About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg
>>
2010
>>
[2010] ZAGPJHC 177
|
|
S v Smith and Another (CC 18/10) [2010] ZAGPJHC 177 (4 November 2010)
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN
SUID-AFRIKA
(Rondgaande Plaaslike Afdeling
vir die Oostelike Rondgang Distrik)
Saaknr. CC 18/10
Date:04/11/2010
In
die saak van:
DIE
STAAT
versus
BERNARDUS
EDWARD SMITH en CINDY ANNE SNYMAN
UITSPRAAK
_
MEYER, R
[1] Beskuldigde nr 1, Mnr
Bernardus Edward Smith, en beskuldigde nr 2, Me Cindy Snyman, staan
elk tereg op ‘n aanklag van
moord (aanklag 1) en ‘n
aanklag van roof met verswarende omstandighede soos omskryf in
artikel 1 van die Strafproseswet Nr
51 van 1977 (aanklag 2). Dit
word in die akte van beskuldiging beweer dat die beskuldigdes op of
omtrent 3 tot 4 November 2009
en te of naby Beyerstraat, Ermelo,
Johannes Gerhardus Snyman (‘die oorledene’) wederregtelik
en opsetlik gedood het
en ook dat hulle hom wederregtelik en opsetlik
aangerand het en met geweld ‘n Samsung E250 selfoon, wat sy
eiendom of in
sy regmatige besit was, uit sy besit geneem het.
[2] Die beskuldigdes het aan
die ten laste gelegde misdrywe onskuldig gepleit. Beskuldigde nr 1
het egter ‘n pleit van skuldig
aan aanranding aangebied, maar
sodanige pleit was vir die staat onaanvaarbaar. Die beskuldigdes het
verkies om verklarings te
doen wat die basisse van hulle verdediging
uiteensit. Hulle pleitverduidelikings is beliggaam in skriftelike
bekentenisse wat
hulle op 8 November 2009 voor ‘n landdros
afgelê het (bewysstukke ‘A’ en ‘B’).
[3] Die beskuldigdes het
formele erkennings in terme van art 220 van die Strafproseswet
gemaak. Hulle het die oorledene se identiteit
erken. Beskuldigde nr
2 het erken dat die oorledene op die datum en plek in die akte van
beskuldiging gemeld gesterf het as gevolg
van beserings wat hy
opgedoen het en dat hy, vanaf die toedien van die beserings, tot sy
liggaam op 5 November 2009 nadoods ondersoek
is deur Dr Anthonie
Kraft, geen verdere beserings opgedoen het nie. Die korrektheid van
die feite en bevindings soos genotuleer
tydens die lykskouing is ook
erken (bewysstuk ‘D’). Die verdere erkennings het
betrekking op ‘n foto-album van
die toneel en sleutel daartoe
(bewysstuk ‘E’) en ‘n foto album van die lykskouing
(bewysstuk ‘F’).
[4] Dit is gepas om ter
aanvang die verhoudings en verwantskappe tussen die beskuldigdes
onderling en tussen hulle en die staatsgetuies
uit te lig.
Beskuldigde nr 2 is ‘n 24-jarige vrou en sy was getroud met die
oorledene ten tye van sy dood. Hulle het twee
kinders, ‘n
seuntjie van vier en ‘n dogtertjie van drie jaar oud. Die
staatsgetuie, Me Veronica Steyn (‘Veronica’),
is tans 18
jaar oud. Sy het ‘n paar weke voor die oorledene se dood by
hom en beskuldigde nr 2 ingetrek nadat sy ‘n
uitval met haar pa
gehad het. Haar ma woon in Australië. Haar getuienis dat sy
vir beskuldigde nr 2 ken sedert sy ‘n
dogtertjie van ongeveer 9
jaar oud was, was nie in geskil geplaas toe sy kruisondervra was nie.
‘n Redelike afleiding uit
die getuienis is dat sy en
beskuldigde nr 2 ook baie dinge saamgedoen het gedurende die tyd wat
Veronica by hulle ingewoon het.
Die oorledene, wat 31 jaar oud was
ten tye van sy dood, was vir haar soos ‘n pa. Sy het nie
gewerk nie en die oorledene
en beskuldigde nr 2 het na haar omgesien.
