About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
2013
>>
[2013] ZASCA 4
|
|
S v Deppe and Another (512/12) [2013] ZASCA 4 (7 March 2013)
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL VAN SUID AFRIKA
UITSPRAAK
SAAK NO:512/12
RAPPORTEERBAAR
In die saak tussen:
MARK JACK DEPPE
...................................................
EERSTE
APPELLANT
HENRY JOHN DOUMAN
..........................................
TWEEDE
APPELLANT
en
DIE STAAT
..................................................................................
RESPONDENT
Neutrale verwysing:
S
v Deppe & Douman
(512/2012)
[2013] ZASCA 4
(7 Maart 2013)
Coram:
Malan
AR, Schoeman en Van der Merwe WnRRA.
Datum aangehoor:
15
Februarie 2013.
Datum van uitspraak:
7
Maart2013
Opsomming: Strafproses — enkelgetuie — of
direkte getuienis van enkelgetuie en omstandigheidsgetuienis
voldoende is
om skuldigbevinding te regverdig.
BEVEL
Op appèl van:
Wes-
Kaap Hooggeregshof (Moosa R en Smit WnR op appèl).
Die appèl word van die hand gewys.
____________________________________________________________
UITSPRAAK
SCHOEMAN WnAR (waarmee MALAN AR en VAN DER MERWE WnAR
saamstem).
[1] Hierdie appèl is gerig teen die appellante se
skuldigbevinding op ‘n klagte van huisbraak met die opset om te
steel
en diefstal in die streekhof, Bellville. Hulle appèl na
die hooggeregshof (Moosa R en Smit WnR) is van die hand gewys. Die
appellante kom in hoër beroep met verlof van die hof benede.
[2] Die twee appellante en ene Vos het in die streekhof
op verskeie klagte tereg gestaan. Vos was die eerste beskuldigde en
die
appellante onderskeidelik beskuldigdes twee en drie. Drie klagtes
van huisbraak met die opset om te steel en diefstal asook ‘n
klagte van roof met verswarende omstandighede is die beskuldigdes ten
laste gelê. Vos is ook aangekla van poging tot moord
asook die
onwettige besit van ‘n vuurwapen. Na ‘n uitgerekte
verhoor is Vos skuldig bevind op drie klagtes van huisbraak
met die
opset om te steel en diefstal asook aan poging tot moord en die
onwettige besit van ‘n vuurwapen. Hy is tot effektiewe
gevangenisstraf van 15 jaar gevonnis. Die appellante is skuldig
bevind op een klag van huisbraak met die opset om te steel en
diefstal. Deppe is gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf terwyl
Douman gevonnis is tot vier jaar gevangenisstraf waarvan die helfte
voorwaardelik opgeskort is.
[3] Die appellante en Vos is skuldig bevind op aanklag 5
naamlik dat hulle op 18 November 1995 by die huis van mnr en mev
Smit,
in Chavonnestraat 9, Welgemoed ingebreek het en daar onder
andere, ‘n wit Mazda bakkie, ‘n faksmasjien, ‘n
kluis,
verskeie vuurwapens, paspoorte en ‘n identiteitsdokument
gesteel het.
[4] In 1995 was Vos ‘n kaptein en Deppe ‘n
sersant in die Suid Afrikaanse Polisie Diens. Edward Isaacs was ‘n
beriggewer van Vos. Douman was ‘n vriend van Vos en Deppe.
[5] Dit is gemeensaak dat Vos en Isaacs betrokke was by
drie inbrake, onderskeidelik in Welgemoed (klagte 5) en Kuilsrivier
(klagtes
1 en 3) gedurende die periode 18 November 1995 tot 23
Desember 1995. Die staat se saak teen die appellante het hoofsaaklik
berus
op die getuienis van Isaacs en mev Vos, die eggenote van Vos,
asook getuienis van ‘n lokval wat deur die polisie gestel is
om
die Mazda bakkie terug te kry en die getuienis daaroor.
