROKUREURS TWEEDE RESPONDENT
Neutral citation:
Van Eeden v Die
Prokureursorde van Noordelike Provinsies
(556/2007)
[2008] ZASCA 91
(12 September 2008)
CORAM:
SCOTT,
FARLAM, PONNAN, COMBRINCK ARR
et
LEACH
Wnd AR
DATUM VERHOOR:
22
AUGUSTUS 2008
DATUM GELEWER:
12
SEPTEMBER 2008
GEKORRIGEER:
OPSOMMING:
Appèl
teen weiering van aansoek ingevolge art 15(3) van Wet op Prokureurs
53 van 1979 vir hertoelating – bevinding
dat appellant
rekeningkundige boeke verberg het ten einde 'n ondersoek na
trusttekort te dwarsboom – onbevoeg om hertoegelaat
te word.
SUMMARY:
Appeal
against refusal of an application in terms of s 15(3) of the
Attorneys Act 55 of 1979 for re-admission – finding
that
appellant concealed books of account in order to thwart an enquiry
into a trust shortage – unfit to be re-admitted (judgment
in
Afrikaans).
BEVEL
Op appèl vanaf: Hooggeregshof: Pretoria
1. Die appèl word van die hand gewys en appellant
word gelas om die eerste respondent se koste op die skaal soos tussen
prokureur
en kliënt te betaal.
UITSPRAAK
COMBRINCK AR (Scott AR, Farlam AR, Ponnan AR, Leach Wnd
AR stem saam)
[1] Die appellant in hierdie saak is gedurende 1986 in
die Pretoria se Hooggeregshof as prokureur toegelaat. Dieselfde hof
het hom
tien jaar later op 4 Maart 1996 van die rol van prokureurs
geskrap. In Junie 2003 loods hy 'n aansoek ingevolge artikel 15(3)
van
die Wet op Prokureurs 53 van 1979
1
by dieselfde hof vir hertoelating. Die aansoek is deur die eerste
respondent (‘die Orde’) teengestaan. Behalwe om 'n

beëdigde verklaring te liasseer het die tweede respondent (die
‘Getrouheidsfonds’) nie tot die geding toegetree
nie. Die
aansoek is deur die hof geweier (die uitspraak is deur Du Plessis R
geskryf en Ebersohn WR het saamgestem). Met verlof
van die hof a quo
kom die appellant nou in hoër beroep na hierdie hof.
[2] Die feite onderliggend aan die destydse skrapping
van die rol van prokureurs asook dié ter stawing van die
aansoek om
hertoelating word volledig uiteengesit in die uitspraak
van Du Plessis R en dit is onnodig om enigsins breedvoerig daarmee te
handel.
Vir doeleindes van hierdie uitspraak sal 'n bondige opsomming
voldoen.
[3] Vanaf 1989 het die appellant met sy vader in
Pretoria onder die naam Van Eedens gepraktiseer. Appellant het die
litigasie behartig
en sy vader die akte-afdeling. Sentraal tot die
uiteindelike skrapping van die appellant en sy vader was 'n vername
kliënt
van die firma, 'n eiendomsontwikkelings-maatskappy met
die naam van Deelgroei Eiendomme (Edms) Bpk (‘Deelgroei’)
wat
nou saamgewerk het met die finansierder van die ontwikkelings,
Permprop, later 'n afdeling van Nedcor Property Development (Edms)

Bpk (‘Nedcor’). Die firma het oor 'n aansienlike tydperk
oordragte van grond en ander regswerk vir die instansies gedoen.

