Minister van Polisie v Van der Vyver (861/2011) [2013] ZASCA 39 (28 March 2013)

82 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Kwaadwillige vervolging — Aksie gebaseer op onjuiste verklarings — Respondent aangekla vir moord, later onskuldig bevind — Respondent eis skadevergoeding van Minister van Polisie op grond van kwaadwillige vervolging — Eerste verklaring van polisie nie bewys dat kousale verband bestaan tussen verklaring en vervolging nie — Tweede verklaring nie bewys dat animus iniuriandi teen respondent bestaan het nie — Grondwetlike eis vir skadevergoeding ook onsuksesvol — Appèl slaag, bevel van hof a quo tersyde gestel.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2013
>>
[2013] ZASCA 39
|

|

Minister van Polisie v Van der Vyver (861/2011) [2013] ZASCA 39 (28 March 2013)

Links to summary

DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
UITSPRAAK
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer: 861/2011
In
die saak tussen:
DIE MINISTER VAN POLISIE
....................................................................
APPELLANT
en
FREDERIK
BAREND VAN DER VYVER
...............................................
RESPONDENT
Neutrale
sitering:
Die Minister van Polisie v Van der Vyver
(861/2011)
[2013] ZASCA 39
(28 Maart 2013).
Coram:
Brand, Leach, Theron,
Majiedt en Pillay ARR
Aangehoor: 7 March 2013
Gelewer: 28 March 2013
Samevatting: Kwaadwillige
vervolging – aksie gebaseer op twee onjuiste verklarings deur
lede van die SAPD – ten aansien
van eerste verklaring –
bevind dat kousale verband tussen verklaring en respondent se
vervolging nie bewys is nie –
ten aansien van tweede verklaring
bevind dat
animus iniuriandi
nie bewys is nie –
grondwetlike eis vir skadevergoeding ook onsuksesvol.
________________________________________________________________
BEVEL
________________________________________________________________
Op appèl van:
Wes-Kaapse
Hooggeregshof, Kaapstad (Veldhuizen R as hof van eerste instansie):
1. Die appèl slaag met koste
insluitende die koste van twee advokate.
2. Die bevel van die hof a quo word
ter syde gestel en vervang met die volgende:

Eiser se eis
word van die hand gewys met koste, insluitende die koste van twee
advokate en die kwalifiserende gelde van Dr L Liebenberg,
mnr
F Maritz en mnr J A Bierman.’
________________________________________________________________
UITSPRAAK
________________________________________________________________
BRAND AR (LEACH, THERON, MAJIEDT en
PILLAY ARR stem saam)
:
[1] Hierdie saak het van meet af aan
die openbare mening aangegryp, waarskynlik omdat 'n jong lewe wat
soveel belofte ingehou het
so wreed, tragies en sinneloos beëindig
is, en die impak op 'n ander jong lewe, synde dié van die
respondent, so ingrypend
was. Op 16 Maart 2005 is mej Inge Lotz (die
oorledene), 'n jong honneursstudent, op brutale wyse in haar woonstel
op Stellenbosch
aangeval en gedood. Op 15 Junie 2005 is die
respondent, wat in 'n vaste verhouding met die oorledene was, in
hegtenis geneem op
aanklag dat hy die moordenaar was. Op dieselfde
dag is hy op borgtog vrygelaat. Verskeie versoeke van die respondent
se regsverteenwoordigers
aan die Direkteur van Openbare Vervolging,
Wes-Kaap (DOV) om die aanklagte te laat vaar, was vrugteloos.
Gevolglik is die respondent
op 12 Februarie 2007 voor Van Zyl R en
twee assessore van moord aangekla. Die verhoor het met onderbrekings
voortgeduur tot 29
November 2007 op welke datum die respondent
onskuldig bevind is.
[2] Voortspruitend hieruit het die
respondent die appellant as Minister verantwoordelik vir die
Suid-Afrikaanse Polisiediens (die
SAPD), in die Wes-Kaapse
Hooggeregshof, Kaapstad aangespreek vir skadevergoeding op grond van
kwaadwillige vervolging. By die aanvang
van die verhoor het
Veldhuizen R op versoek van beide partye gelas dat die geskilpunte
rakende die appellant se aanspreeklikheid
op die meriete ter aanvang
bereg moes word, terwyl die kwantum van respondent se beweerde skade
sou oorstaan vir latere beregting.
Aan die einde van die aanvanklike
verhoor het Veldhuizen R die meriete in die guns van die respondent
beslis. Bygevolg het hy gelas
dat die appellant aanspreeklik is vir
sodanige skade as wat die respondent mag bewys voortgevloei het uit
sy vervolging. Die huidige
appèl teen hierdie beslissing is
met die verlof van hierdie hof. Geriefshalwe verwys ek vervolgens na
die verrigtinge voor
Van Zyl R as ‘die strafsaak’ en na
dié voor Veldhuizen R – wat aanleiding gegee het tot die
onderhawige
appèl – as ‘die siviele saak’.
[3] As basis vir sy bewering dat die
polisie kwaadwillig die vervolging teen hom aangestig het, het die
respondent in sy besonderhede
van vordering gesteun op beweerde
opsetlike wanvoorstellings deur lede van die SAPD teenoor die DOV met
verwysing na drie aspekte,
synde:
(a) Die voorwerp waarvan 'n
vingerafdruk van die respondent afkomstig was.
(b) Die voorwerp waarmee die
noodlottige kopwonde aan die oorledene toegedien is.
(c) Die verbintenis tussen ‘n
bloedmerk op die oorledene se badkamervloer en 'n sportskoen van die
respondent.
[4] Die geskilpunte voortspruitend uit
hierdie bewerings is beter verstaanbaar teen die agtergrond van die
onderliggende feite waarvan
ek vervolgens 'n beknopte uiteensetting
gee. In die vroeë oggendure van 17 Maart 2005 is die liggaam van
die oorledene in
haar woonstel aangetref. Volgens alle aanduidings
het sy gesterf in 'n gewelddadige aanval waarin sy verskeie wonde
toegedien is,
veral aan haar kop en haar bors. In teenstelling met
hierdie brutale geweld het sy blykbaar onmiddellik voor die aanval op
haar
rusbank gesit en na 'n Digitale Videoskyf (algemeen bekend, ook
in Afrikaans, as 'n DVD) op haar televisie gekyk. Daar was geen

tekens van gedwonge toegang tot die oorledene se woonstel nie. Sy was
geklee in 'n bloes en 'n klein slaapbroekie. Hieruit is die
afleiding
gemaak dat sy haar aanvaller goed geken het, omdat sy die persoon
moes binnegelaat het terwyl sy skamel gekleed was en
daar rustig
voortgegaan het om na ‘n DVD te kyk. Daar was niks uit die
woonstel vermis nie. Artikels van waarde soos 'n skootrekenaar
en 'n
selfoon is oop en bloot in die woonstel aangetref. Die enigste
vermiste items was 'n mes en 'n afstandbeheerder wat die aanvaller

nodig gehad het om die woonstelkompleks te verlaat. Dit het die
afleiding laat ontstaan dat roof nie die oogmerk van die aanval
was
nie. Gedurende die vroeë oggendure van 17 Maart 2005, pas nadat
die liggaam van die oorledene aangetref is, het 'n span
ondersoekers
van die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum (PKRS) van die Paarlse
Polisie die misdaadtoneel ondersoek. In die proses
het een van die
lede van die span, konstabel Swartz, volgens sy getuienis, met twee
folienstrokies, vingerafdrukke gelig van 'n
DVD-houer (folien 1) en
'n drinkglas (folien 2) wat in die oorledene se woonstel was.
[5] Bykans 'n maand later, op 12 April
2005, is vingerafdrukke van die respondent en sy vriende geneem. Dit
was 'n roetine-prosedure
wat vir doeleindes van uitskakeling beoog
is. Later daardie dag is egter vasgestel dat die respondent se
vingerafdrukke ooreenstem
met ‘n vingerafdruk op folien 1 wat,
volgens konstabel Swartz, van die DVD-houer afkomstig was. Indien
Swartz se weergawe
waar was, sou dit beteken dat die respondent in
die oorledene se woonstel was na 3 nm van 16 Maart 2005 omdat dit die
tyd was toe
sy die DVD by ‘n videowinkel op Stellenbosch gehuur
het. Dit sou fataal wees vir die respondent se alibi. Hiervolgens het

hy gedurende die oggend van 16 Maart 2005 van die oorledene afskeid
geneem en toe, nadat hy 'n klas bygewoon het by die universiteit,
na
sy werkplek by Ou Mutual in Pinelands, Kaapstad, vertrek waar hy die
res van die dag deurgebring het. Gevolglik het hy, volgens
hom, die
oorledene nooit weer lewend gesien nie. Op 14 April 2005 het
konstabel Swartz onder eed bevestig dat hy die betrokke vingerafdruk

van die DVD-houer gelig het. Van toe af het hierdie vingerafdruk 'n
sentrale rol in die polisieondersoek teen die respondent gespeel.