[6] In die uitspraak in die aansoek om verlof tot appèl
is verlof op ‘n heel beperkte grond verleen. Die hof benede
was
naamlik van oordeel dat die appellante se betrokkenheid by die lokval
wat vir die beskuldigdes gestel is om die Mazda bakkie
terug te kry
nie noodwendig beteken dat die appellante ook aan die huisbraak en
diefstal deelgeneem het nie. Hulle leuenagtige
getuienis hieroor is
nie noodwendig stawing van hul deelname daaraan nie maar kan ook
beteken dat hulle van die inbraak bewus was
maar hulle daarvan wou
distansieer.
[7] Vos en Isaacs het by ‘n woning in Kuilsrivier
op 23 Desember 1995 ingebreek. Vos se bakkie (nie die Mazda bakkie
nie)
is na die inbraak en nadat Vos en Isaacs op vlug geslaan het,
naby die perseel gevind. Daar is verder deur ballistiese toetse
bepaal
dat 4 koeëldoppies wat op die perseel gevind is deur Vos
se vuurwapen afgevuur is.
[8] Vos is arresteer. Na Vos se arrestasie het het
Isaacs sy aandadigheid aan Vos se misdrywe aan die polisie openbaar.
Nadat Vos
op borgtog vrygelaat is het hy Isaacs versoek om ‘n
koper vir die Mazda bakkie te vind. Isaacs het Louis Coetzee, ‘n
polisiebeampte, en kolonel Campher meegedeel dat Vos ‘n bakkie
wat gesteel is wou verkoop. In opdrag van Coetzee en Campher
en in
hulle teenwoordigheid, het Isaacs Vos geskakel en ‘n afspraak
gemaak om hom te ontmoet by die Bellville stasie, aangesien
hy
kwansuis ‘n koper vir die wit bakkie gehad het. Mnr Jeffrey
Dias, ‘n kennis van Coetzee, is genader om as die voornemende
koper op te tree. Dias en Isaacs is saam na die Bellville stasie se
parkeerterrein. Die verkoper van die bakkie het nie opgedaag
nie en
Dias het Isaacs by ‘n openbare telefoon afgelaai om Vos hieroor
te skakel. Nadat Isaacs teruggekom het hy Dias gevra
om ‘n Fox
voertuig te volg.
[9] Dias het die bakkie, wat bestuur is deur Douman, in
sy truspieël agter hulle gewaar. By die Bellville stasie se
parkeerterrein
het Dias vir Vos en Deppe in die Fox voertuig gesien
en Isaacs het hom aan Douman voorgestel as die voornemende koper.
Dias wou
‘n toetsrit neem. Hy het stilgehou by die plek waar hy
en Coetzee afgespreek het die polisie hulle sou arresteer. Kevin Keet
en Meyer, polisiebeamptes, asook ander polisiebeamptes het opgedaag
en Douman en Dias uit die voertuig laat klim. Douman het begin
wegloop en het Keet meegedeel dat hy slegs ‘n saamrygeleentheid
gekry het. Die wit bakkie se korrekte nommerplate is binne
die bakkie
gevind, terwyl die stel nommerplate wat aan die bakkie geheg was aan
‘n voertuig van die Distriks-Kommissaris
behoort het. Dias het
Coetzee meegedeel dat daar nog twee persone by die Bellville stasie
was. Hulle is daarheen en Vos en Deppe
is gearresteer asook Dias en
Isaacs om die skyn te bewaar. By die polisiestasie het Douman vir
Dias aangespoor om weg te hardloop.
[10] Die volgende dag by die polisiestasie het Coetzee
bourommel agter op die wit bakkie opgemerk en het onthou dat hy die
vorige
aand ook bourommel by Douman se huis gesien het. Hy het
afsonderlike monsters van die bourommel op die bakkie en díe
by
Douman se huis geneem. Hierdie monsters is forensies ontleed en
daar is bevind dat dit dieselfde oorsprong het.