Gedurende Augustus 1995 beëindig die maatskappye Van Eedens se
mandaat weens 'n versuim aan die kant van die firma om gelde
deur
kopers betaal na registrasie van oordrag van eiendomme aan Deelgroei
oor te betaal. Op 28 Augustus 1995 verkry Deelgroei en
Nedcor 'n
dringende hofbevel teen Van Eedens dat hulle vir gelde ontvang van
kopers moet verreken en die verskuldigde bedrae oorbetaal.
Die bevel
is gevolg deur 'n verdere bevel wat op 30 Augustus verkry is om die
bevel van 28 Augustus af te dwing. Daarbenewens verkry
Deelgroei en
Nedcor op 2 September 1995 'n dringende voorlopige sekwestrasiebevel
teen Van Eedens en die individuele vennote. As
gevolg van die
ontvangs van verskeie klagtes van ander kliënte van Van Eedens,
gee die Orde 'n mnr Van Rooyen, (voorheen 'n
rekeningkundige beampte
in diens van die Orde), opdrag om Van Eedens se boeke na te gaan en
verslag te doen. Van Rooyen reik op
7 September 1995 'n skriftelike
verslag uit waarin hy aantoon dat met die karige rekeningkundige
dokumente en bankstate tot sy
beskikking hy voorlopig vasgestel het
dat daar 'n tekort van R2,218m in die trustrekening van die firma is.
Op sterkte van hierdie
verslag loods die Orde op 22 September 1995 'n
dringende aansoek by die hof vir die skorsing van die appellant en sy
vader as prokureurs,
notarisse en aktebesorgers hangende 'n aansoek
om hulle van die rol te skrap. Die bevel is toe ook toegestaan.
Intussen en wel
op 12 September 1995 is die voorlopige
sekwestrasiebevel by ooreenkoms opgehef nadat Van Eedens 'n bedrag
van R1,137m aan Deelgroei
en Nedcor se nuwe prokureurs oorbetaal het.
Die appellant se solvensie was egter van korte duur want op 4 Oktober
1995 verkry 'n
ander kliënt van Van Eedens, 'n mnr Joubert, 'n
dringende voorlopige sekwestrasiebevel teen die firma en die
individuele vennote
op grond van die versuim om trustgelde wat hom
toegekom het oor te betaal. 'n Finale bevel is op 13 Desember 1995,
ten spyte van
teenstand van Van Eedens, deur die Pretoria se
Hooggeregshof toegestaan. Op 4 Maart 1996 is appellant en sy vader
deur dieselfde
hof van die rol geskrap. Die gronde vir die skrapping
was dat daar deur die Orde bewys is dat daar 'n wesenlike tekort was
in die
firma se trustrekening tesame met die feit dat die appellant
gesekwestreer was.
[4] Die grondslag van appellant se aansoek om
hertoelating is dat daar inderdaad nooit 'n trusttekort was nie. Hy
het gevolglik
ten einde die bewyslas te kwyt om aan te toon dat hy 'n
geskikte en gepaste persoon is om hertoegelaat te word nie sy vorige
oortredinge
beken en aangevoer dat hy hervorm het nie. Wat sy saak op
neerkom is dat hy die hof nader op die basis dat daar 'n herondersoek

en heroorweging moet wees van die destydse skrappingsaansoek en dat
'n bevinding dat hy verkeerdelik van die rol geskrap is, gemaak
moet
word. Wat die sekwestrasie betref voer hy aan dat hy deur die hof
rehabiliteer is en dat dit nie langer in die weg moet staan
van sy
hertoelating nie. Die vraag of die bevinding van ‘n tekort in
die firma se trustrekening nie
res iudicata
is, is nóg in hierdie hof, nóg in die hof benede
geopper en ek laat dit dus daar – soos die hof benede ook

gedoen het.
[5] Ten einde aan te toon dat daar nie 'n tekort in die
trustrekening was nie, het die appellant in sy talle verklarings in
die
huidige aansoek, (hy het 'n funderende verklaring, drie
aanvullende verklarings, ‘n repliserende verklaring van 307
bladsye
en 'n verdere aanvullingsverklaring geliasseer), breedvoerig
en op herhalende trant gepoog om met die individuele bedrae wat die

