About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2010
>>
[2010] ZAGPPHC 47
|
|
Botes v Corenlius (57343/2008) [2010] ZAGPPHC 47 (15 June 2010)
SAFLII
Note:
Certain
personal/private details of parties or witnesses have been redacted
from this document in compliance with the law and
SAFLII
Policy
IN DIE HOË HOF
VAN SUID-AFRIKA
(
NOORD
GAUTENG HOË HOF, PRETORIA
)
SAAK
No. 57343/2008
DATUM:
15/06/2010
In
die saak tussen:-
PETRUS
JOHANNES BOTES
Eiser
en
JAN
CHRISTIAAN CORNELIUS
Verweerder
UITSPRAAK
Van
der Byl, Wn. R:-
Inleiding
[1] In hierdie saak eis
die Eiser, benewens die gewone kostebevel, van die Verweerder
betaling van ‘n bedrag van R200 000,
tesame met rente bereken
teen 15,5 persent per jaar vanaf datum van betekening van dagvaarding
tot datum van betaling.
[2] Soos blyk uit Eiser
se Besonderhede van Vordering is sy eis gegrond op ‘n bewering
-
(a)
dat hy en die Verweerder op of omtrent 6 Julie 2007 ‘n
mondelinge ooreenkoms aangegaan het ingevolge waarvan hy van
die
Verweerder ‘n vragmotor en sleepwa met registrasienommer LWP
671 GP sou koop (
paragraaf 3 van die
Besonderhede van Vordering
);
(b)
dat die verkoopprys daarvan R400 000 sou wees, dat hy ‘n
deposito van R200 000 op daardie voertuig sou betaal, dat die
balans
betaal sou word teen lewering, binne ‘n redelike tyd, deur die
Verweerder van ‘n padwaardigheidsertifikaat,
‘n
registrasiesertifikaat en alle ander dokumentasie wat nodig is vir
hom om registrasie van die voertuie in sy naam te kan
bewerkstellig
(
paragraaf 4 van die Besonderhede van
Vordering
);
(c)
dat hy die vereiste deposito op 12 Julie 2007 aan die Verweerder
betaal het (
paragraaf 5 van die
Besonderhede van Vordering
);
(d)
dat, soos blyk uit Aanhangsel A by die Besonderhede van Vordering,
die Verweerder betaling van die deposito erken het (
paragraaf
6 van die Besonderhede van Vordering
);
(e)
dat die Verweerder versuim het om die betrokke
padwaardigheidsertifikaat, registrasiesertifikaat en ander
dokumentasie aan
die Eiser te lewer (
paragraaf
7 van die Besonderhede van Vordering
);
(e)
dat die partye gedurende Augustus 2007 ooreengekom het om die
ooreenkoms om daardie rede te kanselleer (
paragraaf
8 van die Besonderhede van Vordering
);
(f)
dat die Verweerder, ongeag aanmaning, weier of versuim om die
deposito van R200 000 aan Eiser terug te betaal (
paragraaf
9 van die Besonderhede van Vordering
).
[3] In sy Verweerskrif -
(a) ontken die
Verweerder in effek dat hy op 6 Julie 2007 die voertuig met
registrasienommer LWP 671 GP besit het;
(b) erken die
Verweerder dat hy R200 000 van die Verweerder ontvang het, maar pleit
dat die bedrag ontvang is ten opsigte van
die voertuie vermeld in
Aanhangsel A by Eiser se Besonderhede van Vordering.
[4] Aanhangsel A by
Eiser se Besonderhede van Vordering lees soos volg:
“
Re
: Contract of sale between:
CFC Transport - Jannie
Cornelius
…
....................
ID
number
…
...................
and
P J Botes - ID number
The following trucks
have been purchased at the price of R400 000 per truck and trailer,
except the MAN truck and trailer which
was purchased at R375 000
1. 2535 Mercedes Benz
- registration no.
Trailer - registration
no.
2. Mercedes Benz
Trailer -
3. Mercedes Benz
Trailer -
4. MAN
Trailer -
A deposit of R200 000
has been made to CFC Transport account number 4066561678 held at ABSA
on 12 July 2007.
The balance on each
truck and trailer will be paid after completion of the roadworthy
certificate and receipt of the registration
papers.
