About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2010
>>
[2010] ZAGPPHC 551
|
|
I.A.M v M.N.M en n Ander (22630/2009) [2010] ZAGPPHC 551 (16 April 2010)
SAFLII
Note:
Certain
personal/private details of parties or witnesses have been
redacted from this document in compliance with the law
and
SAFLII
Policy
IN DIE
NOORD-GAUTENG HOË HOF, PRETORIA
(REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA)
Saaknommer:
22630/2009
Date: 16 April 2010
In die saak tussen:
I[...]
A[...]
M[...]
..................................................................................................................................
Applikante
en
M[...]
N[...]
M[...]
.....................................................................................................................
Eerste
respondent
KPMG
SERVICES (EDMS)
BPK
......................................................................................
Tweede
respondent
Aangehoor op 15
Maart 2010
Uitspraak afgegee op
16 April 2010
UITSPRAAK
AJ BAM WR
Inleiding
[1] Die applikante
en die eerste respondent is op 18 April 2007, ingevolge 'n bevel van
hierdie hof, waarby 'n skikkingsooreenkoms
tussen die partye ingelyf
is, geskei.
[2] Op 17 April 2009
loods die applikante die onderhawige aansoek teen die eerste
respondent en vra vir die volgende regshulp:
dat die eerste
respondent skuldig bevind word aan minagting van die hof;
dat die eerste
respondent gevonnis word tot 'n periode van drie maande tronkstraf,
alternatiewelik sodanige tydperk en op sodanige
terme as wat die hof
mag goedvind;
dat die eerste
respondent gelas word om alle tersaaklike stappe te neem om die
tweede respondent ('n maatskappy wat forensiese
ondersoeke doen) in
staat te stel om die omvang van die eerste respondent se boedel te
bepaal, soos uiteengesit in die skikkingsooreenkoms
en aanhangsels
daartoe, gedateer 18 April 2007; en
dat die eerste
respondent gelas word om die koste van aansoek te betaal op 'n
prokureur-en-kliëntskaal.
[3] Ter
ondersteuning van hierdie regshulp voer die applikante in haar
funderende verklaring aan dat die eerste respondent willens
en wetens
die voormelde hofbevel minag, deurdat hy sekere bepalings van die
bevel glad nie nagekom het nie, of slegs gedeeltelik
en/of laat
daaraan voldoen het. Die beweerde nienakoming van die eerste
respondent se verpligtinge ingevolge die bepalings van
die hofbevel
het hoofsaaklik te doen met die niebetaling van sekere bedrae,
insluitende onderhoud, huispaaiemente en ook mediese
dekking van die
applikante.
[4] In sy
opponerende verklaring betwis die eerste respondent dat hy enigsins
die hofbevel geminag het en voer aan dat as gevolg
van sy swak
finansiële situasie, hy nie daartoe in staat was sy finansiële
verpligtinge na te kom nie. (Sien p 95, par
12.5.) Die eerste
respondent se situasie en optrede was duidelik, soos dit uit sy
opponerende verklaring geblyk het, en hy het
volstaan daarmee dat hy
nie in staat was om sy finansiële verpligtinge na te kom of
altyd stiptelik na te kom nie.
[5] Op 10 Desember
2009 (voor VICTOR R) is hierdie aansoek na die bestrede rol van
hierdie week (15 Maart 2010) uitgestel nadat
die partye sodanig
ooreengekom het. Beide partye was verteenwoordig.
[6] Op 15 Maart
2010, met betrekking tot die reelings vir die plasing van die sake op
die hofrol die week, kon mnr A H Bosman SC,
wat voorheen skynbaar vir
die eerste respondent verskyn het, geen aanduiding gee dat hy nog
opdrag gehad het om namens die eerste
respondent te verskyn nie. Mnr
Els het aangedui dat hy wel opdrag het om namens die applikante te
verskyn. Op 18 Maart 2010, ten
tye van die roep van die saak, was
daar gevolglik slegs regsverteenwoordiging van die applikant deur mnr
Els. Daar is egter 'n
kennisgewing van onttrekking van die eerste
respondent se prokureurs, gedateer 10 Maart 2010, op die hoflêer
geplaas. Uit
die geskiedenis van hierdie aansoek, het dit vir my
duidelik geblyk dat die eerste respondent bewus was daarvan dat
hierdie aansoek
hierdie week voor hierdie hof sou dien, aangesien hy
ook meegedoen het aan die skikkingsooreenkoms wat deel van die hof se
bevel
op 10 Desember 2009 gemaak is.
[7] Ten einde te kan
slaag met 'n aansoek soos in die onderhawige geval, moet daar aan die
volgende vereistes voldoen word:
Daar moet 'n
hofbevel wees, wat die betrokke party beveel om iets te doen of nie
te doen nie;
die betrokke party
moet bewus wees van sodanige bevel; en
die
betrokke party moes die hofbevel opsetlik en
mala
fide
nie
nagekom het nie.