[11] Die twee appellante het ontken dat hulle by enige
van die inbrake betrokke was. Hulle getuienis was dat, ten tye van
hulle
arrestasie op 6 Februarie 1996, hulle besig was om Vos by te
staan met ‘n polisie-optrede ten einde inligting in te win oor
‘n wapenhandelaar. Hulle het ontken dat Douman die bakkie
bestuur het en het beweer dat dit bestuur was deur Dias, wat die
gewaande wapenhandelaar sou wees, wat saam met Isaacs by die stasie
aangekom het.
[12] Die twee appellante is soos vermeld skuldig bevind.
In ‘n deurdagte uitspraak het die landdros die getuienis van
die
twee appellante en Vos as ongeloofwaardig verwerp. Hy het ook
Isaacs as ‘n swak getuie bestempel en sy getuienis aanvaar net
tot die mate waarin dit deur die ander getuienis ondersteun is.
Hierdie geloofwaardigheidsbevindinge is nie op appèl betwis
nie. Op appèl is die betoog beperk tot die argument dat Isaacs
só ongeloofwaardig was dat daar hoegenaamd nie op
sy getuienis
gesteun kon word nie. Indien die getuienis van Isaacs uitgeskakel
word, is aan die hand gedoen, was daar onvoldoende
getuienis om die
appellante skuldig te bevind.
[13] Die belangrikste getuienis teen die appellante het
bestaan uit die getuienis van Isaacs, Dias en mev Vos asook
omstandigheidsgetuienis.
Isaacs het getuig dat beide appellante by
die betrokke inbraak teenwoordig was en dat hulle in die huis was
terwyl hy buite waggehou
het. Mev Vos het getuig het dat die twee
appellante op verskillende geleenthede in die nag gesteelde artikels
na haar huis gebring
het. Op 18 November 1995 het hulle met ‘n
wit bakkie by die Vos woning aangekom waar hulle van die goedere wat
in die onderhawige
inbraak gesteel is, van die wit bakkie afgelaai
het. Die omstandigheidsgetuienis het bestaan uit die getuienis van
Dias en die
ander polisiebeamptes wat teenwoordig was met die arres
van die appellante en Vos, toe beslag gelê is op die bakkie; en
die
forensiese getuienis oor die bourommel wat Douman met die bakkie
verbind.
[14] Die getuienis van Isaacs word gekritiseer omdat hy
homself en ander getuies weerspreek het. Hy het inderdaad
weersprekende
getuienis afgelê. As voorbeelde van sy eie
weersprekings kan na die volgende verwys word: die plek waar hy wag
gehou het
buite die huis terwyl die appellante ingebreek het;
waarheen die gesteelde goedere na die inbraak geneem is; of Vos hom
geroep
het om te help om die goedere in die bakkie te laai, al dan
nie. In teenstelling met Dias, kon Isaacs nie onthou dat hulle vanaf
Bellville stasie gery het om ‘n telefoonoproep te maak alvorens
die appellante en Vos opgedaag het nie. Isaacs het aanvanklik
getuig
dat hy nie enige geldelike beloning verwag het vir sy optrede as
beriggewer teen Vos nie, terwyl dit duidelik was dat hy
inderdaad
sodanige beloning te wagte was. Hy het aanvanklik ook getuig dat, ten
aansien van klagte 5, hy slegs een huis aan die
polisie uitgewys het,
maar dit is duidelik dat hy meer as een huis in daardie straat
uitgewys het.
[15] In
S
v Mkohle
1
is die benadering tot weersprekings
deur ‘n getuie soos volg uiteengesit:
‘
Contradictions per se do not lead to the
rejection of a witness' evidence. As Nicholas J, as he then was,
observed in
S v Oosthuizen
1982 (3) SA 571
(T) at 576B-C, they may simply be indicative of an
error. And (at 576G-H) it is stated that not every error made by a
witness affects
his credibility; in each case the trier of fact has
to make an evaluation; taking into account such matters as the nature
of the
contradictions, their number and importance, and their bearing
on other parts of the witness' evidence.’