Daar is vier woonstelle op die perseel waar die oorledene, sy gesin
en Veronica ten
tye van sy dood gewoon het. Die staatsgetuie, Mnr
Lucas van der Schyff (‘Lucas’), het in een van die ander
woonstelle
op die perseel gewoon. Hy het die oorledene en sy gesin
redelik goed geken en hulle was gereeld saam. Lucas en Veronica het
gedurende
November 2009 ‘n verhouding met mekaar gehad. Die
staatsgetuie, Mnr Johan Stapelberg (‘Stapes’), is 24 jaar
oud. Hy en beskuldigde nr 1 het mekaar sowat vier maande geken voor
die dood van die oorledene. Hulle was baie goeie vriende.
Beskuldigde no 1 het dikwels by Stapes oorgebly vir selfs langer as
‘n week en ook andersom. Onder kruisverhoor het beskuldigde
nr
1 getuig dat hy en Stapes
‘alles
saamgedoen het’
en ter uitbreiding daarvan het hy genoem dat hulle onder andere saam
motorfiets gery en saam uitgegaan het. Beskuldigde nr 2 en
Veronica
het beskuldigde nr 1 en Stapes Vrydagaand, 31 Oktober 2009, ontmoet.
Hierdie ontmoeting en die daaropvolgende gebeurtenisse
het veroorsaak
dat die twee beskuldigdes teregstaan op die klagtes vervat in die
akte van beskuldiging. Beskuldigde nr 1 was ook
bevriend met ene
Chantel. Hulle vriendskap het daartoe gelei dat beskuldigde nr 1 en
die staatsgetuie, Mnr Eugene Ahlfeldt (‘Eugene’),
wie op
daardie stadium in ‘n verhouding met Chantel betrokke was,
mekaar sowat twee tot drie weke voor die dood van die oorledene
leer
ken het waarna beskuldigde nr 1 gereeld by Eugene gaan kuier het.
Eugene en die staatsgetuie Veronica het voorheen ook ‘n
verhouding van korte duur gehad. Dr Anthonie Kraft praktiseer as
mediese dokter reeds vir die afgelope 30 jaar en as patoloog
vir die
afgelope 25 jaar. Hy, soos wat ek reeds gemeld het, het die
oorledene nadoods ondersoek. Kaptein Schmulian is die
ondersoekbeampte
in hierdie saak.
[5] Dit is gemenesaak dat
beskuldigde nr 2 en die oorledene Vrydagaand, 31 Oktober 2009, ‘n
uitval gehad het. Veronica het
getuig dat die rede vir die uitval
was dat sy en beskuldigde nr 2 na ‘n vermaaklikheidsplek
genaamd Rebels wou gaan om te
dans en die oorledene daarteen kapsie
gemaak het. Beskuldigde nr 2 daarteenoor het getuig dat sy nie saam
met Veronica na Rebels
wou gaan nie, maar dat die oorledene
aangedring het dat sy gaan omdat hy nie wou hê dat Veronica
alleen moes stap nie. Dit,
volgens haar, was die rede vir die
woordewisseling tussen haar en die oorledene. Die uiteinde was dat
beskuldigde nr 2 en Veronica
wel saam uitgegaan het. Veronica het
getuig dat beskuldigde nr 2 haar onderweg na Rebels vertel het dat
die oorledene in haar
pad was en dat sy van hom wou skei, maar dat sy
bang was dat sy hulle twee kinders in die proses sou verloor. Sy het
Veronica
ook vertel van ‘n buite-egtelike verhouding tussen
haar en ‘n buurman, ene Michael. Beskuldigde nr 2 het ontken
dat
sy Veronica van so ‘n buite-egtelike verhouding vertel het
of dat sy een gehad het. Veronica se getuienis dat hulle so teen
middernag by Rebels opgedaag het en daar gebly het tot sluitingstyd,
wat so teen 2:00 vm was, was nie in geskil geplaas nie. Beskuldigde
nr 2 het nietemin getuig dat hulle so om en by 10:00 nm by Rebels
opgedaag het en dat hulle weer so teen middernag of 1 uur vm
daar weg
was.
[6] Stapes en beskuldigde nr 1
het getuig dat hulle dié Vrydagaand ook by Rebels was.
Veronica was nie seker of beskuldigde
nr 1 en beskuldigde nr 2 mekaar
daar ontmoet het nie. Veronica het met haar eie vriende gekuier.
Dit het Stapes ook bevestig.