CFC Transport hereby
certify that the (sic) all the above mentioned trucks with their
trailers are fully paid and that they do not
owe any financial
institution or any other party any outstanding amounts payable on the
abovementioned trucks and trailers.
It
is also understood and agreed by both parties that Mr P J Botes will
take over and continue with the existing contract and understanding
between CFC Transport and Reclamation Group.
”.
Getuienis van Eiser
[5] Dit blyk uit die
Eiser se getuienis -
(a) dat hy en die
Verweerder ‘n mondelinge ooreenkoms op 6 Julie 2007 gesluit het
welke ooreenkoms op 23 Julie 2007 skriftelik
bevestig is ingevolge
waarvan hulle ooreengekom het -
(i) dat hy drie
vragmotors, elk met sy eie sleepwa, teen R400 000 en ‘n vierde
vragmotor en sleepwa teen R375 000 van die
Verweerder sou koop
waarvan geeneen deur die partye by wyse van hul registrasienommers
geïdentifiseer is nie;
(ii)
dat hy ‘n deposito van R200 000 op die vier voertuie sou
betaal en die balans daarna by lewering van elke vragmotor
tesame met
‘n padwaardigheidsertifikaat en die tersaaklike registrasie
dokumente, welke deposito hy op 12 Julie 2007 in die
bankrekening van
die Verweerder se besigheid gestort het;
(iii) dat die Verweerder
die eerste van hierdie voertuie, blykbaar ‘n Mercedes Benz
voertuig wat die Verweerder op 6 Julie
2007 van die pad afgetrek het
sodat hy dit kon besigtig, binne sewe dae na betaling van die
deposito sou lewer;
(b) dat die Verweerder
hom op ‘n later tydstip meegedeel het dat hy net drie van die
voertuie kan verkoop aangesien die
vierde een aan sy moeder behoort;
(c) dat die Verweerder
hom op 7 Augustus 2007 verwittig het dat die voertuig reg is en dat
hy sal reël, as hy sy identiteitsdokumente
die volgende dag
bring, dat die voertuig vir ‘n padwaardigheidsertifikaat
getoets kan word en dit dan op sy naam geregistreer
kan word;
(d) dat hy daarop na
die Verweerder gery het waar hy gesien het dat dit die wit Mercedes
Benz is wat op die eerste dag aan hom
gewys is en waar hy opgemerk
het dat ‘n registrasieplaat met registrasienommer LWP 671 GP
daarop aangebring is;
(e) dat die Verweerder
hom egter die volgende dag geskakel het en hom meegedeel het dat hy
nie die voertuig se dokumente kan kry
nie;
(f)
dat die Verweerder hom later weer geskakel het en meegedeel het dat
die dokumente by die “
Reclamation
Group
” te Dunswart ingehandig is
as sekuriteit vir geld wat hulle geleen het en dat hy ‘n sekere
mev. Martie le Roux daar
kan skakel;
(g) dat hy mev. Martie
le Roux daarop geskakel het wat teenoor hom bevestig het dat daar
sekere dokumente is wat as sekuriteit
dien vir ‘n bedrag van
R85 000 wat Verweerder hulle geskuld het;
(h)
dat daar toe op 15 Augustus 2007 op sy aandrang ‘n
vergadering by die “
Reclamation
Group
” gereël is om te kyk
of hy die dokumente kan kry;
(i) dat dit by die
vergadering geblyk het dat daar wel ‘n bedrag van R85 000
is wat die Verweerder verskuldig was en