[16] Die getuienis van
enkelgetuies en mededaders moet met versigtigheid benader word. In
S
v Hlapezula & others
2
het Holmes AR die
benadering en vereistes by beoordeling van ‘n medepligtige se
getuienis soos volg gestel:
‘
It is
well settled that the testimony of an accomplice requires particular
scrutiny because of the cumulative effect of the following
factors.
First, he is a self-confessed criminal. Second, various
considerations may lead him falsely to implicate the accused,
for
example, a desire to shield a culprit or, particularly where he has
not been sentenced, the hope of clemency. Third, by reason
of his
inside knowledge, he has a deceptive facility for convincing
description - his only fiction being the substitution of the
accused
for the culprit. Accordingly. . . there has grown up a cautionary
rule of practice requiring
(a)
recognition by the trial Court of the foregoing dangers, and
(b)
the safeguard of some factor reducing the risk of a wrong conviction,
such as corroboration implicating the accused in the commission
of
the offence, or the absence of gainsaying evidence from him, or his
mendacity as a witness, or the implication by the accomplice
of
someone near and dear to him . . . Satisfaction of the cautionary
rule does not necessarily warrant a conviction, for the ultimate
requirement is proof beyond reasonable doubt, and this depends upon
an appraisal of all the evidence and the degree of the safeguard
aforementioned.’
[17] In
S
v Sauls & others
3
is die volgende gemeld
ten aansien van die evaluering van die geloofwaardigheid van ‘n
enkelgetuie:
'There is no rule of thumb test or formula to apply when it comes to
a consideration of the credibility of the single witness (see
the
remarks of RUMPFF JA in
S v Webber
1971 (3) SA 754
(A) at
758). The trial Judge will weigh his evidence, will consider its
merits and demerits and, having done so, will decide whether
it is
trustworthy and whether, despite the fact that there are shortcomings
or defects or contradictions in the testimony, he is
satisfied that
the truth has been told. The cautionary rule referred to by DE
VILLIERS JP in 1932 [1932 OPD at 80] may be a guide
to a right
decision but it does not mean "that the appeal must succeed if
any criticism, however slender, of the witnesses'
evidence were well
founded'' . . . . It has been said more than once that the exercise
of caution must not be allowed to displace
the exercise of common
sense.'
[18] Die landdros het
die getuienis van Isaacs in detail en versigtig ontleed en slegs
daarop gesteun in soverre dit gestaaf is
deur ander getuienis.
4
Hy het bevind dat Dias
‘n uitstekende getuie was. Die uitspraak van die landdros toon
aan dat hy ook die getuienis van mev
Vos met die nodige versigtigheid
benader het en dat hy ten regte haar getuienis bevredigend bevind
het.
[19] Malan AR het in
R v Mlambo
5
in ‘n minderheidsuitspraak die volgende gesê.
‘
Moreover, if an accused deliberately takes
the risk of giving false evidence in the hope of being convicted of a
less serious crime
or even, perchance, escaping conviction altogether
and his evidence is declared to be false and irreconcilable with the
proved
facts a court will, in suitable cases, be fully justified in
rejecting an argument that, notwithstanding that the accused did not
avail himself of the opportunity to mitigate the gravity of the
offence, he should nevertheless receive the same benefits as if
he
had done so.'
6
[20] Mev Vos se getueinis dat die goedere wat in die
onderhawige geval gesteel is by hulle huis aangebring is, word
gestaaf deur
die gesteelde faksmasjien en ander goedere wat in hulle
huis gevind is. Sy het die gesteelde bakkie identifiseer as een van
die
voertuie waarmee die twee appellante gesteelde goedere by die Vos
woning op die aand van die inbraak afgelaai het. Alhoewel hierdie
getuienis gedurende kruisvraging afgewater is na ‘n
‘soortgelyke bakkie’, staan dit vas dat daar die betrokke
aand net een bakkie ter sprake was. Die afleiding is onafwendbaar dat
die bakkie wat in Welgemoed gesteel is, gebruik is om die
gesteelde
goedere te vervoer en af te laai. Mev Vos het getuig dat sy nie weer
die betrokke bakkie gesien het nie terwyl Isaacs
getuig het dat hy na
daardie inbraak dit die eerste keer weer gesien het die aand van 6
Februarie 1996 tydens die lokval.