Stapes het getuig dat hy reeds by
Rebels voorgestel is aan beskuldigde nr 2 en aan Veronica. Hy het
opgemerk dat beskuldigde
nr 1 en beskuldigde nr 2 die heeltyd saam
was en dat hulle ook saamgedans het. Beskuldigde nr 1 het ook
bevestig dat hy en beskuldigde
nr 2 mekaar by Rebels ontmoet het. Hy
het egter ontken dat hulle saamgedans het en het getuig dat hulle net
oor motorfietse gesels
het. Sy getuienis in hierdie verband is
teenstrydig met ‘n stelling wat namens hom onder kruisverhoor
aan Veronica gemaak
is dat hy en beskuldigde nr 2 mekaar eers later
by ‘n na-geselligheid (die sogenaamde
‘after-party'
)
ontmoet het. Beskuldigde nr 2 het getuig dat sy nie beskuldigde nr 1
of Stapes by Rebels ontmoet of gesien het nie. Sy het hulle
eers by
die na-geselligheid ontmoet.
[7] ‘n Klomp mense gaan
na die na-geselligheid wanneer Rebels so teen 2:00 vm op ‘n
Saterdagoggend sluit. Op hierdie
geleentheid was die na-geselligheid
in die buitelug by ‘n plaaslike dam genaamd
‘Petdam’
.
Daar is ook ‘n vermaaklikheidsplek by name
‘Upstairs’
net langs Petdam. Veronica het getuig dat beskuldigde nr 2 begerig
was om die na-geselligheid by te woon. Hulle was eers na Upstairs
en
daarvandaan na ‘n braaiplek by Petdam waar hulle die
na-geselligheid gevind het. Veronica het nie lus gehad om te gaan
nie. Dit was egter namens beskuldigde nr 2 aan Veronica gestel dat
dit sy was wat aangedring het om te gaan. Beskuldigde nr 2
het ook
dan getuig dat sy die plekke nie geken het nie en dat sy Veronica
vergesel het om te
‘...
gaan kyk.’
Veronica se getuienis dat sy swanger was, dat sy moeg was, dat sy
koud gekry het en dat sy vir hulle ‘n geleentheid huistoe
gereël het terwyl hulle by Petdam was, maar dat beskuldigde nr 2
nie wou huistoe gaan nie, was egter nie in geskil geplaas
nie.
[8] Dit is gemenesaak dat
Stapes en beskuldigde nr 1 reeds by die na-geselligheid was toe
beskuldigde nr 2 en Veronica daar opgedaag
het. Stapes en
beskuldigde nr 1 het ‘n vuur gemaak en beskuldigde nr 2 en
Veronica het by hulle aangesluit. Die ontmoeting
het begin met ‘n
algemene gesprek wat oorgegaan het in een aangaande motorfietse.
Stapes het ‘n wit motorfiets gery.
Beskuldigde nr 2 het vertel
dat haar pa ‘n wit motorfiets gehad het wat hy wou verkoop.
Beskuldigde nr 1 het genoem dat
hy ‘n motorfiets wou koop en hy
wou by beskuldigde nr 2 weet of sy nie ‘n foto van haar pa se
motorfiets vir hom kon
wys nie. Sy het nie een gehad nie, maar het
aangebied om haar pa se telefoonnommer vir hom te gee sodat hy hom
self kon kontak.
Beskuldigde nr 1 het egter verkies dat sy eerder
haar nommer vir hom gee wat sy toe gedoen het.
[9] Veronica het op ‘n
bankie gaan sit. Sy was, soos reeds gemeld, swanger en moeg. Sy het
getuig dat die beskuldigdes en
Stapes op ‘n stadium weggeraak
het en dat sy na hulle gaan soek het. Sy het hulle sien stap uit ‘n
bos wat sy onder
kruisverhoor verduidelik het gewoon lang gras te
wees. Sy het gesien hoe die beskuldigdes mekaar soen. Veronica het
getuig dat
sy beskuldigde nr 2 daaraan herinner het dat sy ‘n
man en kinders het.
[10] Stapes het getuig dat die
beskuldigdes na ‘n area met gras gegaan het wat sowat 20 - 30
meter van die vuur af weg was.
Stapes het later bekommerd geraak en
na hulle gaan soek. Hy het hulle gevind waar hulle in die gras teen
‘n walletjie by
die dam sit en soen en vry. Hy het by hulle
aangesluit. Dit was aan Stapes gestel onder kruisverhoor deur
beskuldigde nr 1 se
advokaat dat beskuldigde nr 2 op ‘n stadium
op sy skoot gaan sit het en hy het geredelik toegegee dat dit bes
moontlik gebeur
het. Stapes het getuig dat beskuldigde nr 2
gedurende hierdie gesprek vertel het van haar man wat haar slaan en
hulle kinders
molesteer. Sy het Stapes gevra dat hy haar man vir
haar
‘moet
uithaal’
.