[8]
In
Fakie v CCII
Systems (Pty) Ltd
[2006] ZASCA 52
;
2006
(4) SA 326
(HHA) 333, het CAMERON AR (soos hy toe was) die volgende
toets vir minagting van 'n hofbevel in 'n siviele aangeleentheid
ondersteun:
"[9]
The test for when disobedience of a civil order constitutes contempt
has come to be stated as whether the breach was committed
'deliberately and
mala
fide'
[met
verwysing na vorige gesag]. A deliberate disregard is not enough,
since the non-complier may genuinely, albeit mistakenly,
believe him
or herself entitled to act in the way claimed to constitute the
contempt. "
[9] CAMERON AR het
verder soos volg bevind (op 334-335):
"[12]
These observations bear directly on the main question of principle in
the appeal, on which our approach to the facts
it presents must
depend. This is whether civil contempt can be established when
reasonable doubt exists as to any of the requisites
of the crime. The
pre-constitutional approach to proof was that, once the enforcer
established that the order had been granted,
and served on or brought
to the alleged contemnor's notice, an inference was drawn that
non-compliance was wilful and
mala
fide,
unless
the non-complier established the contrary."
[10] Met verwysing
na die drie vereistes wat in paragraaf [2] hierbo verskyn, het die
geleerde regter die volgende bevind (op 338-339):
"[23]
... Once the three requisites mentioned have been proved, in the
absence of evidence raising a reasonable doubt as to
whether the
accused acted wilfully and
mala
fide
,
all the requisites of the offence will have been established. What is
changed is that the accused no longer bears a legal burden
to
disprove wilfulness and
mala
fides
on
a balance of probabilities, but to avoid conviction need only lead
evidence that establishes a reasonable doubt."
[11]
Alvorens hierdie hof die bevinding kan maak dat die eerste respondent
hom wel skuldig gemaak het aan minagting van die hof,
moet hierdie
hof kan bevind dat die feite bo redelike twyfel dui op die skuld van
die eerste respondent, welke skuldvorm opset
is met gepaardgaande
kwaadwilligheid. Sou die weergawe van die eerste respondent in die
onderhawige geval sodanig van aard wees
dat bevind behoort te word
dat sy w'eergawe, as synde verontskuldigend. redelik moontlik waar
is, kan hy nie aan minagting van
die hof skuldig bevind word nie.
Sien in hierdie verband
S
v Van Aswegen
2001
(2) SASV 97 (HHA) en 5 v
Trainor
2003
(1) SASV 35 (HHA).
Die feite
[12] Die partye het
voor die egskeiding ooreengekom dat die tw
r
eede respondent
aangewys sou word om ’n bepaling te maak van die eerste
respondent se boedel. Dit was gemenesaak dat die skikkingsooreenkoms
wat ’n bevel van die hof gemaak is. daarna verw'ys het dat die
eerste respondent beveel is om die koste van die ondersoek
van die
tweede respondent te dra. Ten tye van die aangaan van die
skikkingsooreenkoms, w'as daar egter geen bedrag vermeld met
betrekking tot die koste van die tweede respondent nie.
[13] In sy
opponerende verklaring, in antwoord op die bewerings van die
applikante. meld die eerste respondent dat hy en sy prokureur
na die
egskeiding die tweede respondent genader het met betrekking tot die
uitvoering van die tweede respondent se mandaat wat
die ondersoek van
die eerste respondent se boedel betref. Tydens hierdie besoek, het
die eerste respondent vasgestel dat, alvorens
die tweede respondent
met die ondersoek sou begin, 'n deposito van R50.000.00 aan die
tweede respondent betaal moes word. Die uiteindelike
koste van
sodanige ondersoek sou skynbaar meer as R100.000.00 beloop. (Sien p
82, par 5 en p 88, par 5.3 en 5.4 van die eerste
respondent se
opponerende verklaring.)
[14] Die eerste
respondent volstaan. wat die rede betref waarom hy nie die R50,000.00
of enige bedrag aan die tweede respondent
betaal het nie. by die
blote stelling dat hy nie fmansieel daartoe in staat was nie. Die
eerste respondent het in geen stadium,
in sy opponerende verklaring,
enige uiteensetting gegee van sy inkomste en uitgawes of sy bates en
laste nie. Die eerste respondent
het wel verwys na sekere bedrae wat
hy verskuldig sou wees aan onder andere die Suid-Afrikaanse
Inkomstediens en ander skuldeisers.