Onder meer is hierdie getuienis aangevoer ter ondersteuning van 'n
aansoek vir 'n lasbrief ter deursoeking van die respondent se

woonplek, sy kantoor en sy voertuig, waaraan uitvoering gegee is op
15 April 2005. Klaarblyklik het die vingerafdruk ook 'n belangrike

rol gespeel in die daaropvolgende verkryging van 'n lasbrief vir die
respondent se arrestasie op 15 Junie 2005.
[6] Na die respondent se arrestasie
het sy regsverteenwoordigers egter die kwessie van hierdie
vingerafdruk opgeneem met die twee
advokate in diens van die DOV,
Theunissen en Van der Vijver, aan wie die respondent se vervolging
opgedra is. In besonder is dit
onder die aandag van die twee
staatsadvokate gebring dat die respondent die opinie ingewin het van
vingerafdrukdeskundiges waarvolgens
die betrokke vingerafdruk nie van
‘n DVD nie, maar inderwaarheid van 'n drinkglas afkomstig was.
Dit het die twee staatsadvokate
genoop om senior forensiese
deskundiges in die polisie te raadpleeg. Twee van hulle was van
oordeel dat die respondent se vingerafdruk
tog moontlik van ‘n
DVD-houer gelig is. Op 12 Desember 2006 het senior superintendent R D
Dixon van die SAPD egter onder
eed verklaar dat die respondent se
vingerafdruk op folien 1, na sy mening, afkomstig was van ‘n
drinkglas en nie van ‘n
DVD-houer nie. Sy mening was voorts dat
die vingerafdruk moontlik gelig is van ‘n drinkglas wat in die
oorledene se woonstel
aangetref is. Hieruit voortspruitende het die
DOV op 13 Desember 2006 die volgende brief aan die respondent se
regsverteenwoordigers
gerig:

Ek
bevestig hiermee dat die Staat nie meer van voorneme is om voort te
gaan met die getuienis rondom u kliënt se beweerde vingerafdruk

op die DVD-omslag nie.
Aangeheg
die verslag van Senior Superintendent Dixon vir u aandag . . .. ’
[7] Volgens alle redelike verwagting
sou dit die einde wees van die hele sage rondom die vingerafdruk. Die
respondent se regsverteenwoordigers
het egter in die strafsaak die
houding ingeneem dat hierdie toegewing deur die Staat hulle nie
daarvan weerhou het om getuienis
oor die fabrisering van die
vingerafdruk aan te bied nie omdat dit ‘die Staat se saak teen
hom besmet’ het. As teenvoeter
was die Staat toe verplig om
volledige getuienis oor die onderwerp in die strafsaak aan te bied
ten einde bewerings van
mala fides
aan die kant van die
polisiebeamptes te weerlê. Aan die einde van die strafsaak het
die hof by monde van Van Zyl R bevind
dat die folien 1 onmoontlik van
'n DVD-houer afkomstig kon wees. Terselfdertyd het die hof egter ook
bevind dat daar ‘nie
genoeg getuienis voor hierdie hof [geplaas
is] om met enige sekerheid te bevind dat dit aan opsetlike optrede
deur die polisie
te wyte was nie. Dit mag trouens die gevolg gewees
het van nalatigheid of [blote] onbevoegdheid’.
[8] In die siviele saak het die
respondent weereens die verhoorhof probeer oortuig dat die verkeerde
stellings rondom die oorsprong
van die gewraakte vingerafdruk nie aan
blote nalate of onbevoegdheid te wyte was nie, maar aan 'n
bedrieglike poging deur die polisie
om te mislei, welke poging sy
vervolging aangestig het. Die verhoorhof het egter hierdie geskilpunt
ten gunste van die appellant
beslis. Die
ratio
decidendi
skyn in
die volgende aanhaling uit die hof se uitspraak opgesluit te wees:

Konstabel
Swartz het gedurende Oktober 2000 by die SAPD aangesluit. In 2003 het
hy 'n basiese opleidingskursus, wat onder andere
ingesluit het die
lig van vingerafdrukke, voltooi. Hy het die kursus geslaag en het toe
werk gedoen as 'n vingerafdrukondersoeker
maar was nie 'n
vingerafdrukdeskundige nie. Hy was nie gemoeid met die vergelyking
van vingerafdrukke nie, dit was die taak van
die
vingerafdrukdeskundiges.
Voor
hierdie hof het konstabel Swartz (tans 'n sersant) getuig dat hy
steeds oortuig is dat hy folien 1 van die DVD-houer gelig
het. Hy het
egter toegegee dat ‘n fout kon ingesluip het en dat hy hom mag
vergis het. Hy was 'n onindrukwekkende getuie.
Hy was ontwykend en
vaag. Hy het ook teenstrydige getuienis gelewer oor onder andere hoe
en waar hy die vingerafdrukke gelig het
en wie teenwoordig was tydens
die ondersoek in die woonstel. Dit is tog van belang dat, op die
stadium toe hy verklaar het dat
folien 1 van die DVD-houer gelig is,
hy nie geweet het of kon geweet het dat dit van belang is of die
vingerafdruk van die drinkglas
of van die DVD-houer afkomstig is nie.
Dat hy nalatig of selfs roekeloos was staan vas. Maar na my mening,
selfs inaggenome sy
swak getuienis, is die afleiding dat hy in dié
opsig leuenagtig was en met
animus
injuriandi
opgetree
het nie geregverdig nie.’
[9] Desnieteenstaande het die
respondent op appèl volgehou met sy argument gebaseer op die
vingerafdruk. Ek kom hierby terug.
Vir die huidige gaan ek egter
voort met die kroniek van die agtergrondfeite. Soos ek ter inleiding
gesê het, het die tweede
been van die respondent se saak berus
op polisieverklarings aangaande die voorwerp waarmee die noodlottige
kopwonde aan die oorledene
toegedien is. In die verband het ek vroeër
verwys na die lasbrief vir die deursoeking van die respondent se
woonstel, sy kantoor
en sy voertuig wat uitgevoer is op 15 April
2005. Tydens die deursoeking van die respondent se voertuig is onder
meer 'n ornamentele
hamer onder die sitplek gevind. Die vermoede het
by die polisie ontstaan dat dit moontlik die moordwapen was. By die
ondersoek
van hierdie moontlikheid het kaptein Maritz, sekere
proefnemings gedoen. As deel van sy saak het die respondent aangevoer
dat kaptein
Maritz in sy verslag oor hierdie proefnemings opsetlike
onwaarhede verkondig het wat tot aanstigting van die vervolging
gedien
het. Die slotsom waartoe kaptein Maritz egter aan die einde
van sy verslag gekom het, was slegs dat hy nie die ornamentele hamer