Sy het hom ook ‘n beloniging van R10, 000.00 daarvoor
aangebied. Vir Stapes beteken ‘n versoek om iemand uit te
haal
eenvoudig ‘n versoek om die persoon te dood. Sy interpretasie
is myns insiens juis. Stapes het die versoek en aanbod
geweier.
Stapes het getuig dat beskuldigde nr 1 die gesprek gehoor het maar
dat hy net stilgebly het. Stapes het voorts getuig
dat die drie van
hulle daarna terug vuur toe gestap het en onderweg daarheen het
beskuldigde nr 2 weer dieselfde versoek aan hom
gerig en het hy dit
nogmaals geweier.
[11] Stapes is onder
kruisverhoor uitgevra waarom beskuldigde nr 2 hom kwansuis sou vra om
haar man
‘uit
te haal’
op die eerste geleentheid waarop sy hom ontmoet. Sy antwoord was dat
beskuldigde nr 2 daarvan bewus was dat hy ‘n
‘biker’
of motorfietsryer is en dat die embleem van die motorfietsryklub
‘Max’
op sy baadjie te siene was. Hy het getuig dat Max een van die
grootste motorfietsryklubs in Suid-Afrika is. Max - Secunda, waarvan
hy ‘n lid was, het, aldus Stapes, ‘n reputasie dat hulle
‘rowwe
ouens’
is en dat
‘...
mense is bang vir bikers’.
[12] Tydens sy hoofgetuienis
het beskuldigde nr 1 getuig dat beskuldigde nr 2 hom en Stapes
eenkant toe geroep het. Sy het beskuldigde
nr 1 gevra
‘...
om haar man ‘n pak slae te gee want hy mishandel haar en die
kinders.’
Hy het getuig dat die aangeleentheid net daar gelaat is en dat
hulle verder gekuier het. Beskuldigde nr 2 en Veronica het volgens
hom so teen 5:00 vm huistoe vertrek. Onder kruisverhoor het
beskuldigde nr 1 met meer breedvoerige en teenstrydige weergawes na
vore gekom. Hy het onder andere getuig dat beskuldigde nr 1, Stapes
en hyself eenkant toe gestap het. Beskuldigde nr 2 het hulle
vertel
hoe haar man haar en hulle kinders mishandel en sy het hulle versoek
om hom ‘n pak slae te gee. Beskuldigde nr 1
het omgedraai-
weggeloop en beskuldigde nr 2 en Stapes alleen gelaat. Hy het na die
vuur teruggekeer en Veronica gevra of beskuldigde
nr 2 regtig so
swaar kry soos wat sy vir hulle pas vertel het. Veronica het dit
bevestig. Beskuldigde nr 1 het getuig dat hy
gevolglik nie
teenwoordig was tydens die gesprek wat beskuldigde nr 2 met Stapes
gehad het nie en dat hy nie weet wat presies sy
vir Stapes gevra het
nie. Sy getuieinis in hierdie verband is natuurlik teenstrydig met
dié van Stapes, wat nie in geskil
geplaas is toe hy namens hom
kruisondervra is nie. Die aard en inhoud van die versoek en die
aanbod van ‘n geldelike teenprestasie
waaroor Stapes getuig het
is in geskil geplaas, maar nie sy getuienis dat beskuldigde nr 1 stom
bygestaan het toe beskuldigde nr
2 ‘n versoek aan Stapes gerig
het nie. Beskuldigde nr 1 het voorts getuig dat hy weer by
beskuldigde nr 2 en Stapes gaan
aansluit het nadat hy met Veronica by
die vuur gesels het. Ook op hierdie punt het hy homself weerspreek
deur te getuig dat Veronica
hom vergesel het toe hy na Stapes en
beskuldigde nr 2 teruggekeer het. Daar opgedaag, het Stapes hulle
verlaat en terug vuur toe
gegaan. In Stapes se afwesigheid het
beskuldigde nr 2 en hy die aangeleentheid verder bespreek.