trusttekort opgemaak het te handel. Die tweede respondent, die
Getrouheidsfonds, het 'n bedrag van R624 935.11 aan voormalige

kliënte van Van Eedens uitbetaal. Dit het geskied op grond van
die feit dat die fonds van oordeel was dat diefstal gepleeg
is. Die
individuele eise is insgelyks deur appellant analiseer en behandel
ten einde te bewys dat die gelde nie verskuldig was
nie en dat die
Getrouheidsfonds verkeerdelik die bedrae uitbetaal het. Enkele
rekeningkundige state en ander dokumentêre
bewyse is aangeheg
en na verwys. Appellant beweer in sy stukke dat hy geen brondokumente
of afskrifte van die firma se rekeningkundige
boeke kon voorlê
nie aangesien dit tesame met alle rekenkundige state en rekords vir
die agt jaar wat September 1995 voorafgegaan
het, uit die firma se
kantore gesteel is.
[6] Die Orde het nadat Van Eedens die skorsingsaansoek
teengestaan het op die basis dat daar nie 'n trusttekort was nie, 'n
ouditeur,
mnr Faris, aangestel om 'n soortgelyke ondersoek as Van
Rooyen na die boeke van Van Eedens te onderneem. Faris het 'n
verslag,
gedateer 18 Desember 1995, uitgebring waarin hy bevind het
dat daar wel 'n trusttekort was, maar nie in die bedrag deur Van
Rooyen
bevind nie. Hy was van mening dat die tekort R1,062m was.
Appellant en sy advokaat het 'n onderhoud met Faris gevoer en gepoog
om hom te oortuig dat daar inderdaad geen tekort was nie. Die
appellant het toe ook 'n beëdigde verklaring van Faris
geliasseer
waarin Faris toegegee het dat indien die verduidelikings
deur die appellant verskaf korrek is, dit wel so mag wees dat daar
nie
'n trusttekort was nie. Hy het dit so bewoord:

Given the circumstances
of this matter, certain of the applicant’s explanations are
compelling which suggest that if it was
possible to establish the
true trust position a trust deficit may not have existed at the
time.’
Die appellant het in die hof benede asook in hierdie hof
sterk gesteun op hierdie uitlating. Wat hy egter oor die hoof gesien
het
is die kwalifikasie wat Faris hierop gestel het naamlik:

During my consultations
with the applicant and Adv Ellis, I sought to make it perfectly clear
that before I could positively state
that there were no trust
deficits, I would need to have access to all accounting and
supporting source records to be able to examine
each and every trust
debit balance. . . . Unfortunately it is not possible to now have
access to all the records and documents
necessary and I now need to
rely on the information and explanations being furnished to me by the
applicant, as set out in the
papers and in consultation with him.’
[7] In die uitspraak van die hof benede handel die
geleerde regter met die appellant se saak ten aansien van die
algemene trusttekort.
Hy bespreek die onderliggende feite en kom dan
tot die volgende slotsom:

Na my oordeel som Faris
in sy tweede verklaring die posisie korrek op: Sonder behoorlike
rekenkundige state en rekords is niemand
in staat om te oordeel of
die applikant se verduideliking korrek is nie. Dit is nie eens
moontlik om die egtheid en korrektheid
van stawende dokumente wat die
applikant aanheg te bepaal nie. Kortom, die applikant se
verduideliking is slegs bewerings. In betoog
het die applikant
hierdie probleem aangespreek deur aan die hand te doen dat hy, vanweë
die verlies van die firma se rekenkundige
aaantekeninge, nie in staat
is om beter bewyse voor te lê dat daar geen trusttekort was
nie.’
Die regter handel dan met die kwessie van die verdwyning
van die boeke en ondersoek die vraag of daar meriete steek in
appellant
se betoog dat hy gekortwiek is in sy poging om te bewys dat
daar geen trusttekort was deur die afwesigheid van die boeke. Die hof

bevind dat die diefstal van die boeke onwaarskynlik is en dat op die
beste vir appellant die verlies van die boeke in onsekerheid
gehul
is. Die slotsom is dan:

Kortom, die applikant het
nie op 'n oorwig van waarskynlikhede bewys dat hy in die voer van
hierdie aansoek deur die diefstal of
verlies van die rekenkundige
aantekeninge en rekords gekortwiek is nie.’
[8] Die partye asook die hof benede het hulle toegespits
op die vraag of daar wel 'n trusttekort bestaan het of nie ten einde
tot
'n bevinding te raak of die appellant 'n geskikte en gepaste
persoon is om hertoegelaat te word. Ek kan geen fout vind met die
benadering van die hof ten opsigte van die bewyslas wat op appellant
gerus het of met die uiteindelike bevinding dat appellant nie
daarin
geslaag het om te bewys dat daar geen trusttekort was nie. Na my
mening is daar egter 'n meer voor-die-hand-liggende rede
waarom die
appellant nie 'n geskikte persoon is om as prokureur te praktiseer
nie. Dit is dat by behoorlike analise van die omstandighede
van die
sogenaamde verdwyning van die boeke dit blyk dat die waarskynlikhede
oorweldigend aantoon dat die appellant of sy vader
met sy medewete en
bystand, verantwoordelik was vir die verdwyning van die boeke.
[9] Volgens appellant het die boeke gedurende die
tydperk 2 September 1995 tot 14 September 1995, (die tydperk toe Van
Eedens en
die vennote onder voorlopige sekwestrasie was), uit die
kantore van Van Eedens verdwyn. Die kantoor en die bates van die
firma
was toe in die besit en onder die beheer die voorlopige
kurator, 'n mnr Wilsenach, 'n praktiserende prokureur in Pretoria. Op
18
September 1995 skryf appellant onder andere as volg aan Wilsenach:

Ons versoek dat u aan ons
'n volledige uiteensetting verskaf van alle dokumente, lêers,
rekeningkundige aantekeninge of enige
ander items wat uit ons kantore
verwyder is vanaf die datum waarop u as voorlopige kurator aangestel
is op Saterdag 2 September
1995 tot 16h00 13 September 1995.
Ons stel u hiermee in kennis dat
die kontant bedrae van R250,00 en R1 500,00 uit ons kantore
tydens bovermelde tydperk verwyder
is.
Alle rekeningkundige
aantekeninge, tjekboeke, deposito boeke, kwitansie boeke van die
afgelope 5 jaar is ook verwyder en word die
vermelde dokumente en
items op 'n dringende basis benodig deur onsself.
Dit blyk dat die binnedeur oop
forseer is en in die lig hiervan versoek ons 'n lys van name van
alle
persone wat tydens bovermelde tydperk in ons kantore teenwoordig
was.’
[10] In sy beantwoordende verklaring ter opponering van
die destydse skorsingbevel stel die appellant dit so:

Nadat ons die kantore
weer beset het (op 13 September), het ons vasgestel dat honderde
lêers weg was, alle rekeningkundige
aantekeninge van die
afgelope 6 jaar, kontant in die bedrag van R1 500 is gesteel,
kos uit die yskas is gesteel, rekenaar
diskette is gesteel en daar is
'n klag by die polisie aanhangig gemaak. Dit was duidelik dat iemand
by die kantore ingebreek het
terwyl die Orde en mnr Wilsenach in
beheer daarvan was.’
Aan Van Rooyen, (aldus sy verslag), het appellant en sy
vader gesê die volgende is gesteel:

Kasboek, bankstate,
fooiejoernale, kwitansieboeke, depositoboeke, rekenaaruitdrukke.’
[11] In antwoord op hierdie bewerings het die Orde 'n
beëdigde verklaring van Wilsenach liasseer. Daarin sê hy
onomwonde
dat dit nie moontlik was dat daar diefstal van die boeke of
enigiets anders kon gewees het gedurende die tydperk wat hy in besit

van die kantore was nie. Hy staaf die bewering met die volgende:
(i) Op die dag wat die voorlopige sekwestrasie bevel
toegestaan is, is hy as voorlopige kurator aangestel. Hy het
dieselfde dag
nog besit van Van Eedens se kantore geneem en met die
hulp van 'n slotmaker, kettings en slotte aan die deure aangebring
ten einde
te verseker dat niemand toegang tot die kantore kon verkry
nie;
(ii) Op 4 September 1995 het hy as gevolg van 'n berig
na die kantore gegaan en die appellant en sy vader en ander personeel
gevind
waar hulle besig was om lêers uit die kantoor te
verwyder. Hulle het toegang verkry deur die ketting aan die buitedeur
te
knip. Hy het hulle oorreed om die lêers terug te sit en die
perseel te verlaat;
(iii) As gevolg van hierdie gebeure het hy
sekuriteitswagte op 'n 24-uur basis aangestel om die persele op te
pas. Hulle is eers
onttrek om 16h00 op 13 September toe hy die
sleutels van die kantore aan die appellant oorhandig het. Geen
persoon het toegang
verkry tot die persele terwyl die wagte daar was
en daar is ook geen tekens van enige inbraak of oopforsering van die
binnedeur
nie.
(iv) Die enigste dag wat iemand gedurende die tydperk
die kantore binnegegaan het, was op 6 September toe drie prokureurs
wat opdrag
gekry het om sake oor te neem van die Van Eedens, deur
Wilsenach toegelaat is om die lêers te verwyder. Wilsenach was
deurentyd
teenwoordig van die tyd wat die persone opgedaag het tot
hulle die persele verlaat het. Hy het gesorg dat slegs die lêers

verwyder word en niks anders nie.
[12] Hierdie bewerings van Wilsenach is nooit deur die
appellant betwis nie – nòg in die aansoek om skrapping,
nòg
in die aansoek om hertoelating. Die appellant se vader het
die repliserende verklaring in die skorsingsaansoek namens hom en
appellant
afgelê. Omtrent Wilsenach se verklaring sê hy
absoluut niks. Hy volstaan met die stelling dat ‘dit gemenesaak

is dat die brondokumente weg is’. In die huidige aansoek is
Wilsenach se destydse verklaring aangeheg tot die beëdigde

verklaring van mnr Johnston, 'n vennoot in die firma Weavind &
Weavind van Pretoria wat die Deelgroei lêers by Van Eedens

oorgeneem het. Hy verwys in sy verklaring pertinent na Wilsenach se
verklaring ten einde die bewerings van ongemagtigde verwydering
van
die boeke en rekeningkundige dokumente te weerlê. Weereens word
daar geensins in die ellelange repliserende verklarings
wat appellant
liaseer het, gehandel met Wilsenach se bewerings nie. Dit is ook
opmerklik dat in sy funderende verklaring in die
huidige aansoek
appellant geen melding maak van die sogenaamde diefstal van die boeke
nie. Dit is eers in repliek wat hy aanvoer
dat hy gekortwiek is in sy
pogings om te bewys dat daar nie 'n trusttekort was weens die
diefstal van die boeke nie. Hy beskuldig
dan ook nie net vir
Wilsenach nie, maar wel vir Van Rooyen en veral die Orde dat hulle
toegelaat het dat die boeke verdwyn het.
Hy sien oor die hoof die
feit dat die Orde eers op 22 September 'n skorsingsbevel verkry en
beheer geneem het oor die praktyk –
lank na, op sy eie
weergawe, die boeke verdwyn het.
[13] Daar is 'n verdere belangrike stukkie getuienis wat
betref die boeke. Volgens Van Rooyen het hy, nadat hy opdrag ontvang
het
om Van Eedens se boeke te ondersoek, op 4 September 1995 'n
onderhoud met appellant by Van Eedens se kantore gevoer. Hy het hom