as moordwapen kon uitsluit nie. In hierdie lig was die verhoorhof se
beslissing, in wese, dat hierdie neutrale slotsom nie bydraend
kon
wees tot die respondent se vervolging nie. Hierdie bevinding deur die
verhoorhof, ten gunste van die appellant, is nie deur
die respondent
op appèl aageveg nie. Gevolglik kan ek die hele kwessie van
die hamer met vrymoedigheid daar laat.
[10] Dit bring my dan by die derde
been van die respondent se saak wat gebaseer is op die verbintenis
tussen 'n bloedmerk op die
oorledene se badkamervloer en die
respondent se skoen. Die verloop van gebeure wat hiertoe gelei het,
was in die breë soos
volg: tydens die polisieondersoek in die
woonstel van die oorledene gedurende die vroeë ure van 17 Maart
2005, is 'n bloedmerk
op die badkamervloer deur die polisie
waargeneem en gefotografeer. Op 15 April 2005 is by die deursoeking
van die respondent se
woonstel – waarna ek vroeër verwys
het – beslag gelê op 'n paar manssportskoene. Die skoene
is in die forensiese
laboratorium van die polisie vir bloed getoets,
maar die uitslag van die toets was negatief. Superintendent B S
Bartholomew van
die PKRS in Kaapstad het egter die skoene verder
ondersoek en onder meer die sole onder 'n mikroskoop bekyk. Aan die
hand van hierdie
ondersoek het Bartholomew tot die slotsom gekom dat
sandkorreltjies onder die regterskoen ooreengestem het met wit
kolletjies op
die foto’s van die bloedmerk in die oorledene se
badkamer en dat die respondent se skoen gevolglik met die bloedspoor
verbind
kon word. Hieroor was die ondersoekspan van die polisie
uiteraard baie opgewonde. Dit het immers die respondent tydens die
aanval
op die oorledene in haar woonstel geplaas. Ander
polisiedeskundiges in Kaapstad het egter koue water op die
entoesiasme gegooi
deur die mening uit te spreek dat Bartholomew se
gevolgtrekkings geen steek hou nie.
[11] In 'n poging om stawing vir sy
gevolgtrekking te kry, is Bartholomew toe na die hoofkantoor van die
polisie se forensiese afdeling
in Pretoria. Daar het hy die
aangeleentheid bespreek met die nasionale bevelvoerder van die
forensiese afdeling, kommissaris Du
Toit, sy tweede in bevel,
direkteur Vorster en nog 'n lid van die nasionale ondersoekspan. Hy
het aan hulle sy waarnemings en sy
gevolgtrekking, dat die bloedmerk
deur die respondent se skoen veroorsaak is, in besonderhede
verduidelik. Nie een van hierdie
deskundiges het egter met hom
saamgestem nie; inteendeel, aldrie van hulle was onomwonde die mening
toegedaan dat die bloedmerk
nie met die skoen verbind kon word nie.
By sy terugkoms in Kaapstad het Bartholomew hierdie verwikkelinge aan
sy seniors in die
polisie sowel as die betrokke advokate in die
kantoor van die DOV oorgedra. Bartholomew het egter nie so maklik bes
gegee nie.
As deel van sy verdere soeke na stawing vir sy mening, het
hy 'n gesaghebbende werk oor skoenafdrukke deur 'n internasionaal
erkende
Amerikaanse deskundige, mnr W J Bodziak, geraadpleeg. Toe hy
niemand hier te lande kon vind wat met sy mening saamstem nie, het

Bartholomew vervolgens verlof verkry om Bodziak in die Verenigde
State te besoek in 'n verdere poging om steun vir sy standpunt
te
werf. Tydens hul ontmoeting, wat plaasgevind het op 30 Junie 2006,
het Bartholomew sy waarnemings en sy gevolgtrekking breedvoerig
aan
Bodziak verduidelik.
[12] Bodziak is later in sowel die
strafsaak as die siviele saak namens die respondent as getuie geroep.
Volgens sy getuienis, wat
deur beide howe aanvaar is, het hy dit aan
Bartholomew in geen onsekere terme oorgedra dat hy nie enige
verbintenis tussen die
skoen en die bloedmerk kon sien nie. Ter
motivering van hierdie standpunt het Bodziak verduidelik dat wanneer
'n merk met 'n voorwerp,
soos 'n skoen, vergelyk word, daar in die
eerste plek bepaal moet word of die voorwerp ooreenstemmende
klaseienskappe, soos skoengrootte,
soolpatroon ensovoorts met die
merk toon. Indien nie, is dit die einde van die ondersoek. Waar die
klas eienskappe wel ooreenstem,
word gesoek vir unieke eienskappe wat
die besondere skoen van ander skoene in dieselfde klas onderskei.
Volgens Bodziak het hy
dit aan Bartholomew gestel dat hy nóg
enige klaskenmerke, nóg enige unieke ooreenkomste tussen die
bloedmerk en die
skoen kon vind. Nietemin het Bodziak in sy mening
volhard dat daar wel ooreenstemmende klaseienskappe was. Vir die
unieke kenmerke
het hy gesteun op die sandkorreltjies in die skoen
wat hy verbind het met wit kolletjies op die foto’s van die
bloedsmeer.
Volgens Bodziak het hy dit egter aan Bartholomew duidelik
gemaak dat die sandkoreltjies na sy mening te diep in die groef van
die
skoen se sool vasgesit het om die wit kolletjies in die
bloedsmeer te veroorsaak. Tydens Bartholomew se besoek aan Bodziak
het
die twee van hulle by wyse van proefneming vasgestel dat, hoe
hard ook al op die skoen getrap word, die sandkorreltjies eenvoudig

te diep was om met die vloer kontak te maak en enige merke agter te
laat.
[13] Heel onverwags, in die lig van
hierdie gebeure, het Bartholomew egter by sy terugkeer na Kaapstad
teenoor sy seniors te kenne
gegee dat Bodziak sy mening in wesenlike
opsigte steun, welke wanvoorstelling aan die advokate in die kantoor
van die DOV oorgedra
is. Op 21 Julie 2006 het Bartholomew uit die
diens van die polisie getree. In Desember 2006 was die respondent se
regsverteenwoordigers,
wat vooraf verneem het van die bewering dat
Bodziak die mening van Bartholomew steun, in direkte verbinding met
Bodziak. Hy het
met verbasing op dié bewering reageer en hulle
oor die ware toedrag van sake ingelig. Op hulle beurt het die
respondent
se regsverteenwoordigers dit aan advokate Theunissen en
Van der Vijver oorgedra dat Bodziak se mening direk in stryd was met
dié
van Bartholomew en dat hulle deur hom onder 'n wanindruk
gebring is. Na aanleiding hiervan het die twee staatsadvokate op 15
Januarie
2007 'n telefoonkonferensie met Bodziak gevoer. In die loop
hiervan het Bodziak dit aan die advokate duidelik gemaak dat hy
hoegenaamd
nie met Bartholomew saamgestem het nie. Eerstens, omdat
daar na sy mening geen klaskenmerke in die bloedmerk was wat die
gevolgtrekking
kon regverdig dat dit hoegenaamd deur enige skoen
gemaak is nie. Tweedens, omdat die wit kolletjies in die bloedmerk,
wat deur
Bartholomew as unieke eienskap aangemerk is, nie deur die
sandkorreltjies in die skoen veroorsaak kon word nie, weens die
diepte
daarvan in die sool van die skoen.
[14] Op 17 Januarie 2007 het die
respondent se regsverteenwoordigers tydens samesprekings met
Theunissen en Van der Vijver gepoog
om die terugtrekking van die
aanklag teen die respondent te bewerkstellig. In die loop van hierdie
samesprekings is 'n verslag
van nog 'n deskundige uit die Verenigde
State, mnr M R Grimm, aan die staatsadvokate beskikbaar gestel wat
onomwonde die gevolgtrekking
van Bodziak steun en die teenoorstaande
mening van Bartholomew oortuigend as onjuis verwerp. Vervolgens het
Theunnissen en Van
der Vijver vir Bartholomew gekonfronteer met die
inhoud van Grimm se verslag asook met wat hulle van Bodziak verneem
het. Op daardie
stadium het Bartholomew vir die eerste keer toegegee
dat Bodziak destyds teenoor hom aangedui het dat die sandkorrels te
diep in
die skoensool was om die wit kolletjies in die bloedmerk te
veroorsaak. Hy het ook toegegee dat hy dit nie tydens proefnemings
kon regkry om die sandkorreltjies met die vloer in kontak te bring
nie. Nietemin het hy voet by stuk gehou dat sy mening die enigste

korrekte een was en dat die teenoorstaande standpunt van al die ander
deskundiges, nasionaal en internasionaal, almal uit pas.
[15] Na die konsultasie met
Bartholomew het die staatsadvokate besluit om tog met die aanklag
teen die respondent voort te gaan
en het hulle die respondent se
regsverteenwoordigers dienooreenkomstig verwittig, Soos ons weet het
die strafsaak toe op 12 Februarie
2007 'n aanvang geneem. Gedurende
die verhoor het Bartholomew as staatsgetuie gepoog om sy teorie
aangaande 'n verbintenis tussen
die bloedmerk en die respondent se
skoen te verdedig. In antwoord het die respondent onder meer die
getuienis van Bodziak en 'n
Britse deskundige, mnr P F Ryder,
aangebied. In kort is Bartholomew se teorie in vlamme afgeskiet.
Kwalik onverwags het die strafhof
dan ook hierdie teorie verwerp op
die basis dat dit geen sin maak nie. Onder meer het Van Zyl R die
volgende in die verband gesê:

Superintendent
Bartholomew, wat nie 'n goeie indruk as getuie gemaak het nie, se
getuienis was onbetroubaar en veral gekleur deur
die ernstig
misleidende bewerings wat hy oor sy besoek aan mnr Bodziak kwytgeraak
het. . . . Daar was . . . geen verduideliking
van hoe die sandkorrels
bloed-kontaminasie kon vrygespring het of hoe hulle, ten spyte van
die diepte waartoe hulle in die betrokke
groef vasgesit het, steeds
daarin kon slaag om hulle afdruk op die bloedmerk te maak . . .. Les
bes was daar geen betroubare bewys
van enige klaseienskappe van die
skoen in die merk waarneembaar nie.’
[16] In die siviele saak het
Veldhuizen R bevind dat Bartholomew se mening, in die lig van Bodziak
se getuienis, nie die ‘papier
werd [was] waarop dit geskryf is
nie’. Verder het hy hom ook soos volg in onderhawige verband
uitgelaat:

Ek
is tevrede dat mnr Bartholomew nie 'n eerlike getuie is nie. Ek
bevind dat hy nie eerlik kon geglo het en inderdaad nie geglo
het dat
sy opinie reg is nie. Daar het 'n plig op hom gerus om enige twyfel
wat hy gehad het en wat hy, na my mening, inderdaad
gekoester het aan
die vervolgingsgesag oor te dra. Dit het hy nie gedoen nie. In stede
daarvan het hy volhard met sy mening. Hy
het in dié opsig, met
die nodige opset, hom skuldig gemaak aan die aanstigting van die
vervolging.’
[17] Soos Veldhuizen R ook tereg
opgemerk het, was die staatsadvokate se besluit om steeds op
Bartholomew se getuienis te steun,
ten spyte van al hierdie feite tot
hulle beskikking, op die oog af moeilik verstaanbaar. Voor Veldhuizen
R is Van der Vijver deur
die appellant as getuie geroep om hierdie
besluit te verduidelik. In breë trekke het dit op die volgende
neergekom. Volgens
Van der Vijver het hy en sy kollega Theunnissen
besef dat Bartholomew waarskynlik nie die probleme wat deur Bodziak
geopper is,
dat die sandkorrels te diep was om die wit kolletjies in
die bloedmerk te veroorsaak, kon antwoord nie. Gevolglik was die
unieke
kenmerk waarop Bartholomew gesteun het daarmee heen. Nietemin
het Bartholomew ten spyte van dit alles in sy eie opinie bly glo.

Hoewel die staatsadvokate ernstige bedenkinge gehad het oor hierdie
opinie, het hulle besluit om dit tog in die skaal te plaas.
Na alles,
so het Van der Vijver getuig, was dit nie vir hulle nie, maar vir die
hof om oor die aanvaarbaarheid van Bartholomew
se mening te beslis.
[18] Indien Bartholomew twyfel oor sy
eie mening uitgespreek het, so het Van der Vijver voortgegaan, sou
hulle nie sy getuienis
aangebied het nie. Maar selfs al sou
Bartholomew glad nie getuig het nie, het Van der Vijver onomwonde op
vrae deur Veldhuizen
R self geantwoord, sou hulle beslis nie die
vervolging gestaak het nie. Vir hul standpunt dat die vervolging met
of sonder Bartholomew
se getuienis sou voortgaan, het die
staatsadvokate, volgens Van der Vijver, gesteun op
omstandigheidsgetuienis wat in die breë,
onder andere, die
volgende behels het:
(a) Die ornamentele hamer wat in die
respondent se voertuig gevind is deur die staatsadvokate as die
waarskynlike moordwapen beskou.
Onder meer weens die uniekheid
daarvan en omdat beide kante – dit is, sowel die hamerkant as
die botteloopmakerkant –
sommige of al die oorledene se
kopwonde kon veroorsaak het. Daarbenewens is 'n handdoek in die
oorledene se badkamer gevind met
'n bloedmerk wat ooreengestem het
met die vorm van die hamer.
(b) Daar was geen gedwonge toegang tot
die oorledene se woonstel nie en daar was niks uit die woonstel
gesteel nie. Hierdie aspekte
en die wyse waarop die oorledene geklee
was, dui daarop at sy die aanvaller geken het, meer bepaald, omdat sy
die persoon binnegelaat
het en nie skaam was om in 'n klein
slaapbroekie voor die persoon te verskyn nie. Dit het uiteraard die
vinger na die respondent
gewys met wie sy in 'n vaste verhouding
betrokke was.
(c) Die enigste item, behalwe 'n mes,
wat uit die woonstel vermis was, is 'n afstandbeheertoestel om die
woonstelkompleks te verlaat.
Die oorledene was ten tye van die moord
slegs sowat twee tot drie weke daar woonagtig terwyl die respondent
nie oor so 'n afstandbeheerder
beskik het om die kompleks te verlaat
nie. Die oorledene moes hom altyd met behulp van die afstandbeheerder
uit die woonstelkompleks
laat. Die respondent het dus geweet dat
daardie afstandbeheer nodig was om uit die kompleks te kom.
(d) Gedurende die aand van 15 Maart
2005 het die oorledene en die respondent met mekaar getwis, welke
twis die oggend van 16 Maart
2005, synde die dag van die moord, nog
voortgeduur het. Dit het tot gevolg gehad dat die respondent die
oggend na sy vertrek teruggekeer
het na die oorledene, wat gehuil
het, om haar te troos.
(e) Die oorledene het later, op die
dag van die moord, teenoor 'n vriend van haar genoem dat sy en die
respondent vroeër 'n
hewige stryery (‘'n helse fight’)
gehad het en dat alles tussen hulle verby is. Die respondent het
hierdie stryery
teenoor die polisie verswyg.
(f) 'n Brief wat die oorledene die
ogend van 16 Maart 2005 aan die respondent oorhandig het en waarin sy
hom verskeie kere om verskoning
vra vir wat sy teenoor hom kwytgeraak
het, is deur die respondent van die polisie weerhou. Die polisie het
dit eers op 15 April
2005 by die uitvoering van 'n
deursoekingslasbrief gevind en daarop beslag gelê.
(g) 'n Getuie, mnr J N Swart, het
beweer dat hy die respondent op 16 Maart 2005 in Stellenbosch gesien
het op 'n stadium toe die
respondent, volgens sy alibi, by sy
werkplek in Pinelands was.
(h) Die sekuriteitstelsel by die
respondent se werkplek was nie onfeilbaar nie en sou, na die
staatsadvokate se mening, nie verhoed
dat die respondent daar kon
wegkom sonder om opgemerk te word nie.
[19] Aangaande Van der Vijver se
getuienis dat die Staat selfs sonder Bartholomew se getuienis met die
vervolging teen die respondent
sou voortgaan, het Veldhuizen R kom
onder meer soos volg uitgelaat:

Ek
moet dadelik sê dat ek sy getuienis verstommend vind. Die feit
is egter dat mnr Bartholomew nie eerlik met die DOV was
nie en adv
van der Vijver se getuienis is dus hoogstens ‘n opinie van wat
sou gebeur het indien Bartholomew eerlik was. Dit
is my plig om te
bepaal of daar op ‘n oorwig van waarskynlikhede, sy opinie
inaggenome, bewys is dat die vervolging sou voortgegaan
het.’
[20] Vervolgens het Veldhuizen R die
ander feite en omstandighede oorweeg waarop die Staat, volgens Van
der Vijver, besluit het
om met die vervolging voort te gaan, waarna
hy tot die volgende slotsom gekom het:

Na
my mening was daar, indien mnr Bartholomew se opinie buite rekening
gelaat word, op die stadium toe daar besluit is om met die
vervolging
voort te gaan, nie ‘n
prima
facie
saak
teen die eiser nie. Die waarskynlikheid is oorweldigend dat 'n
redelike lid of lede van die DOV, in die afwesigheid van mnr

Bartholomew se opinie, nie met die vervolging sou voortgegaan het
nie.’
[21] Dit bring my by die toepaslike
regsbeginsels. In dié verband het hierdie hof reeds by
verskeie geleenthede 'n uiteensetting
gegee van wat die vereistes vir
‘n suksesvolle beroep op kwaadwillige vervolging behels. (Sien
bv
Lederman v Moharal Investments (Pty) Ltd
1969 (1) SA 190
(A) te 196G-H;
Prinsloo v Newman
1975 (1) SA 481
(A) te 491H;
Rudolph v Minister of Safety and Security
2009 (5) SA 94
(HHA)
para 16.) Twee van hierdie vereistes meld sigself in die onderhawige
saak vir oorweging aan. Die eerste hiervan is, soos
dit in Engels
geformuleer word, dat ‘the defendant must have instigated the
criminal procedings by setting the law in motion’
oftewel, dat
die verweerder deur sy of haar gewraakte optrede die strafregtelike
vervolging aangestig het. Die tweede is dat hierdie
optrede met 'n
kwaadwillige gesindheid moes geskied. Soos Jansen AR egter in
Lederman
(te 197A) verduidelik het, omvat die eerste vereiste
eintlik niks meer nie as dat daar 'n oorsaaklike verband moet wees
tussen die
verweerder se optrede aan die een kant en die
strafregtelike vervolging, aan die ander. Wat betref die tweede
vereiste is die terminologie
van kwaadwilligheid (of malice) ietwat
verwarrend, asof dit ‘n vereiste sou wees dat die verweerder
met nyd of bose opset
teenoor die eiser moes gehandel het. Dit is
egter nie so nie. Inteendeel kan dit op hierdie stadium van ons
regsontwikkeling met
vertroue aanvaar word dat die aksie vir
kwaadwillige vervolging, net soos ander aksies wat hulle oorsprong in
die
action injuriarum
het, slegs
animus injuriandi
oftewel
opset vereis. Voorts staan dit vas dat hierdie opset nie alleen
direkte opset nie, maar ook opset in die regstegniese sin
van
dolus
eventualis
insluit (sien bv
Prinsloo
te 492A-B;
Rudolph
para 16. Vergelyk ook
Le Roux v Dey
2011 (3) SA 274
(KH) para
129). Indien ‘n verweerder dus subjektief voorsien het dat sy
of haar optrede die ongeregverdigde vervolging van
die eiser sou
meebring en hom of haar met daardie moontlikheid sou versoen, is daar
aan die vereiste van kwaadwilligheid voldoen.
[22] By toepassing van hierdie
regsbeginsels oorweeg ek eers die basis van die respondent se saak
waarop hy in die hof benede geslaag
het, synde Bartholomew se onegte
verbinding van die bloedmerk in die oorledene se badkamer met die
respondent se skoen. Met verwysing
hierna het die hof a quo bevind
dat daar aan die vereiste van kwaadwilligheid voldoen is. Na my
mening was hierdie bevinding korrek.
In die lig van die oorweldigende
koor van deskundige getuienis tot die teendeel, is die afleiding
geregverdig dat Bartholomew na
alle waarskynlikheid subjektief
voorsien het dat sy mening ongegrond mag wees. Nietemin het hy
halstarrig geweier om dit toe te
gee en hom sodoende versoen met die
moontlikheid dat die voortsetting van die respondent se vervolging op
ongeregverdigde basis
mag geskied. Soos ek dit sien word Bartholomew
se kwaadwilligheid – selfs in die letterlike sin –
onderstreep deur
die blatante onwaarheid wat hy aan sy seniors en die
staatsadvokate verkondig het, naamlik, dat Bodziak sy mening steun.
[23] Met verwysing na die vereiste van
oorsaaklikheid is namens die appellant aangevoer dat Bartholomew sy
gewraakte mening eers
op 22 Augustus 2005 vir die eerste maal
uitgespreek het. Gevolglik, so is betoog, kon hierdie optrede nie ter
aanstigting dien
van die respondent se vervolging wat reeds op 15
Junie 2005 ‘n aanvang geneem het nie. Ek vind hierdie betoog
onoortuigend.
Indien argumentshalwe aanvaar word dat die DOV by
afwesigheid van Bartholomew se getuienis, die vervolging sou staak,
is daar myns
insiens aan die vereiste van oorsaaklikheid voldoen. Die
tweede punt van betoog namens die appellant het berus op die feit dat
Bartholomew reeds op 21 Julie 2006 uit die SAPD bedank het. Ook
hierdie betoog oortuig nie. Weereens; indien die oorsaaklike verband

tussen Bartholomew se mening en die respondent se vervolging
argumentshalwe aanvaar word, moet eweneens aanvaar word dat hy
hierdie
kousale ketting van gebeure aan die gang gesit het toe hy nog
in die Polisiediens was en dat hierdie kousale ketting toe nooit
daarna verbreek is nie.
[24] Dit bring my by die appellant se
betoog wat steun op die getuienis van Van der Vijver dat hy selfs
sonder Bartholomew met die
vervolging sou voortgaan. Hierdie betoog
moet uiteraard verstaan word in die lig van die sogenaamde ‘but-for
test’
wat in ons reg as maatstaf vir die vasstelling van
feitelike kousaliteit aanvaar word. In
International Shipping Co
(Pty) Ltd v Bentley
1990 (1) SA 680
(A) te 700E-G het Corbett HR
die aanwending van hierdie maatstaf soos volg verduidelik:

The
enquiry as to factual causation is generally conducted by applying
the so-called “but-for” test, which is designed
to
determine whether a postulated cause can be identified as a
causa
sine qua non
of
the loss in question. In order to apply this test one must make a
hypothetical enquiry as to what probably would have happened
but for
the wrongful conduct of the defendant. This enquiry may involve the
mental elimination of the wrongful conduct and the
substitution of a
hypothetical course of lawful conduct and the posing of the question
as to whether upon such an hypothesis plaintiff's
loss would have
ensued or not. If it would in any event have ensued, then the
wrongful conduct was not a cause of the plaintiff's
loss;
aliter
,
if it would not so have ensued.’
[25] Met verwysing na hierdie toets
het die appellant betoog dat, in die lig van Van der Vijver se
getuienis – dat die vervolging
van die respondent selfs sonder
Bartholomew se mening sou voortgaan – kousaliteit nie bewys is
nie. Die hof a quo het hierdie
betoog verwerp. Soos ek dit verstaan
kom die hof se redes vir hierdie bevinding, in kort, op die volgende
neer: Van der Vijver
se getuienis is hoogstens ‘n opinie wat
tesame met ander faktore in ag geneem moet word by die vraag of ‘n
redelike
lid van die DOV waarskynlik met die vervolging sou
voortgaan; aangesien die Staat, sonder Bartholomew se getuienis,
objektief gesproke
geen prima facie saak teen die respondent gehad
het nie, is die waarskynlikheid oorweldigend dat 'n redelike lid van
die DOV nie
sonder hierdie getuienis met die vervolging sou voortgaan
nie.
[26] Hiervolgens het die hof dus die
objektiewe toets van die redelike advokaat as maatstaf aangelê.
Ter ondersteuning van
hierdie objektiewe benadering het die
respondent hom beroep op die beslissing van hierdie hof in
Minister
of Safety and Security v Carmichelle
2004 (3) SA 305
(HHA). Wat
in
Carmichelle
die polisie ten laste gelê is, was dat
hulle nie by die borgaansoek van ene Coetzee sekere feite voor die
landdros geplaas
het nie, as gevolg waarvan Coetzee toe op borg
vrygelaat is wat weer tot die aanval op me Carmichelle gelei het. Die
betrokke landdros
se getuienis was egter dat, selfs al sou die
polisie hierdie feite voor hom geplaas het, hy steeds Coetzee se
borgaansoek sou toegestaan
het. Hierop het Harms AR homself soos volg
uitgelaat oor die vraag of die toepaslike toets objektief of
subjektief moet wees (in
paras 60 en 61):