Beskuldigde nr 2 het hom versoek
om haar man ‘n pak slae te
gee. Hy het geglo wat sy van haar man vertel het en die
aangeleentheid is daar gelaat. Bo en
behalwe die interne
teenstrydighede in sy getuienis was die weergawe waarmee hy onder
kruisverhoor vorendag gekom het nóg
aan Veronica nóg
aan Stapes gestel toe hulle kruisondervra was. Onder kruisverhoor
het beskuldigde nr 1 eers toegegee dat
daar wel ‘n vryery
tussen hom en beskuldigde nr 2 kon wees soos wat Stapes getuig het,
maar hierdie toegewing het hy onmiddelik
weerspreek deur te getuig
dat hy bloot vir haar ‘n soengroet gegee het.
[13] Beskuldigde nr 2 het
getuig dat sy alleen gaan stap het na die aanvanklike gesprek rondom
die vuur. Beskuldigde nr 1 het haar
gevolg en die twee van hulle het
oor Veronica gepraat. ‘n Rukkie later het Stapes opgedaag en
gevra waar hulle was. Die
drie van hulle het teruggestap vuur toe.
Met hierdie weergawe het beskuldigde nr 2 eers vorendag gekom toe sy
getuig het en dit
was nie aan óf Veronica óf
beskuldigde nr 1 gestel toe hulle kruisondervra was nie. Beskuldigde
nr 2 het ook enige
vryery of soenery tussen haar en beskuldigde nr 1
ontken en ook aangevoer dat beskuldigde nr 1 haar net ‘n
soengroet op die
wang gegee het. Sy het beide Stapes en beskuldigde
nr 1 se weergawes ontken dat sy hulle van haar ongelukkige huwelik en
van haar
man se wandade vertel het, dat sy Stapes gevra het om haar
man
‘uit
te haal’
,
dat sy hom geld daarvoor aangebied het, of dat sy beskuldigde nr 1
versoek het om vir haar man ‘n pak slae te gee. Haar
tydskatting was dat sy en Veronica so teen 4:00 – 4:30 vm terug
huistoe gestap het en dat hulle so teen 5:00 vm tuis aangekom
het.
Dié van Veronica was so tussen 5 en 6 uur vm. Beskuldigde nr
1 en Veronica het beide getuig dat daar met hulle tuiskoms
weer ‘n
woordewisseling tussen beskuldigde nr 2 en die oorledene was omdat
hulle toe eers tuisgekom het.
[14] Ek onderbreek die
chronologie van die gebeure kortliks om na ‘n ander geskilpunt
te verwys. Veronica het getuig dat
beskuldigde nr 2 beskuldigde nr 1
‘biker’
genoem het. Dit was namens beskuldigde nr 1 aan Veronica gestel dat
hy nooit die bynaam
‘biker’
gehad het nie. Stapes het daarna getuig dat hy beskuldigde nr 1
geken het by name
‘biker’
en ook
‘appy’
.
Beskuldigde nr 1 het nie ‘n motorfiets gehad nie. Dit was op
sy eie getuienis ‘n
‘probleem’
vir hom en hy wou graag een bekom het om dan ook ‘n volwaardige
lid van die Max motorfietsryklub te wees. Stapes het getuig
dat
beskuldigde nr 1 onder die Max motorfietsryers bekend gestaan het as
‘biker’
en ook
‘appy’
.
Hy het nie ‘n motorfiets gehad het nie en daarom dan ook die
bynaam
‘appy’
.
Teenstrydig met wat vroëer in die verhoor aan Veronica gestel
is het beskuldigde nr 1 sy weergawe aangepas en is dit aan
Stapes
gestel dat
‘biker’
nie ‘n algemene bynaam van beskuldigde nr 1 was nie, maar dat
dit slegs onder die Max motorfietsryers gebesig was.
[15] Beskuldigde nr 2 het
getuig dat beskuldigde nr 1 haar Maandagoggend, 3 November 2009,
geskakel het en dat die oorledene haar
selfoon beantwoord en aan haar
oorhandig het. Beskuldigde nr 1 wou weet of sy al met haar pa
gepraat het en ‘n foto van
die motorfiets gekry het. Sy het
ontkennend geantwoord. Beskuldigde nr 2 het getuig dat hierdie
oproep veroorsaak het dat die
oorledene haar van ‘n
buite-egtelike verhouding met beskuldigde nr 1 beskuldig het. Sy en
die oorledene het die aangeleentheid
uitgepraat nadat sy aan hom
verduidelik het dat die man wat haar gebel het bloot navraag gedoen
het oor haar pa se motorfiets.
Beskuldigde nr 1 het onder
kruisverhoor toegegee dat hy beskuldigde nr 2 Maandag, 3 November
2009,
‘geskakel’
het om uit te vind of sy ‘n foto van die motorfiets gekry het.