‘n verdere bedrag van
R175 000 is wat deur die Verweerder se seun geskuld word;
(j) dat hy daar in die
teenwoordigheid van die Verweerder na die inhoud van die leêr
gekyk het en gesien het dat slegs vier
lisensieskyfies daarin was van
voertuie met registrasienommers LWP 673 GP, LVB 570 GP, MYN 295 GP
en BWM 294 MP;
(k) dat die Verweerder,
nadat hy aan hom gesê het dat die voertuig wat hy op 7 Augustus
2007 by Verweerder se werkswinkel
besigtig het ‘n voertuig met
registrasienommer LWP 671 GP is, verduidelik het dat daardie
registrasienommer nie by die voertuig
hoort nie aangesien hy, vanweë
verskeie verkeersoortredings wat deur sy bestuurders gepleeg word,
een nommer by verskeie voertuie
gebruik het waarna hulle blykbaar in
taamlike onmin uitmekaar is;
(l) dat die Verweerder
hom op 17 Augustus 2007 geskakel en meegedeel het dat alles reg is,
maar as hy wou kanselleer, kan hy dit
maar doen waarop hy bevestig
het dat hy sou verkies om dit te kanselleer waarop hulle ooreengekom
het dat die Verweerder sy geld
binne 14 dae aan hom sou terugbetaal
het;
(m)
dat hy die Verweerder op 21 Augutus 2007 geskakel het en gesê
het dat hy sy prokureurs gaan kontak om die kansellasie
op skrif te
stel waarop hy die “
kansellasie
”,
soos hy dit gesien het, synde ‘n skrywe van prokureurs,
Malherbe Rigg & Ranwell Inc, aan die Verweerder gaan
oorhandig
het wat egter geblyk in effek ‘n aanmaning te wees dat die
bedrag van R200 000 binne 14 dae aan Eiser terug betaal
moet word;
(n) dat hy na 14 dae
niks van die Verweerder verneem het nie waarop hy sy huidige
prokureurs, Creighton Prokureurs, gevra het
om weer ‘n brief
aan hom te skryf wat hulle op 22 Oktober 2007 gedoen het waarin dit
uitdruklik aangetoon is dat hul ooreenkoms
gedurende Augustus 2007
gekanselleer is en terugbetaling van die bedrag van R200 000 binne
sewe dae van die Verweerder geëis
is;
(o) dat die Verweerder
op geeneen van hierdie skrywes gereageer het nie.
[6] Voorts blyk dit uit
die getuienis dat die telefoniese gesprekke tussen die Eiser en
Verweerder op 15 Augustus 2007 en 21 Augustus
2007 met behulp van die
Eiser se eggenote by wyse van Eiser se selfoon opgeneem is en waarvan
die transkripsie deel van die blootgelegde
dokumente uitmaak.
[7] Onder kruisverhoor
is dit aan Eiser gestel dat dit die Verweerder se weergawe is dat die
ooreenkoms tussen hulle was dat hy
drie voertuie, twee Mercedes Benz
voertuie en een MAN voertuig, aan Eiser sou verkoop en dat die
deposito sou wees om daardie voertuie
padwaardig te kry.
Verweerder se
getuienis
[8]
Die Verweerder het erken dat hy en die Eiser op 6 Julie 2007 ‘n
mondelinge ooreenkoms in verband met die verkoop van
vragmotors en
sleepwaens aangegaan het en dat hy op 23 Julie 2007 die skriftelike
ooreenkoms,
Aanhangsel A
by die Eiser se Besonderhede van Vordering aangeheg, maar het in
verskeie opsigte nie net van die Eiser se getuienis verskil nie,
maar
ook van die inhoud van Aanhangsel A by die Besonderhede van
Vordering.