gevra vir die rekenkundige aantekeninge van die firma. Appellant het
geantwoord dat dit alles in die besit van die firma se ouditeur,
ene
mnr Bemont, was. Van Rooyen het Bemont gekontak en uitgevind dat hy
slegs 'n klein hoeveelheid dokumente en geen boeke gehad
het nie. Die
belangrikheid van hierdie getuienis – wat weer eens nie deur
appellant betwis is nie – is dat hy voorgegee
het dat al die
boeke en rekenkundige aantekeninge by Bemont was en nie in die
kantoor nie. Dit volg dat dit onmoontlik was dat
hulle uit die
kantoor gesteel kon gewees het. In ieder geval was sy bewering dat
die boeke en rekeningkundige aantekeninge by Bemont
was, vals. Om
sake te vererger, op 15 September 1995 besoek Van Rooyen weer die
kantore van Van Eedens en in 'n tweede verslag
berig hy as volg:

Op my vraag waar die
rekeningkundige aantekenige gehou was, neem mnr Albert van Eeden my
na sy kantoor en maak hy 'n kas aan die
regterkant van sy lessenar
oop, wat leeg is. Ek het onmiddellik gereageer en mnr Albert van
Eeden gevra waarom hy nie tydens my
vorige besoek in die kas gekyk
het toe ek hom gevra het of daar enige rekeningkundige aantekening in
die kantoor is nie. Mnr van
Eeden antwoord eers dat hy wel in die kas
gekyk het maar nadat ek hom verseker dat hy dit nie gedoen het nie,
antwoord hy dat hy
maar seker die kas vir die kurator gewys het.’
[14] Afgesien van Wilsenach se onbetwiste getuienis dat
daar geen diefstal kon gewees het nie, vra mens jou af wie anders as
die
appellant en sy vader enigsins belang sou gehad het in die firma
se rekenkundige boeke en aantekeninge vir die vyf of ses jaar wat

1995 voorafgegaan het. In sy hoofde van betoog in hierdie hof voer
appellant se advokaat aan dat afgesien van die rekeningboeke
wat weg
is, is daar ook 'n stel wette, hofverslae, rekenaars,
fotostaatmasjiene en drukkers gesteel is. Daar is geen getuienis
in
die rekord tot die effek nie en appellant het nêrens in sy
stukke aangevoer dat die goed weg is – (sien veral sy
brief van
18 September wat hierbo in para [9] aangehaal word). Dit opper egter
die vraag – as daar al die waardevolle goedere
in die kantore
was, waarom het die vermeende dief of diewe hulle nie gesteel nie?
[15] Die hele kwessie van verdwyning van die boeke moet
gesien word teen die agtergrond van die situasie wat die vennote van
Van
Eedens hulle destyds in bevind het. Deelgroei en Nedcor het hulle
mandaat beëindig en twee hofbevele verkry om Van Eedens te

verplig om meer as 'n miljoen rand aan hulle te betaal. ‘n
Dringende sekwestrasiebevel is teen hulle uitgereik. Die Orde
het in
die vorm van Van Rooyen begin navraag doen en ondersoek instel na
moontlike trusttekorte. In die lig hiervan was daar net
twee persone
wat kon baat uit die verdwyning van die boeke en dit was die
appellant en sy vader. Dit is ook betekenisvol dat appellant
die
aanbod van die hof benede om die vraag van die verdwyning van die
boeke na mondelingse getuienis te verwys nie wou opneem nie.
[16] 'n Prokureur wat doelbewus sy boeke verwyder en
verberg om te keer dat die Orde insae daartoe het en 'n valse
verduideliking
gee van waar die boeke is en in 'n aansoek om
hertoelating daarin volhard, is nie 'n geskikte persoon om te
praktiseer as prokureur
nie. Daarbenewens is daar nog die appellant
se gedrag op 4 September 1995. Volgens die onbetwiste getuienis,
terwyl die kantore
en bates van die praktyk van Van Eedens in die
hande van die kurator was, het appellant en sy vader ingebreek by die
kantore deur
die kettings te knip en gepoog om lêers te
verwyder. Sodanige wederregtelike optrede is 'n verdere rede waarom
appellant
nie hertoegelaat kan word nie.
[17] Laastens is daar op die stukke 'n vraagteken oor
die versekering wat die appellant aan die hof bied oor sy toekomstige
gedrag
indien hy hertoegelaat word. In sy funderende eedsverklaring
sê hy dat hy die boekhouding van die firma aan sy vader
oorgelaat
het en dat hy die litigasie en strafpraktyke behartig het.
Hy stel dit so:

Toe ek by die praktyk
betrokke was, het ek die litigasiepraktyk behartig en veral
ondervinding opgedoen in die strafpraktyk. Ongelukkig
het ek in
daardie tyd die kantoor administrasie, en meer bepaald rekenkundige
administrasie van die firma verwaarloos. Vanweë
die gemoedsrus
wat ek ervaar het uit hoofde van my vader se ervaring, het ek alles
as vanselfsprekend aanvaar en nie te alle tye
nougesette aandag gegee
aan my praktyk nie.’
In sy repliserende eedsverklaring sê hy die
volgende:

Daar was geen verkeerde
oorplasings of ongemagtigde of onverskuldigde betalings uit
trustfondse nie en nog minder was daar trusstekorte.
Ek was op hoogte
van die daaglikse metodes waarop die boekhouding van die fima gehou
is en ek kan die Agbare Hof die versekering
gee dat my kontrole
sodanig was dat ek onmiddellik sou geweet het indien daar enige
ongemagtigde of onverskuldigde betalings uit
trustfondse gemaak is. .
. . Ek weet my boekhouding was op datum en my boekhouding was in
orde.’
Hy gaan dan voort en gee die hof die versekering dat as
hy hertoegelaat word, hy sal sorg dat behoorlik boekgehou word. Uit
die
mond van 'n persoon wat eers beweer dat hy niks te doene gehad
het met die boekhouding en daarna dat hy noukeurig gesorg het dat
die
boeke in orde was, is sodanige versekering vals en onaanvaarbaar. Dit
is myns insiens 'n verdere bewys van appellant se onbevoegdheid
om as
prokureur te praktiseer.
[18] Om bogemelde redes kan die appèl nie slaag
nie. Dit is gebruiklik dat in hierdie tipe saak waar die appellant
nie slaag
nie, hy gelas word om die koste op die skaal soos tussen
prokureur en kliënt te betaal.
[19] Die appèl word van die hand gewys en
appellant word gelas om die eerste respondent se koste op die skaal
soos tussen
prokureur en kliënt te betaal.
……………………
.
P C COMBRINCK
APPÈLREGTER
VERSKYNINGS:
NAMENS APPELLANT: G H SWANEPOEL
NAMENS RESPONDENT: A T LAMEY
PROKUREURS:
NAMENS APPELLANT: BICCARI BOLLO MARIANO INC
PRETORIA
NAMENS RESPONDENT: ROOTH WESSELS MALULEKE
PRETORIA
KORRESPONDENTE:
NAMENS APPELLANT: LOVIUS-BLOCK
BLOEMFONTEIN
NAMENS RESPONDENT NAUDES
BLOEMFONTEIN
1
‘'n Hof kan, op aansoek ooreenkomstig
hierdie wet gedoen, iemand wat voorheen as prokureur toegelaat en
ingeskryf was en
van die rol verwyder of geskrap is, as prokureur
hertoelaat en herinskryf, indien –
(a) hy, na goedvinde van die hof, 'n geskikte en gepaste persoon is
om aldus hertoegelaat en heringeskryf te word; en
(b) die hof oortuig is
dat hy voldoen aan die bepalings van subartikel (1)(b)(ii).’