Onder kruisverhoor van beskuldigde nr 2 namens beskuldigde
nr 1 het
dit geblyk dat, wat beskuldigde nr 1 skynbaar met sy toegewing bedoel
het, was dat hy aan haar ‘n sms boodskap gestuur
het. Ongeag
daarvan of beskuldigde nr 1 haar gebel of aan haar ‘n sms
boodskap gestuur het, het beskuldigde nr 2 se weergawe,
dat haar man
haar selfoon beantwoord het, eers tydens haar getuienis na vore
gekom. Dit was nóg in haar pleitverduideliking
beweer nóg
was dit aan beskuldigde nr 1 gestel toe hy namens haar kruisondervra
is.
[16] Veronica en beskuldigde
nr 2 was dit eens dat hulle Dinsdagoggend, 4 November 2009, so teen
8:00 vm na die Dros restaurant
gegaan het om werk te soek. Hulle
moes ‘n bietjie wag vir die eienaar of bestuurder om op te
daag. Beskuldigde nr 2 het
vir Veronica gesê dat sy afgespreek
het om
‘biker’
oftewel beskuldigde nr 1 om 9:00 vm by die Spur restaurant te
ontmoet. Beskuldigde nr 2 het getuig dat beskuldigde nr 1 haar weer
Dinsdagoggend insake haar pa se motorfiets gebel het en dat hy haar
gevra het om hom by die Spur te ontmoet. Sy het glo ingestem
omdat
sy hom van-aangesig-tot-aangesig wou vra om haar nie weer te skakel
nie oor die probleem wat die oorledene die vorige dag
met sy oproep
aan haar gehad het. Beskuldigde nr 1 het hierdie weergawe van
beskuldigde nr 2 ontken en getuig dat dit sy was wat
hom so teen 7
uur Dinsdagoggend gebel het en dat sy hom versoek het om haar 9:00 vm
agter die Spur te ontmoet. Beskuldigde nr
1 se weergawe wat hierdie
aspek aanbetref is meer waarskynlik as dié van beskuldigde nr
2. Indien dit wel beskuldigde nr
1 was wat beskuldigde nr 2 weer in
verband met haar pa se motorfiets geskakel het en indien sy nie
verdere oproepe van hom wou
ontvang nie, kon sy dit tog eenvoudig
telefonies gesê het, of kon sy hom versoek het om voortaan
regstreeks met haar pa oor
die motorfiets te kommunikeer. Onder
kruisverhoor kon sy geen aanvaarbare verduideliking aanbied waarom sy
ingestem het om ‘n
man wat sy nouliks geken het agter die Spur
te ontmoet nie. Verder het sy en die oorledene die aangeleentheid op
haar eie weergawe
tog uitgepraat nadat sy aan die oorledene
verduidelik het dat die oproep ‘n navraag oor haar pa se
motorfiets was. Waarom
dit vir beskuldigde nr 1 nodig was om haar
agter die Spur te ontmoet is vir my duister. Uit wat volg blyk dit
dat sy egter ‘n
rede gehad het waarom sy hom sou wou ontmoet
het.
[17] Dit is gemenesaak dat
Veronica beskuldigde nr 2 na die Spur vergesel het. Veronica het
getuig dat onderweg daarheen het beskuldigde
nr 2 haar vertel dat sy
‘moeg’
was vir die oorledene en dat sy iemand gevind het om hom
‘dood
te maak’
.
Hierdie beweerde mededeling aan Veronica was deur beskuldigde nr 2
ontken.
[18] Veronica het getuig dat
beskuldigde nr 1 en beskuldigde nr 2 buite die Spur en in haar
teenwoordigheid beplan en afgespreek
het om die oorledene dood te
maak. Beskuldigde nr 2 se uitgesproke woorde aan beskuldigde nr 1
was
‘maak
dit stadig en pynvol.’
Die beskuldigdes het afgespreek dat die oorledene daardie aand
doodgemaak sou word. Die oorledene was werkloos en het werk gesoek.
Veronica het getuig dat beskuldigde nr 2 vorendag gekom het met die
idee om die oorledene te laat uitnooi vir ‘n werksonderhoud
wat
sogenaamd daardie aand sou plaasvind in die industriële gebied
van Ermelo voor ‘n besigheid bekend as ‘Leaders’.