[9] Soos blyk uit sy
getuienis is dit sy saak -
(a) dat hy in daardie
stadium 16 voertuie gehad het en die Eiser meegedeel het dat hy drie
daarvan wou verkoop en dat sy swaer,
ene, C F Viljoen, ook ‘n
vragmotor, ‘n Mercedes Benz 2535, gehad het om te verkoop;
(b) dat hy daarop, soos
die Eiser getuig het, twee van die voertuie aan die Eiser gewys, een
was ‘n Mercedes Benz 2633 met
registrasienommer LVB 570 GP wat
hy van die pad afgetrek het en die ander een ‘n MAN vragmotor
met registrasienommer BWM
294 MP wat in die werkswinkel was;
(c)
dat hulle daarop mondelings ooreengekom het dat Eiser daardie twee
voertuie en ‘n derde een, ook ‘n Mercedes Benz
2633, met
registrasienommer LWP 673 GP sou koop en dat hy ‘n kontrak met
die “
Reclamation Group
”
vir die vervoer van skroot materiaal sou oorneem;
(d) dat hy die Eiser
voor die keuse gestel het om die voertuie voetstoots te koop of dat
hy hulle deur die werkswinkel sou vat
waarop die Eiser laasgenoemde
keuse uitgeoefen het wat meegebring het dat nuwe bande op die
voertuie aangebring sou word, aan die
ratkas en enjins gewerk sou
word, die sleepwaens geel gesprei moes word en daar andersins na die
algemene toestand van die voertuie
gekyk sou word;
(e) dat hy, omrede die
Eiser nie die voertuie voetstoots wou koop nie, R200 000 deposito op
die drie voertuie van die Verweerder
aangevra het sodat sodra die
drie voertuie van tyd tot tyd beskikbaar en gelewer word die balans
op die onderskeie kooppryse bereken
sou word om een-derde van die
deposito van die betrokke koopprys af te trek;
(f) dat die eerste van
die voertuie, dit is die een met registrasienommer LVB 570 GP
so gou doenlik afgelewer sou word
terwyl die ander twee na so drie
tot vier maande afgelewer kon word;
(g) dat hy wel die
ooreenkoms, Aanhangsel A by Eiser se Besonderhede van Vordering,
geteken het, maar het verduidelik -
(i) dat daar vier
voertuie op aangedui is omrede die Eiser aanvanklik vier voertuie wou
koop, maar later gesê het dat hy
slegs geld het vir drie;
(ii) dat dit eintlik
geteken is as ontvangserkenning van die betaling van die R200 000;
(iii) dat hulle later
die registrasienommers van die voertuie sou inskryf omdat hy op
daardie datum nie die registrasienommers
kon onthou nie;
(iv) dat die eerste
voertuig wat daarin aangedui word, nie sy eiendom is nie, maar aan sy
swaer behoort en dat sy seun aan die
Eiser genoem het dat sy swaer
dit ook sou wou verkoop het.
[10] Wat betref die
gebeure wat op 7 Augustus 2007 en 15 Augustus 2007 plaasgevind het,
het die Verweerder getuig dat hy wel vir
die Eiser, klaarblyklik op 7
Augustus 2007, gesê het dat hy die eerste voertuig, volgens hom
die een met registrasienommer
LVB 570 GP, die volgende dag deur die
toets sou sit.
[11]
Op ‘n dag wat 15 Augustus 2007 kon gewees het, is hulle na
Mev. Martie le Roux om die dokument van die voertuig te gaan
kry. Die
dokumente was daar omdat sy seun aanvanklik die voertuie by hom wou
gekoop het en hy die dokumente daarheen geneem het
aangesien hy by
die “
Reclamation Group
”
geld daarvoor wou geleen het. Mev. le Roux het die dokumente vir die
Eiser gewys en sy wou nie die dokumente aan hom gee
nie waarop die
Eiser net sy kop geskud het en gesê het dat hy nie sy geld gaan
terug kry nie. Hy het toe vir hom gesê
dat hulle by die
ooreenkoms bly. Hy het toe gesê dat hulle saam na sy huis moet
gaan om die voertuie te identifiseer en dat
hy by die Polisie ‘n
verklaring sal gaan maak. Die Eiser het toe vir ‘n ent agter
hom aangery, maar het afgedraai en
hom nie tot by sy huis gevolg nie.
Hy het hom geskakel waarop hy vir hom gesê dat hy weer van hom
sal hoor.
[12] ‘n Ruk later
het die Eiser hom geskakel en gesê dat hy die ooreenkoms wou
kanselleer en sy geld wou terug hê
want hy het ander trokke
gekry.
[13] Hy het later die
prokureursskrywe ontvang waarin terugbetaling van die geld geëis
is, maar hy het besluit om nie daaraan
gehoor te gee nie, aangesien
hy gevoel het dat dit onregverdig is aangesien hy onnodige kostes
aangegaan het aan kommissies en
werk wat aan die voertuie verrig is
asook verlies aan inkomste in die tyd wat die voertuie gestaan het.
[14] Die Verweerder het
toegegee dat die Eiser na die voertuig kom kyk het, maar het bygevoeg
dat hy nie op daardie dag by die
huis was nie en dat as ‘n
voertuig oorgesprei word, word die nommerplate gewoonlik afgehaal. Sy
werktuigkundige wat intussen
oorlede is, moes, so het hy aangedui,
seker die verkeerde nommerplate op die voertuig teruggesit. Hy het
egter ontken dat die
Eiser by mev. Le Roux oor die voertuig met
registrasienommer LWP 671 GP gepraat het en dat hy vir hom sou gesê
het dat hy
een nommer vir verskeie voertuie gebruik as gevolg van
verkeersoortredings wat deur die bestuurders van sy voertuie gebruik
word.