[21] Indien die getuienis as ‘n geheel gesien
word, is die getuienis van die appellante nie redelik moontlik waar
nie. Die
appellante se getuienis staan in skerp kontras tot die
getuienis van Dias, asook die getuienis van Coetzee, Campher en Keet
wat
deur die verhoorhof aanvaar is. Die staat het bo redelike twyfel
bewys dat Vos die gesteelde bakkie wou verkoop en ‘n afspraak
met Isaacs gemaak het om die bakkie aan ‘n voornemende koper te
wys. Douman het met die bakkie aangery gekom en hy is arresteer
terwyl hy Dias vir ‘n toetsrit geneem het. Vos en Deppe was nie
op die toneel ten einde ‘n wapentransaksie te beklink
nie, maar
om die bakkie te verkoop. Die bakkie forensies verbind met die
bourommel by Douman se huis. Die landdros was dus korrek
om die
getuienis van die appellante te verwerp.
[22] In ‘n artikel deur B C Naude ‘The
probative value of post-offence conduct evidence’ (2012) Vol 33
2
Obiter
320 op 330 bespreek hy welke afleidings gemaak kan
word teen ‘n beskuldigde, in gevalle waar bewys word dat hy
leuens gedurende
die ondersoek van ‘n saak, of daarna, vertel
het:
‘
Lies can
generally be used to used to discredit the accused’s testimony
but not to infer guilt. In this regard a distinction
can be drawn
between “credibility lies” and “probative lies”.
In
Zoneff
v R
[[2000]
200 CLR 234
238] Kirby J explains the difference:
“
The
former are said to be those which, according to their content, affect
the credibility of the accused’s evidence and thus
the weight
which the jury may give to other testimony of the accused. In this
sense, a conclusion that the accused has lied upon
one matter, even
peripheral to the offence charged, may make the jury scrutinise with
more care (perhaps scepticism) other testimony
given by the accused.
It might, in this way, contribute
indirectly
to the rejection of the accused’s version of critical events
and the acceptance of that pronounced by the prosecution. Probative
lies, on the other hand, are those ‘which naturally indicate
guilt . . . a hard test to satisfy’ . . . This is a ‘hard
test’ precisely because it is rare that a lie about a
particular matter will be so crucial as, of itself, if proved, to
establish
directly
guilt beyond reasonable doubt of a criminal offence.”’
[23] In
S
v Mtsweni
7
het Smalberger WnAR,
die impak van leuens van ‘n beskuldigde bespreek en die
benadering soos volg uiteengesit:
'Terwyl die leuenagtige getuienis of ontkenning van 'n beskuldigde
van belang is wanneer dit by die aflei van gevolgtrekkings en
die
bepaling van skuld kom, moet daar teen gewaak word om oormatige gewig
daaraan te verleen. Veral moet daar gewaak word teen
'n afleiding
dat, omdat 'n beskuldigde 'n leuenaar is, hy daarom waarskynlik
skuldig is. Leuenagtige getuienis of 'n valse verklaring
regverdig
nie altyd die uiterste afleiding nie. Die gewig wat daaraan verleen
word, moet met die omstandighede van elke geval verband
hou. Hierdie
benadering is onlangs bevestig in
S v Steynberg
1983 (3) SA
140
(A) waarin die denkrigting in
R v Mlambo
1957 (4) SA 727
(A) op 738B-D en die aanvaarde uitgangspunt in
Goodrich
v
Goodrich
1946 AD 390
op 396 in oënskou geneem is, en die
korrekte toepassing van die
Mlambo
-benadering toegelig is. By
die beoordeling van leuenagtige getuienis deur 'n beskuldigde moet
daar, onder meer, gelet word op:
(a)
Die aard, omvang en wesenlikheid van die leuens, en of
hulle noodwendig op 'n skuldbesef dui.