[15] Dit was verder
gemenesaak dat die eerste respondent ook ander onderhoudspligte
teenoor die applikante gchad het, soos dit deel
gemaak is van die
hofbevel op die dag van die egskeiding. Hierdie onderhoudspligte het
ingesluit dat die eerste respondent die
applikante se
verbandpaaiement van R9,757.32 moes betaal, asook dat hy 'n bedrag
van R12,000.00 as onderhoud van die applikante
en hul minderjarige
dogter moes betaal, en dat die eerste respondent verder die applikant
deur sy mediese fonds gedek sou hou.
Dit was verder gemenesaak dat
die eerste respondent op verskeie geleenthede oor die afgelope aantal
jare voormelde bedrae of laat,
of gedeeltelik nie betaal het nie, of
dat die bedrae met betrekking tot die verbandpaaiement, as gevolg van
onvoldoende fondse,
na sy rekening teruggeskuif is.
[16] Die eerste
respondent het, ter verduideliking van die probleme met betrekking
tot die betaling van die voormelde bedrae, dit
kort en bondig gestel
dat hy nie finansieel in staat was om betyds en/of voldoende
voorsiening vir die betaling van die bedrae
te maak nie. Hy het dit
toegeskryf aan 'n kontantvloeitekort wat hy ondervind het na
aanleiding van 'n probleem in die besigheid
wat hy bedryf het.
[17] Wat betref die
R12,000.00 wat die eerste respondent as onderhoud aan die applikante
moet betaal, is hierdie bedrag in 'n stadium,
toe die partye se
dogter by hom kom inwoon het, verminder na R6,000.00 per maand, welke
bedrag die eerste respondent van toe af
as onderhoud aan die
applikante betaal het.
[18] Wat betref die
probleme met die mediese dekking, was die applikante verplig om self
mediese dekking te verkry nadat die eerste
respondent versuim het om
die mediese fonds waarop die applikante aanvanklik geplaas moes
gewees het, voldoende by te hou.
[19] In die lig
daarvan dat die eerste respondent nie in sy opponerende verklaring
enige aanduiding gee van wat sy inkomste en uitgawes
is nie, is dit
vir hierdie hof onmoontlik om objektief te kan bepaal of die eerste
respondent wel in staat was om die bedrae wat
hy ingevolge die
hofbevel wat gemaak is, te betaal of nie.
[20] Tydens die
aanvang van hierdie verhoor, het mnr Els namens die applikante aan my
'n verdere beëdigde verklaring opgehandig
van die applikante,
wat ek vir maklike verwysingsdoeleindes "IAM" met die datum
15 Maart 2010 gemerk het. Volgens die
inhoud van paragraaf 2 van
vermelde verklaring blyk dit dat die partye op twee vorige
geleenthede, wel voor die hof was met hierdie
aangeleentheid. Die
eerste datum was 15 Oktober 2009 en die tweede datum 10 Desember
2009. Op elkeen van hierdie geleenthede, het
die partye 'n
skikkingsooreenkoms aangegaan, wat 'n bevel van die hof gemaak is toe
die sake onderskeidelik uitgestel is na Desember,
en op die laaste
geleentheid vir verhoor na hierdie week op hierdie hof se rol.
[21] In vermelde
verklaring deur die applikante, beweer sy (op p 2, par 3 daarvan) dat
die eerste respondent sekere verpligtinge
wat hy ingevolge die
bovermelde hofbevel moes nagekom het, nie aan voldoen het nie. Dit
sluit in 'n bedrag van R33.000.00 wat hy
moes betaal met betrekking
tot die verbandpaaiemente van die applikante, waarvan hy slegs
R30,000.00 betaal het; die verbandpaaiemente
van R9,757.32 elk vir
die maande van Januarie, Februarie en Maart 2010, wat die eerste
respondent ook nie betaal het nie; en die
bedrag vir die onderhoud
van R6,000.00 per maand vir die maande Januarie, Februarie en Maart
2010. Uit die twee hofbevele wat na
aanleiding van voormelde
skikkingsooreenkomste gemaak is, waarna ek reeds hierbo verwys het,
blyk dit duidelik dat daar regtens
'n plig op die eerste respondent
gerus het om voormelde bedrae te betaal.
[22] Benewens die
eerste respondent se opponerende verklaring waarin die eerste
respondent toegee dat hy sekere bedrae laat betaal
het of gedeeltelik
nie betaal het nie as gevolg van die feit dat hy finansieel nie
daartoe in staat was nie, is daar geen ander
verduideliking voor
hierdie hof met betrekking tot die eerste respondent se beweerde
versuim soos dit in die verklarings van die
applikante na verwys word
nie.