[15] Dit blyk egter uit
die transkripsie van die telefoniese gesprek tussen die Eiser en die
Verweerder op 15 Augustus 2007 dat
die Verweerder die volgende
hieroor te sê gehad het:
“
En
hoekom hierdie ding hierdie nommerplate op het, kan ek onthou van een
van hulle se liksensie het verval of ek moes ‘n dringende
vrag
ry, ek kan nie presies onthou nie. Dit is nie reg nie, ek gaan nie
daarteen stry nie, dit is nie reg nie, maar sorry, dit
is ‘n
fout gewees. En daar gaat jy net mal, jy hardloop weg met die hele
ding
”.
Toe hy hieroor onder
kruisverhoor gekonfronteer is, het hy erken hy het dit gesê,
maar het bygevoeg dat hy dit nie bedoel
het nie. Volgens die
Verweerder het die Eiser die aand geskakel en hom meegedeel het dat
hy daar was en die nommer van die voertuig
gekry het waarop hy vir
hom gesê dat daardie nommer nie by daardie voertuig hoort nie.
[16] Die Verweerder het
erken dat die Eiser tydens ‘n gesprek wat op 17 Augustus 2007
kon plaasgevind het, gesê het
dat hy die ooreenkoms kanselleer
en hy het, alhoewel hy in sy hart gevoel het dit is nie reg nie, dit
beaam. Dit blyk dat hulle
toe ooreengekom het dat die Verweerder aan
die Eiser sy geld binne 2 weke sou terug gee.
Beoordeling van
pleitstukke en getuienis
[17] Uit die getuienis,
soos ek dit hierbo opgesom het, is dit duidelik dat daar geen geskil
tussen die partye is -
(a) dat die Eiser en
Verweerder op 23 Julie 2007 ‘n ooreenkoms aangegaan het ter
bevestiging van ‘n mondelinge ooreenkoms
wat op 6 Julie 2007
aangegaan is;
(b) dat dit, onder
andere, uit daardie ooreenkoms blyk -
(i) dat die Verweerder
vier vragmotors elk met sy eie sleepwa verkoop wat, behalwe vir die
feit dat drie Mercedes Benz voertuie
en een ‘n MAN voertuig is,
nie andersins geïdentifiseer is nie;
(ii) dat Eiser R400 000
vir elk van die Mercedes Benz voertuie en R375 000 vir die MAN
voertuig sal betaal;
(iii) dat die Verweerder
op 12 Julie 2007 ‘n deposito van R200 000 aan die Eiser betaal
het;
(iv)
dat die “
balance on
each truck and trailer will be paid after completion of of the
roadworthy certificate and receipt of the registration
papers
”
betaal sal word;
(c) dat een van die
Mercedes Benz voertuie eerste aan die Eiser gelewer sou word;
(d) dat op of omtrent
21 Augustus 2007 die Verweerder nog nie ‘n
padwaardigheidsertifikaat of registrasiedokument ten opsigte
van
daardie voertuig of enige van die ander voertuie gelewer het nie;
(e) dat hulle op 17
Augustus 2007 ooreengekom het, weliswaar in omstandighede waaroor
hulle met mekaar verskil, om die ooreenkoms
te kanselleer en dat die
Verweerder die deposito aan die Eiser binne 14 dae sou terugbetaal
welke ooreenkoms die Eiser nie gestand
gedoen het nie.
[18] Teen hierdie
agtergrond is daar ten behoewe van die Verweerder aangevoer dat die
saak om die volgende vrae wentel, naamlik
-
(a)
eerstens
,
die vraag of die Eiser, gesien die feit, so is dit aangevoer, dat hy
in die verhoor op ‘n verskillende ooreenkoms gesteun
het as
waarop hy in veral paragraaf 3 van sy Besonderhede van Vordering
steun, geregtig is op die regshulp wat hy in sy Besonderhede
van
Vordering vra;
(b)
tweedens
,
indien die Hof sou bevind dat die Eiser nietemin geregtig is om op
die “
true state of affairs
”
staat te maak, die vraag -
(i) of die ooreenkoms
tussen die partye regmatiglik gekanselleer is; en
(ii) of die deposito
van R200 000 terugbetaalbaar is.