The
inquiry is subjective in the sense that a court has to determine what
the relevant magistrate
on
the probabilities would have done
had
the application for bail been opposed. In this regard the
ex
post facto
evidence
of the magistrate would generally amount to an inadmissible opinion
as to what his or her state of mind would have been
at some time in
the past. To the extent that the evidence is admissible it would
generally be unhelpful because it would be speculative.
Courts
of appeal are often called upon to decide what a reasonable judicial
officer should have done and this they do by establishing
what a
reasonable judicial officer
would
have
done. It may be presumed factually that judicial officers conform to
that norm and it is fair to deduce that any particular
judicial
officer (even if his or her identity cannot be established), on the
probabilities and as a matter of fact, would have
so acted. The
proper inquiry is, thus, what the relevant judicial officer, who is
factually assumed to make decisions reasonably,
would, on the
probabilities, have done.’
[27] Die respondent se betoog was in
wese dat Harms AR in die aangehaalde gedeelte 'n objektiewe toets
voorstaan waarvolgens die
optrede van die betrokke landdros vervang
word met die van die fiktiewe redelike landdros. Dit is nie korrek
nie. Inteendeel is
die toets wat Harms AR onderskryf subjektief. Die
vraag bly steeds – wat sou die betrokke landdros waarskynlik
doen indien
die polisie hulle plig nagekom het. Die betrokke landdros
was egter nooit in die situasie waar die polisie inderdaad hulle plig

nagekom het nie. Sy getuienis oor wat hy waarskynlik sou doen kom dus
neer op blote spekulasie. Meer betroubaar in die omstandighede,

Harms AR, is om by wyse van logiese afleiding te bepaal wat
waarskynlik sou gebeur het. As vertrekpunt vir hierdie proses
van
logiese afleiding gebruik hy dan die fiktiewe redelike landdros. Wat
sou die redelike landdros waarskynlik gedoen het? Die
volgende stap
in die proses is dan die aanvaarding dat die betrokke landdros
waarskynlik dieselfde sou doen.
[28] Wat Bartholomew in hierdie saak
ten laste gelê word, is positiewe optrede of 'n
commissio
.
Ons weet dus, aan die een kant, presies wat die aard van Bartholomew
se getuienis was en, aan die ander kant, wat van die Staat
se saak
sou oorbly indien ons hierdie getuienis sou elimineer. Ons weet ook
dat die betrokke staatsadvokaat, volgens sy uitdruklike
getuienis,
geglo het dat daar selfs sonder Bartholomew voldoende getuienis was
om met die vervolging voort te gaan. Die hof a quo
bevind dat hierdie
standpunt geignoreer kan word omdat dit nie sou strook met die
optrede van 'n redelike staatsadvokaat nie. Wat
die hof se redenasie
egter buite rekening laat is die ander kant van die munt, synde of
die redelike advokaat na 17 Januarie 2007
met die vervolging sou
voortgaan op sterkte van Bartholomew se getuienis. By die beoordeling
van hierdie vraag moet in gedagte
gehou word dat op 17 Januarie 2007,
na Van der Vijver se wete, daar letterlik niks van Bartholomew se
mening oorgebly het nie.
Van der Vijver het immers geweet van die
koor van deskundige menings, internasionaal en hier te lande, dat
Bartholomew se teorie
geen steek hou nie. Hy het veral ook geweet van
Bodziak se mening wat gebaseer was op die totale afwesigheid van
unieke kenmerke
en waarop Bartholomew eenvoudig geen antwoord gehad
het nie. Soos Veldhuizen R tereg bevind het, was Bartholomew se
getuienis ‘in
alle opsigte nie die papier werd waarop dit
geskryf is nie’. Selfs 'n leek kon op daardie stadium sien dat
dit onsin is en
Van der Vijver het dit alles geweet. Die antwoord op
die gestelde vraag is dus dat indien die redelike staatsadvokaat nie
sonder
Bartholomew se getuienis met die vervolging sou voortgaan nie,
hy of sy dit vir seker nie op grond van Bartholomew se getuienis
sou
doen nie.
[29] In hierdie omstandighede skep die
gebruik van die redelike staatsadvokaat as 'n vertrekpunt in die
proses van logiese afleiding
'n netelige probleem. Indien aanvaar
word dat Van der Vijver soos 'n redelike staatsadvokaat opgetree het,
het ons sy direkte getuienis
oor wat die redelike staatsadvokaat
waarskynlik sou doen. Indien daarteenoor aanvaar word dat Van der
Vijver onredelik was, is
die tweede stap van die logiese redenasie –
naamlik, dat hy waarskynlik soos die redelike staatsadvokaat sou
optree –
nie geregverdig nie. Ons weet reeds hy sou nie. Op die
ou end, so wil dit my voorkom, is die deurslaggewende vraag dus of
Van der
Vijver se getuienis oor wat hy in die afwesigheid van
Bartholomew se getuienis sou doen, as geloofwaardig aanvaar moet
word. Indien
wel, het die respondent, na my oordeel, nie die
oorsaaklike verband tussen Bartholomew se onregmatige optrede, aan
die een kant,
en die voortsetting van sy vervolging, aan die ander
kant, bewys nie.
[30] Soos ek dit sien kom die vraag of
Van der Vijver se optrede inderdaad redelik was al dan nie, dus nie
werklik ter sprake nie.
Die hof a quo het bevind sy houding was
onredelik. Ek is nie so seker nie. Vir my kom dit onbillik voor om 'n
advokaat se besluit
te toets met die voordele van 'n terugkykende
oordeel en nadat al die getuienis behoorlik in kruisverhoor getoets
is, wel wetende
dat hy sy besluit sonder hierdie voordele moes neem.
Nadat een maal besluit is om met die verhoor voort te gaan op die res
van
die getuienis, lyk die volgende redenasie ook nie vir my inherent
onredelik nie: hoewel Bartholomew se getuienis opsigself eintlik
geen
waarde het nie, kan dit nie die Staat se saak benadeel nie. Dit kan
dus maar net sowel in die skaal geplaas word vir wat dit
werd is.
Maar hoe dit ook al sy. Soos reeds gesê gaan dit myns insien op
die ou end oor Van der Vijver se geloofwaardigheid
wanneer hy sê
dat die vervolging in elk geval sou voortgaan sonder Bartholomew se
getuienis.
[31] Hoewel die hof a quo nie 'n
geloofwaardigheidsbevinding teen Van der Vijver gemaak het nie, was
die respondent se betoog in
hierdie hof inderdaad dat sy getuienis in
hierdie opsig as ongeloofwaardig verwerp moet word. Hierdie betoog
was in ooreenstemming
met wat in kruisverhoor aan Van der Vijver
gestel is, synde dat ‘dit is nie die waarheid as u sê dat
u sou definitief
aangaan met die vervolging as die skoenspoor
weggeval het nie’. In wese het die argument ter ondersteuning
van hierdie betoog
weereens berus op die inherente onwaarskynlikheid
dat die Staat sonder Bartholomew se getuienis met die vervolging sou
voortgaan.
Weereens is my probleem met hierdie betoog egter dat dit
die onwaarskynlikheid buite rekening laat dat die Staat op sterkte
van
Bartholomew se getuienis met die vervolging sou voortgaan.
Uiteindelik strook die waarskynlikhede dus eerder met Van der Vijver

se getuienis, naamlik dat hy sonder die voordeel van 'n terugkykende
oordeel, nie die vervolging sou staak as Bartholomew se getuienis
sou
wegval nie.
[32] In hierdie hof het die respondent
'n verdere betoog geopper wat steun op die standpunt dat die
Konstitusionele Hof in
Lee v Minister of Correctional Services
2013 (2) SA 144
(KH) paras 45-51, 'n meer buigsame (flexible)
toepassing van die ‘but-for’ toets neergelê het as
dié wat
tot nog toe deur ons howe aanvaar is. Ek stem nie saam
met hierdie uitleg van die uitspraak van Nkabinde R in
Lee
nie. Wat sy bedoel met ‘flexible’ blyk duidelik uit para
47 waarin sy onder meer sê:

The
most recent, post-constitutional affirmations of [the flexible
application of the but-for test] are to be found in
Van
Duivenboden [ie Minister of Safety and Security v Van Duivenboden
2002
(6) SA 431
(SCA)] and
Gore
[ie
Minister
of Finance v Gore NO
2007
(1) SA 111
(SCA)]. In
Gore
the
approach adopted in discharging the onus in relation to factual
causation was described thus:

.
. . . Application of the “but-for” test is not based on
mathematics, pure science or philosophy. It is a matter of
common
sense, based on the practical way in which the ordinary person’s
mind works against the background of everyday-life
experiences. Or,
as was pointed out in similar vein by Nugent JA in
Minister
of Safety and Security v Van Duivenboden:

A
plaintiff is not required to establish the causal link with
certainty, but only to establish that the wrongful conduct was
probably
a cause of the loss, which calls for a sensible
retrospective analysis of what would probably have occurred, based
upon the evidence
and what can be expected to occur in the ordinary
course of human affairs rather than metaphysics.”’
[33] Soos ek dit sien, doen Nkabinde R
hoegenaamd nie 'n wysiging van hierdie hof se benadering tot die
toepassing van die ‘but-for
test’ aan die hand nie.
Inteendeel, sy bevestig dit juis. Soos blyk uit die passasies wat sy
aanhaal, word met ‘flexible’
slegs bedoel dat 'n eiser
nie oorsaaklikheid met matematiese presiesheid hoef te bewys nie,
maar bloot op oorwig van waarskynlikheid.
Soos uit die voorgaande
blyk is dit hoe ek gepoog het om die ‘but-for test’ in
die onderhawige konteks toe te pas.
En dit is juis die toepassing van
die toets op hierdie ‘flexible’ oftewel buigsame wyse wat
my tot die slotsom lei
dat 'n kousale verband tussen Bartholomew se
onregmatige optrede en die voortsetting van die respondent se
vervolging nie bewys
is nie.
[34] Dit bring my by die respondent se
argument gebaseer op Swartz se verklaring dat hy die respondent se
vingerafdruk van 'n DVD-houer
gelig het terwyl dit, soos op hierdie
stadium algemeen aanvaar word, van 'n drinkglas afkomstig was. Ons
weet ook dat die verhoorhof
op hierdie punt teen die respondent
beslis het op grond van die bevinding dat opset aan die kant van
Swartz nie bewys is nie. Nietemin
het die respondent op appèl
volgehou met hierdie argument. Die appellant se antwoord hierop was
drieledig. Eerstens, dat
by ontstentenis aan 'n kruisappèl
hierdie argument nie die respondent in die mond lê nie.
Tweedens, dat die hof a
quo se feitebevinding aangaande afwesigheid
van opset aanvaar moet word. Derdens, dat daar in elk geval geen
kousale verband tussen
die polisie se optrede rondom die vingerafdruk
en die uiteindelike vervolging was nie. Ek beoog om hierdie drie
antwoorde afsonderlik
te oorweeg.
[35] As gesag vir sy betoog gebaseer
op afwesigheid van 'n kruisappèl, het die appellant hom veral
beroep op
Van der Plaats v SA Mutual Fire and General Insurance Co
Ltd
1980 (3) SA 105
(A) te 117G-H. Soos ek dit sien is die
onderhawige saak egter op die feite eerder analoog aan
Bay
Passenger Transport Ltd v Franzen
1975 (1) SA 269
(A) as aan
Van
der Plaats.
Die beginsel verskil tussen die twee situasies word
verduidelik in
Bay Passenger Transport
(te 278A-D).
Ooreenkomstig hierdie verduideliking is 'n appèl en derhalwe
ook 'n kruisappèl, gerig teen die bevel
van die verhoorhof en
nie die hof se beredenering nie. Wanneer 'n respondent dus tevrede is
met die verhoorhof se bevel, maar dit
op ander gronde wil verdedig as
waarop die hof gesteun het, is 'n kruisappèl nie nodig nie.
Die feit dat daardie gronde
deur die verhoorhof verwerp is maak aan
hierdie beginsel geen verskil nie. 'n Kruisappèl word slegs
vereis wanneer die respondent
die hof se bevel in sy geheel of
gedeeltelik wil aanveg. Terwyl
Van der Plaats
in die
laasgenoemde kategorie tuisgebring is, val hierdie saak, soos
Bay
Passenger Transport
, myns insiens in die eerste. Die respondent
is tevrede met die bevel van die hof a quo in sy geheel. Gevolglik
was dit nie vir
hom nodig om 'n kruisappèl te loods ten einde
op die feite rondom die vingerafdruk as basis vir sy saak te steun
nie.
[36] Wat kousaliteit betref weet ons
dat die staatsadvokate 13 Desember 2006 die respondent se
regsverteenwoordigers formeel verwittig
het dat nie langer op die
vingerafdrukgetuienis gesteun word as basis vir 'n skuldigbevinding
nie. Dit was meer as twee maande
voordat die strafsaak 'n aanvang
geneem het. Vir soverre die appellant se betoog is dat daar na 13
Desember 2006 nie meer 'n kousale
verband tussen die
vingerafdrukgetuienis en die vervolging was nie, moet hy, na my
oordeel, gelyk gegee word. Daarteenoor staan
dit vas dat die
vingerafdrukgetuienis direk aanleiding gegee het tot die begin van
die respondent se vervolging op 16 Junie 2005
en daarna 'n belangrike
rol gespeel het in die voortsetting van die vervolging tot 13
Desember 2006. Tussen die twee datums was
daar dus inderdaad 'n
kousale verband tussen die vingerafdrukgetuienis en die vervolging.
[37] Wat oorbly is die kwessie van
animus iniuriandi
oftewel opset aan die kant van Swartz.
Blykens die uitspraak van die hof is hy veral tot sy bevinding, –
dat opset aan die
kant van Swartz nie bewys is nie – oorreed
deur die oorweging dat Swartz ten tyde van sy onware verklaring
hoegenaamd nie
geweet het dat dit van belang is dat die vingerafdruk
van 'n DVD-houer – instede van 'n drinkglas – afkomstig
was nie.
Soos ek dit sien is hierdie redenasie onaanvegbaar. Swartz
kon op daardie stadium nie weet dat die aanwesigheid van die
respondent
se vingerafdruk op die betrokke DVD-houer in stryd sou
wees met sy alibi nie. Trouens, Swartz het op daardie stadium nog
nooit
van die respondent gehoor nie en ook nie geweet wie se
vingerafdruk ter sprake was nie. Die respondent se antwoord op
hierdie oorweging
word in sy hoofde van betoog soos volg geformuleer:

Hierdie
oorweging is ‘n
non
sequitur
.
Dit was nie nodig vir Swartz voordat hy die vals verklaring gemaak
het om te geweet het of die oorsprong van die folien [met die

vingerafdruk] van belang is al dan nie. Motief is irrelevant.’
Ek glo hierdie antwoord mis die punt.
Die punt is eenvoudig dat indien daar vir Swartz hoegenaamd geen rede
was om 'n valse verklaring
te maak nie, dit hoogs onwaarskynlik is
dat hy dit opsetlik sou doen.
[38] Die respondent se verdere
argument is gebaseer op Swartz se getuienis dat hy slegs twee
vingerafdrukke met twee stukke folien
gelig het in die oorledene se
woonstel en die feit dat die twee foliene wat nog beskikbaar is albei
van drinkglase afkomstig is.
Hieruit volg dit, so het die respondent
betoog, dat die folien 1 – met die respondent se vingerafdrukke
– op ‘n
later stadium omgeruil moes gewees het met die
oorspronklike folien 1 wat inderdaad deur Swartz van 'n DVD-houer
gelig is. Indien
nie, so het die respondent retories gevra, wat het
geword van die folien wat Swartz inderdaad van die DVD gelig het.
Hieruit volg
dit, so het die respondent betoog, dat die folien 1 met
die respondent se vingerafdruk deur 'n lid van die polisie gelig is
van
'n drinkglas; dat dit daarna bedrieglik omgeruil is met die
folien 1 wat gelig is van die DVD-houer; dat Swartz bedrieglik in sy

handskrif aangedui het dat die vervangende folien afkomstig is van
die DVD-houer; en toe die vervangende folien 1 voorgehou het
as 'n
bewysstuk wat van die DVD-houer in die oorledene se woonstel
afkomstig was.
[39] Soos blyk uit wat volg lei
hierdie teorie egter tot verskeie probleme. In die eerste plek is die
foliene wat Swartz in die
oorledene se woonstel gelig het op 18 Maart
2005 ingeskandeer op die polisie se rekenaarstelsel wat bekend staan
as OVIS, synde
'n afkorting vir ‘outomatiese vingerafdruk
identifikasie sisteem’. Op 22 Maart 2005 het Swartz foto’s
van die
foliene wat hy gelig het vanaf die polisie fotograwe ontvang
waarvan hy 'n sogenaamde grootboogkaart gemaak het. Op 12 April 2008

het inspekteur Bester die vingerafdrukke wat op daardie datum geneem
is van die respondent en sy vriende, vergelyk met die grootboogkaart.

Toe eers is vasgestel dat die respondent se vingerafdruk ooreenstem
met die vingerafdruk wat blykens die grootboogkaart van die
DVD-houer
gelig is. Aanvaarding van die respondent se teorie sou dus beteken
dat die polisie voor 12 April 2005 op klandestiene
wyse 'n
vingerafdruk van die respondent bekom het om dit dan kwansuis met sy
vingerafdruk wat amptelik op 12 April 2005 geneem
is, te vergelyk.
Dit sou ook beteken dat die vingerafdruk afkomstig van die DVD-houer
nie alleen op folien nie, maar ook in die
OVIS-stelsel en op die
grootboogkaart vervang moes word.
[40] Op die ou end is die enigste
basis vir hierdie ingewikkelde teorie dan Swartz se getuienis dat hy
slegs twee foliene in die
oorledene se woonstel gelig het en sy
ontkenning dat hy 'n fout gemaak het toe hy op folien 1 'n
aantekening gemaak het dat dit
van 'n DVD-houer afkomstig was.
Daarteenoor dui Swartz se onprofessionele onbeholpenheid en louter
onervarenheid egter juis op
die waarskynlikheid dat hy 'n fout gemaak
het. Onder meer het hy, in stryd met staande polisie-instruksies, nie
sy aantekeninge
van waar die vingerafdrukke afkomstig was op die
toneel gemaak nie, maar eers later in sy kantoor. In die siviele saak
het Swartz
ook in kruisverhoor toegegee dat hy op 17 Maart 2005 by
ander sake betrokke was waar hy vingerafdrukke gelig het wat hy toe
ook
na sy kantoor geneem het. Uiteindelik moes hy dan ook in die
siviele saak teësinnig toegee dat ‘dit moontlik is dat
êrens hier goed deurmekaar geraak het’. Teen hierdie
agtergrond is die moontlikheid van 'n fout na my mening baie meer

waarskynlik as die spekulatiewe teorie van 'n gekompliseerde
bedrieglike skema deur die polisie waarop die respondent steun.
Hieruit
volg dat die bevinding van die hof a quo waarvolgens die
respondent geen opset aan die kant van Swartz bewys het nie, myns
insiens
as korrek aanvaar moet word.
[41] Laastens het die respondent
aangevoer dat, indien hy nie met sy eis op grond van kwaadwillige
vervolging kan slaag nie, hy
óf 'n grondwetlike eis óf
'n statutêre eis vir skadevergoeding het. As basis vir sy
grondwetlike eis het hy
gesteun op aantasting van sy reg op
menswaardigheid, sy reg op vryheid en integriteit van sy persoon,
insluitende psigologiese
integriteit, wat almal deur die Handves van
Menseregte in die Grondwet onderskryf word. Vir sy statutêre
eis het die respondent
hom beroep op art 14 van die Wet op die
Suid-Afrikaanse Polisiediens 68 van 1995 ingevolge waarvan die
polisie, volgens die respondent
se betoog, verplig was om sy
grondwetlike regte te beskerm. Aangaande sy statutêre eis is in
argument namens die respondent
toegegee dat dit eintlik ondervang
word deur sy grondwetlike eis en kan ek hierdie eis dus met
vrymoedigheid daar laat. Wat betref
die feitegrondslag van sy
grondwetlike eis steun die respondent op dieselfde feitebewerings as
vir sy eis gebaseer op kwaadwillige
vervolging. In argument het die
respondent se advokaat dan ook uitdruklik toegegee dat die vereistes
van opset en 'n kousale verband
ook by hierdie eis toepassing vind.
[42] Dit staan vas dat hierdie hof in
terme van artikel 8(3) en 39(2) van die Grondwet verplig is om die
gemenereg te ontwikkel
indien dit sou blyk dat die beginsels van ons
gemenereg onvoldoende beskerming aan fundamentele regte verleen. Die
uitgangspunt
wat by oorweging van sodanige ontwikkeling geld word
soos volg saamgevat deur Ponnan AR in
Dendy v University of
Witwatersrand
2007 (5) SA 382
(HHA) para 23:

A
court, faced with such a task, is obliged to undertake a two-stage
enquiry. First, it should ask itself whether, given the objectives
of
s 39(2), the existing common law should be developed beyond existing
precedent. If the answer to that question is a negative
one, that
should be the end of the enquiry. If not, the next enquiry should be
how the development should occur and which court
should embark on
that exercise.’
[43] By toepassing van hierdie
benadering is ek nie oortuig dat die gemeenregtelike aksie gebaseer
op kwaadwillige vervolging onvoldoende
beskerming aan die respondent
se fundamentele regte verleen nie. Die rede waarom die respondent se
gemeenregtelike eis nie kan
slaag nie is omdat hy nie die
feitebewerings waarop hy steun kon bewys nie. Vir soverre hy vir sy
grondwetlike eis op dieselfde
feitebewerings steun, kan hierdie eis
logieserwys ook nie slaag nie. Hierdie hof het al by geleentheid die
mening uitgespreek dat
aksies gebaseer op kwaadwillige vervolging
weens oorwegings van openbare beleid ontmoedig word (sien bv
Le
Roux v Dey
2010 (4) SA 210
(HHA) para 34). Aangesien die
respondent egter nie in sy pleitstukke of in argument aangevoer het
dat die vereistes van die gemeenregtelike
aksie afgewater moet word
nie, kom die vraag of sodanige afwatering nodig en wenslik is en
indien wel, tot welke mate dit moet
geskied, nie ter sprake nie.
[44] Gevolglik word gelas:
1. Die appèl slaag met koste
insluitende die koste van twee advokate.
2. Die bevel van die hof a quo word
ter syde gestel en vervang met die volgende:

Eiser se eis
word van die hand gewys met koste, insluitende die koste van twee
advokate en die kwalifiserende gelde van Dr L Liebenberg,
mnr
F Maritz en mnr J A Bierman.’
_________________
F D J BRAND
APPÈLREGTER
VERSKYNINGS:
Vir
Appellant: J W Olivier SC
R
Liddell
In
opdrag van: Staatsprokureur
KAAPSTAD
Korrespondente:
Staatsprokureur
BLOEMFONTEIN
Vir
Respondent: P J de Bruyn SC
B
J Pienaar SC
T
N Price
In
opdrag van: Lowe & Petersen
KAAPSTAD
Korrespondente:
Honey Prokureurs
BLOEMFONTEIN