[23]
Die eerste vraag wat ontstaan met betrekking tot die applikante se
aansoek in die kennisgewing van mosie dat hierdie hof moet
bevind dat
die eerste respondent hom skuldig gemaak het aan minagting van die
hof, is op welke getuienis voor hierdie hof regtens
kan staatmaak om
te besluit of die eerste respondent hom aan sodanige beweerde
minagting skuldig gemaak het of nie. In hierdie
verband moet daar ag
geslaan word op die riglyne in
Fakie
NO supra
(op
344-345, par [42]):
"(d)
But,
once the applicant has proved the order, service or notice, and
non-compliance, the respondent bears an evidential burden in
relation
to wilfulness and
mala
fides
:
Should the respondent fail to advance evidence that establishes a
reasonable doubt as to whether non-compliance was wilful and
mala
fide
,
contempt will have been established beyond reasonable doubt."
[24] Ek is van
mening dat wat betref die kennisgewing van mosie met betrekking tot
die vraag na die minagting van die hofbevel wat
op die dag van die
egskeiding gemaak is, hierdie hof wel kan staatmaak op die funderende
verklaring van die applikante en die opponerende
verklaring van die
eerste respondent. Ek sou slegs op die applikante se repliserende
verklaring kon staatmaak indien bevind kan
word dat die eerste
respondent verplig was, na aanleiding van die inhoud van die betrokke
repliserende verklaring van die applikante,
om daarop te antwoord ten
einde homself te verweer teen die bewerings van die applikante. Die
bewerings van die applikante in haar
repliserende verklaring sou na
my mening moontlik ook 'n basis kon vorm vir 'n tweede aansoek met
betrekking tot 'n bevel van minagting
soos die onderhawige. Die
enigste getuienis wat ek gevolglik in ag kan neem met betrekking tot
die regshulp wat die applikante
aanvra, is soos dit inderdaad verskyn
in die funderende en opponerende verklarings van die partye.
[25] Dit blyk in
ieder geval uit die applikante se repliserende verklaring dat die
bewering met betrekking tot die eerste respondent
se versuim om aan
die hofbevel te voldoen, basies dieselfde is soos dit uiteengesit is
in die funderende verklaring en dat, op
die waarskynlikhede, die
eerste respondent se weergawe en verweer in daardie verband ook
daarop sal neerkom dat hy nie fmansieel
in staat was nie om enige van
die bedrae wat hy nie reeds betaal het, te betaal.
[26] Die eerste
respondent se versuim om in sy opponerende verklaring 'n staat van
bates en laste en 'n staat van inkomste en uitgawes
voor die hof te
lê, asook om 'n verduidelik aan te voer presies van wat sy
probleme is met betrekking tot die nienakoming
van die tersaaklike
hofbevele, plaas hierdie hof in 'n situasie waar daar geen getuienis
deur die eerste respondent aangevoer word
wat enigsins 'n basis bied
vir sy weergawe dat hy, soos hy dit gestel het, nie fmansieel in
staat was om die bepalings van die
betrokke hofbevele na te kom nie.
[27]
Op die waarskynlikhede blyk dit dat die eerste respondent wel 'n
vermoënde man was en waarskynlik nog steeds is met betrekking
tot die waarde van die eiendom in Mooikloof. Hierdie situasie
per
se
is
waarskynlik 'n relevante faktor om te oorweeg indien alle feite in
daardie verband voor die hof is.
[28] Die eerste
respondent het baie duidelik nie daarin geslaag om enigsins enige
verweer, of weergawe, wat daarop dui dat sy onvermoë
om die
hofbevele wat ter sprake is na te kom, nie ten minste redelik
moontlik waar is nie, op rekord te plaas nie, plaas hierdie
hof in
die situasie waarin slegs een bevinding gevolglik reg kan wees, en
dit is dat daar bevind behoort te word dat die applikante
haar saak
bo redelike twyfel bewys het. Gevolglik is die bevinding dat die
eerste respondent hom wel skuldig gemaak het aan minagting
van die
hof, deurdat hy nie die bepalings van die skikkingsooreenkomste, wat
bevele van die hof gemaak is, ingevolge die voormelde
bevele nagekom
het nie. In die omstandighede is ek, na oorweging van die
omstandighede, nie bereid om 'n swaarder kostebevel as
die gewone
kostebevel teen die eerste respondent uit te reik nie.
Bevel
Gevolglik maak ek
die volgende bevel:
1. Die eerste
respondent word skuldig bevind aan minagting van die hofbevele wat
tydens die egskeidingsbevel en daarna deur die
hof verleen is.
2. Die eerste
respondent word gevonnis tot drie maande gevangenisstraf, wat in
geheel opgeskort word op voorwaarde dat die eerste
respondent voldoen
aan al die bepalings van die voormelde hofbevele voor of op 1 Mei
2010.
3. Die eerste
respondent word beveel om die koste van hierdie aansoek te dra.
AJ BAM
WAARNEMENDE REGTER
Namens
die applikante:
Advokaat:
A
P J Els
In
opdrag van:
Le
Roux van Niekerk Prokureurs
Namens die eerste
respondent:
Geen verskyning