(b)
Die beskuldigde se ouderdom, ontwikkelingspeil, kulturele
en maatskaplike agtergrond en stand in soverre hulle 'n
verduideliking
vir sy leuens kan bied.
(c)
Moontlike redes waarom mense hulle tot leuens wend,
byvoorbeeld omdat in 'n gegewe geval 'n leuen meer aanneemlik as die
waarheid
mag klink.
(d)
Die neiging wat by sommige mense mag onstaan om die
waarheid te ontken uit vrees dat hulle by 'n misdaad betrek gaan
word, of omdat
hulle vrees dat erkenning van hulle betrokkenheid by
'n voorval of misdaad, hoe gering ook al, gevare inhou van 'n
afleiding van
deelname en skuld buite verhouding tot die waarheid.'
[24] Pas mens hierdie benadering op die huidige geval
toe dan is ek van mening dat die feit dat die appellant as rede vir
hulle
teenwoordigheid by die stasie ‘n valse verduideliking
voorgehou het, daarop dui dat albei bewus was dat die voertuig
gesteel
was. Dit op sigself regverdig nie die verdere afleiding dat
hulle aandadig was aan die huisbraak en diefstal nie. Dit is egter
nie die enigste getuienis teen hulle nie.
[25] Mev Vos se
getuienis bied stawing vir Isaacs se getuienis dat albei appellante
betrokke was by die huisbraak en diefstal van
die bakkie en ander
goedere, aangesien sy bevestig het dat hulle die gesteelde goedere
met ‘n wit bakkie die aand van die
inbraak kom aflaai het.
Getuienis van sulke resente besit van gesteelde goed laat slegs vir
een afleiding ruimte. In
S
v Mavinini
8
is bevind dat die
besit van ‘n voertuig binne 24 uur na ‘n roof, tesame met
die appellant se optrede en vals nommerplaat
op die voertuig, sonder
‘n aanvaarbare verduideliking van sodanige besit, aandui dat hy
noodwendig een van die rowers moes
gewees het. In die onderhawige
geval is die besit van die bakkie deur die appellante binne enkele
ure na die huisbraak en diefstal,
insgelyks aanduidend van hulle
betrokkenheid daarby.
[26] Ek is van mening dat die kumulatiewe effek van die
omstandigheidsgetuienis gelees met die getuienis van mev Vos en
Isaacs van
so aard is dat die staat daarin geslaag het om die skuld
van die appellante bo redelike twyfel te bewys.
[27] Gevolglik word die appèl van beide
appellante van die hand gewys.
_________________________
I Schoeman
Waarnemende Appél Regter
Verskynings
Vir Appellant; M Calitz 1
ste
Appellant
Opdrag deur:
Regshulp Suid-Afrika, Kaapstad
Regshulp Suid-Afrika, Bloemfontein
Vir Respondent: L J Badenhorst
Opdrag deur:
Die Direkteur van Openbare Vervolgings,
Kaapstad
Die Direkteur van Openbare Vervolgings,
Bloemfontein
1
S
v Mkohle
1990 (1) SASV 95 (A) te 98 f-g.
2
S
v Hlapezula & others
1965 (4) SA 439
(A) te 440D-H.
3
S
v Sauls & others
1981 (3) SA 172
(A) te 180E—G.
4
Soos
wat ook gebeur het in
S v Selebi
2012 (1) SA 487
(HHA) para 22--23 en 84.
5
R
v Mlambo
1957 (4) SA 727
(A) te 738.
6
Die
minderheidsuitspraak is met goedkeuring aangehaal in
S v Rama
1966 (2) SA 395
(A) te 401C.
7
S
v Mtsweni
1985 (1) SA 590
(A) op 593I - 594D.
8
S
v Mavinini
2009 (1) SASV 523 (HHA)
para 6.