[19] Ek handel
afsonderlik met elkeen van hierdie aspekte.
Aard van ooreenkoms
wat Eiser in Besonderhede van Vordering vermeld in vergelyking met
ooreenkoms waarvan hy in sy getuienis vermelding
gemaak het
[20] Wat betref die
eerste van hierdie aspekte blyk die Verweerder se saak na my oordeel
nie net ‘n letterknegtelike en enge
benadering van die
Besonderhede van Vordering te wees, maar ook ‘n opportunistiese
een te wees.
[21] Paragraaf 3 van die
Besonderhede van vordering lees soos volg:
“
On
or about 6
th
of July 2007and at Devon the Plaintiff acting personally and the
Defendant acting personally concluded an oral agreement in terms
whereof the Plaintiff purchased from the Defendant a horse and
trailer, the horse having registration number LWP 671 GP and the
trailer being a Copeland tipper trailer the further particulars of
which are unknown to the Plaintiff
.”
[22] Hierop het die
Verweerder soos volg gepleit:
“
2.1.
The contents of this paragraph are denied.
2.2.
The defendant in amplification hereto pleads that at the date as
alleged by the plaintiff, the defendant did not possess the
vehicle,
alleged by the plaintiff to have formed the basis of the alleged
agreement.
”
[23] Uit die pleit kom
dit nie voor dat die Verweerder die bestaan van die ooreenkoms ontken
nie en dat hy inderwaarheid net die
identiteit van die voertuig
ontken synde ‘n voertuig wat hy, volgens hom, ingevolge ‘n
skikking aan sy voormalige eggenote
gegee het.
[24] Dit kom duidelik na
vore as daar gelet word op sy pleit vervat in paragraaf 4 van sy
Verweerskrif waar hy op die bewerings
vervat in paragraaf 5 van die
Besonderhede van Vordering pleit.
[25] In paragraaf 5 van
die Besonderhede van Vordering beweer die Eiser soos volg:
“
5.
The Plaintiff complied with his obligations in terms of the
agreement and on the 12
th
of July 2007 the Plaintiff paid to the Defendant the sum of R200 000
by paying the amount into an amount nominated by the Defendant.
”.
[26] In antwoord hierop
pleit die Verweerder soos volg:
“
4.1.
The defendant admits having received R200 000 from the plaintiff,
and pleads that the said sum in respect of the vehicles
as set out on
Annexure ‘A’ to the plaintiff’s particulars of
claim.
4.2.
The defendant reiterates that the vehicle referred to by the
plaintiff in his particulars of claim never formed the basis
of the
agreement between the parties.
”
[27] Dit blyk duidelik
hieruit dat die Verweerder in effek erken dat daar ‘n
ooreenkoms tussen hom en die Eiser gesluit is
wat op vier voertuie
betrekking het, maar bloot aanvoer dat nie een van daardie voertuie
een was met registrasienommer LWP 671
GP.
[28] Dit word nog des te
meer duidelik as daar gelet word op paragraaf 6 van die Eiser se
Besonderhede van Vordering waarin hy
na die ooreenkoms Aanhangsel A
wat op 23 Julie 2007 gesluit is en waaruit blyk dat die ooreenkoms op
vier voertuie betrekking gehad
het.
[29] Wanneer daar nou na
die Eiser se getuienis gekyk word, blyk dit sy saak te gewees het
dat, alhoewel die ooreenkoms tussen
hom en die Verweerder, op vier
voertuie betrekking gehad het, hulle ooreengekom het dat die Eiser
vir eers een van die voertuie
sou lewer, dat hy ten opsigte van
daardie voertuig die R200 000 deposito sou betaal het, dat toe
hy daardie voertuig gaan
besigtig het dit met die registrasienommer
LWP 671 GP toegerus was en dat die ander voertuie mettertyd aan hom
gelewer sou word.
[30] Die Verweerder se
pleit en getuienis dat hy nie ‘n voertuig met registrasienommer
LWP 671 GP besit het nie, kan nie
afbreek doen aan die basis waarop
die Eiser sy eis gegrond het nie.