Die afgespreekte plan was dat beskuldigde nr 1 hom daar sou inwag en
doodmaak. Veronica was terstond betrek. Sy is deur beskuldigde
nr 2
aangesê om die oorledene daar en dan te skakel, wat sy dan ook
gedoen het met beskuldigde nr 2 se selfoon, wat sy aan
Veronica
oorhandig het. Veronica het vir die oorledene gesê
‘...hier
is ‘n man wat vir jou kan werk gee’
en die selfoon aan beskuldigde nr 1 oorhandig. Hy het gesê dat
hy die oorledene slegs daardie aand kon ontmoet aangesien
hy Pretoria
toe moes gaan, dat hy hom om 8 uur nm by ‘Leaders’ sou
ontmoet en dat die oorledene sy
curriculum
vitae
moes
saambring. Dié reëling het die oorledene klaarblyklik
gepas.
[19] Beskuldigde nr 2 het
getuig dat by die Spur aangekom het beskuldigde nr 1 reeds buite
gewag. Sy het hom gevra om haar nie
weer te kontak nie omdat sy en
die oorledene ‘n rusie gehad het oor sy oproep en dat die
oorledene haar beskuldig het van
‘n buite-egtelike verhouding
met hom. Sy het hom ook vertel dat die oorledene haar geslaan het,
dat hy nie juis lief was
vir hulle kinders nie, dat hy hulle verstoot
en dat hy hulle dogtertjie molesteer. Beskuldigde nr 1 se reaksie
was dat
‘so
‘n person moet ‘n les geleer word.’
Beskuldigde nr 2 het saamgestem. Die plan wat hulle toe beraam het
was dat beskuldigde nr 1 die oorledene daardie aand
‘‘n
goeie pak slae’
sou gee. Beskuldigde nr 1 het vir beskuldigde nr 2 gesê dat
haar man op soek was na werk. Hierna het Veronica, aldus beskuldigde
nr 2, al die reëlings eiehandig oorgeneem. Veronica het op eie
inisiatief beskuldigde nr 2 se selfoon gevat en die oorledene
daarmee
geskakel. Veronica het vir die oorledene gesê dat sy vir hom
werk gekry het. Sy het voorts vir hom gesê dat
die voornemende
werkgewer hom net daardie aand kon spreek of anders eers oor ‘n
paar dae. Daarop het Veronica die selfoon
aan beskuldigde nr 1
oorhandig en hy het bevestig dat hy die oorledene net daardie aand te
woord kon staan of anders op ‘n
ander dag. ‘n
Werksonderhoud daardie aand het die oorledene klaarblyklik gepas.
Veronica het beskuldigde nr 1 gevra of
hy weet waar die
‘dieseldepot’
was wat hy bevestig het en sy het onderneem om hom te laat weet waar
hy en die oorledene mekaar sou ontmoet. Ek moet byvoeg dat
die
dieseldepot ook in die industriële gebied van Ermelo geleë
is. Beskuldigde nr 2 het getuig dat sy geneë was
met die plan.
In haar verklaring aan ‘n landdros wat ter aanvang van hierdie
verhoor as haar pleitverduideliking aangebied
is, het beskuldigde nr
2 nóg Veronica daarvan beskuldig dat die wyse waarop die
oorledene uitgelok sou word na die beoogde
ontmoeting tussen hom en
beskuldigde nr 1 haar geesteskind was, nóg het sy haar daarvan
beskuldig dat sy terstond al die
reëlings betreffende die
beplande aanval op die oorledene oorgeneem en op eie inisiatief
getref het.
[20] Beskuldigde nr 1 se
getuienis aangaande die ontmoeting by die Spur is dat beskuldigde nr
2 en Veronica hom gevra het om die
oorledene ‘n pak slae te
gee. Die beplanning aldus hom was deur beskuldigde nr 2 en Veronica
gedoen. In sy verklaring aan
‘n landdros, wat ook ter aanvang
van hierdie verhoor as sy pleitverduideliking aangebied is, het hy
ook nie Veronica daarvan
beskuldig dat sy óf by die versoek om
die oorledene aan te val óf by die beplanning daarvan betrokke
was nie. Beskuldigde
nr 1 was dit ook eens dat Veronica die
oorledene gebel het. Hy het getuig dat beskuldigde nr 2 onderneem
het om vir hom ‘n
foto van die oorledene te stuur, want hy het
nie geweet hoe die oorledene lyk nie. Sy getuienis in hierdie opsig
was nie in geskil
geplaas nie. Beskuldigde nr 1 het getuig dat
beskuldigde nr 2 hom ook gevra het om ‘n foto te neem van hoe
haar man uitsien
nadat hy hom ‘n pak slae gegee het en om dit
aan haar te stuur. Sy getuienis in hierdie opsig was ook nie deur
beskuldigde
nr 2 in geskil geplaas toe hy namens haar kruisondervra
was nie. Tydens haar getuienis het beskuldigde nr 2 egter haar
weergawe
aangepas en ontken dat sy beskuldigde nr 1 gevra het om so
‘n foto van haar man te neem en om dit aan haar te stuur.