[31] Ek het geen twyfel
dat die Verweerder geweet het en uit die Besonderhede van Vordering
ook kon sien dat dit die Eiser se saak
is -
(a) dat hulle op 6
Julie 2007 ‘n ooreenkoms aangegaan het wat op 23 Julie 2007
skriftelik bevestig is ingevolge waarvan
die Verweerder vier voertuie
aan die Eiser verkoop het;
(b) dat die
registrasienommer van een van daardie voertuie LWP 671 GP was;
(c) dat die Eiser ‘n
deposito van R200 000 ten opsigte van een of meer van daardie
voertuie betaal het.
[32] Voorts wentel sy
hele saak eintlik rondom die bewering dat hul hele ooreenkoms by
onderlinge ooreenkoms gekanselleer is en
dat hy op grond daarvan die
deposito van R200 000 wat hy betaal het van die Verweerder terugeis.
[33] ‘n Submissie
is gemaak dat as die Eiser sy Besonderhede van Vordering en in die
besonder paragraaf 3 moes gewysig het
sodat die Verweerder ook sy
pleit kon gewysig het en bes moontlik ‘n teeneis kon instel.
[34] Ek kan in die lig
van my bevindinge baie moeilik sien wat in so ‘n wysiging
beliggaam kon gewees het, hoe ‘n pleit
daarop kon gelees het en
hoe dit opsigself die weg vir die Verweerder sou open om ‘n
teeneis te kon instel. Al wat die Eiser
miskien kon gedoen het was om
dit duidelik in paragraaf 3 uit te gespel het dat hulle op 6 Julie
2007 ‘n ooreenkoms vir die
verkoop van vier voertuie aangegaan
het, dat een van daardie voertuie eerste binne sewe dae aan hom
tesame met ‘n padwaardigheidsertifikaat
en registrasiedokumente
afgelewer sou word en dat een van daardie voertuie met
registrasienommer LWP 671 GP toegerus was. Die Eiser
sou waarskynlik
dan daarop gepleit het, soos hy reeds gedoen het, dat hy nie ‘n
voertuig met so ‘n registrasienommer
besit het nie. Hoe so ‘n
bewering hom kon beweeg het om ‘n teeneis in te stel, kan ek
nie begryp nie. Te oordeel aan
sy getuienis het hy gevoel dat die
kansellasie van die ooreenkoms onregverdig is aangesien dit hom skade
aangedoen het. As dit
nie vir sy opportunistiese benadering tot die
Eiser se saak was nie, kon hy, as dit miskien nie was nie vir die
feit dat hy, soos
ek aanstons sal aantoon, met die Eiser ooreengekom
het om die ooreenkoms te kanselleer en die geld terug te betaal, op
die pleitstukke
soos hulle staan ‘n teeneis ingestel het.
[34] Ek is gevolglik van
oordeel dat daar geen meriete in die submissie is dat Eiser in sy
Besonderhede van Vordering bloot op
‘n ooreenkoms aangaande die
verkoop van een voertuig steun nie en dat hy in sy getuienis op ‘n
ander of ‘n verskillende
ooreenkoms gesteun het nie
[35] Dit laat my met die
vraag of die partye ooreengekom het om die ooreenkoms te kanselleer
en dat die Verweerder die deposito
aan die Eiser sal terug betaal.
Die ooreenkoms om die
ooreenkoms te kanselleer en die terugbetaling van die deposito
[36] Na my oordeel staan
dit bo enige twyfel dat die partye by onderlinge ooreenkoms die
ooreenkoms gekanselleer het en dat die
Verweerder onderneem het om
die deposito binne 14 dae vanaf 17 Augustus 2007 aan die Eiser terug
te betaal.
[37] Die partye se
weergawes oor hoe hierdie ooreenkoms tot stand gekom het, verskil
egter van mekaar.
[38] Aan die eenkant, is
dit die Eiser se weergawe dat die Verweerder hom, na ‘n
onderonsie tussen hom en die Verweerder
op 15 Augustus 2007 oor die
lewering van die registrasiedokument van veral die eerste voertuig
wat afgelewer sou word, hom op 17
Augustus 2007 geskakel het en,
onder andere, aangedui het dat hy die ooreenkoms kan kanselleer as hy
so sou verkies, synde ‘n
aanbod wat hy dan ook aanvaar het.
Daarop het hulle, soos dit ook uit die getranskribeerde weergawe van
hul telefoniese gesprek
op 21 Augustus 2007, ooreengekom dat die
bedrag binne 14 dae in Eiser se bankrekening inbetaal sou word.
[39] Aan die anderkant
is dit die Verweerder se weergawe, dat die Eiser vir hom gesê
het dat hy die ooreenkoms wil kanselleer
en dat hy, alhoewel hy nie
in sy hart daarmee gelukkig was, dit so aanvaar het. Dit is eers
later nadat hy weer oor dit alles gedink
het, besluit het om nie die
deposito terug te betaal nie omrede hy dit as onregverdig beskou het
gesien die feit dat hy uitgawes
as gevolg van die transaksie
aangegaan het, soos R100 000 kommissie wat hy aan sy seun betaal het
en werk wat hy aan veral die
eerste voertuig gedoen het, soos die
vervanging van nuwe en versoolde bande en die opknapping van die
ratkas en enjin.
[40] Vir sover die
Verweerder agterna, nadat hy tot die kansellasie van die ooreenkoms
en terugbetaling van die deposito ingestem
het, besluit het om die
deposito nie terug te betaal nie omrede hy dit as onregverdig beskou
het, is na my oordeel geen verweer
teen die Eiser se Eis nie. Deur
dit te doen, het hy eenvoudig, sonder om ‘n eis of teeneis teen
die Eiser in te stel, die
reg in sy eie hande geneem.
[41] Dit maak nie saak
of die deposito vir een of, soos die Verweerder beweer, drie voertuie
betaal is nie, aangesien die hele
ooreenkoms tussen hulle by
ooreenkoms gekanselleer is.
[42] Afgesien van
voorgaande oorwegings, moet ek aandui dat die Verweerder my in vele
opsigte as gevolg van, onder andere, onlogiese,
vae en ontwykende
antwoorde, nie as ‘n goeie en geloofwaardige getuie beïndruk
het nie, maar ek vind dit nie nodig nie
om in die lig van die
gevolgtrekking wat ek bereik het verder daarmee te handel nie.
Koste
[43] Dit is ten behoewe
van die Verweerder aan die hand gedoen dat ek by die oorweging van ‘n
gepaste kostebevel die benadelende
posisie voor oë moet hou
waarin die Eiser die Verweerder geplaas het as gevolg van sy
gebrekkige pleitstukke. Ek stem nie
saam met hierdie submissie nie.
Na my oordeel was die Verweerder in geen benadeelde posisie nie.
Trouens, na my oordeel was hy
nie as gevolg van sy opportunisme
eenvoudig onnodig obstruktief. Na my oordeel behoort die koste die
uitslag van die saak te volg.
[44] Bygevolg is ek van
oordeel dat die Eiser ‘n saak vir die terugbetaling van die
deposito van R200 000 uitgemaak het.
Om voorgaande redes word
vonnis soos volg ten gunste van die Eiser gegee:-
1.
Betaling aan die Eiser van ‘n bedrag van R200 000.
2.
Rente op die bedrag van R200 000 bereken teen 15,5 persent per jaar
vanaf datum van betekening van die dagvaarding tot datum van
betaling.
3.
Koste van die geding.
...............................
P C VAN DER BYL
WAARNEMENDE REGTER VAN
DIE HOË HOF
NAMENS DIE EISER ADV A
P BRUWER
In opdrag
van: CREIGHTON PROKUREURS
p/a A L MAREE ING
Bronkhortststraat 79
Groenkloof
PRETORIA
Verw: B075/BC/tdr
Tel: (011) 892 3758
NAMENS
DIE VERWEERDER
ADV
G BEYTEL
In opdrag van: KRUGER
& OKES PROKUREURS
Verw: C1889/FM/bj
Tel: (011) 814 3444
p/a H M BOTHA
Suite 202
Waterkloof Country
Gardens
Brooklyn
PRETORIA
DATUM AANGEHOOR 17 en
18 Mei 2010
UITSPRAAK GELEWER 15
Junie 2010