Beskuldigde
nr 1 het voorts getuig dat beskuldigde nr 2 hom aangesê
het om die oorledene se selfoon te neem sodat die voorval soos ‘n
roof voorkom. Sy getuienis in hierdie opsig was ook nie deur haar in
geskil geplaas nie.
[21] Veronica en die
beskuldigdes was dit eens dat die drie van hulle van die Spur na ‘n
vriend se woonstel gegaan het. Veronica
het getuig dat beskuldigde
nr 1 en beskuldigde nr 2 Vodka en Coca Cola gedrink het. Die
beskuldigdes het net erken dat die twee
van hulle Coca Cola gedrink
het. Veronica en die beskuldigdes was dit ook eens dat hulle
daarvandaan na Rebels toe gegaan het
waar hulle biljart (‘pool’)
gespeel het. Daarna het hulle teruggekeer na die vriend se woonstel.
Veronica het getuig
dat sy op die beskuldigdes in die slaapkamer
afgekom het waar hulle seksuele gemeenskap gehad het. Veronica het
aangedring dat
sy en beskuldigde nr 2 huistoe gaan. Hierdie
getuienis van Veronica was nie deur beskuldigde nr 1 of deur
beskuldigde nr 2 in
geskil geplaas toe sy namens hulle kruisondervra
was nie. Beskuldigde nr 1 het erken dat hy en beskuldigde nr 2 by
hierdie geleentheid
seksuele gemeenskap gehad het. Hy het ook getuig
dat beskuldigde nr 2 reeds die Vrydagaand by Petdam vir hom daartoe
aanleiding
gegee het en hy het daarop gewys dat sy by Petdam ook vir
Stapes aanleiding gegee het deur op sy skoot te sit. Sy getuienis in
hierdie opsig was nie in geskil geplaas toe hy namens beskuldigde nr
2 kruisondervra was nie, behalwe dat sy ontken het dat sy
reeds die
Vrydagaand vir hom aanleiding tot seksuele gemeenskap gegee het.
Onder kruisverhoor het beskuldigde nr 2 uit die bloute
met ‘n
weergawe na vore gekom wat ook Veronica die blaam gee vir die
seksuele gemeenskap wat die beskuldigdes gehad het kort
nadat hulle
‘n afspraak betreffende die oorledene bereik het. Beskuldigde
nr 2 het in hierdie opsig getuig dat sy en Veronica
teen beskuldigde
nr 1 en ‘n ander persoon vroeër die oggend by Rebels
biljart gespeel het. Sy het getuig dat Veronica
en beskuldigde nr 1
voor die spel ooreengekom het dat beskuldigde nr 1 na eie keuse óf
met Veronica óf met beskuldigde
nr 2 seksuele gemeenskap kon
hê indien Veronica en beskuldigde nr 2 die spel verloor. Hulle
het verloor en beskuldigde nr
1 se keuse het op beskuldigde nr 2
geval. Hierdie weergawe was nooit aan óf Veronica óf
aan beskuldigde nr 1 gestel
toe hulle namens beskuldigde nr 2
kruisondervra was nie en is opsigtelik ‘n versinsel.
[22] Veronica het getuig dat
onderweg huistoe het sy en beskuldigde nr 2 die oorledene raakgeloop.
Beskuldigde nr 2 het die moontlike
werksbetrekking aan hom
verduidelik. Hierdie getuienis van Veronica was nie in geskil
geplaas nie. Lucas het getuig dat gedurende
die loop van die dag het
beskuldigde nr 2 en Veronica hom vertel dat toe hulle die oggend gaan
werk soek het hulle iemand ontmoet
wat moontlik vir die oorledene ‘n
werk kon aanbied. Hulle het hom vertel dat die oorledene daardie
aand vir ‘n werksonderhoud
by die dieseldepot sou gaan en dat
hy sy
curriculum
vitae
moes
saamneem. Lucas het voorts getuig dat die oorledene baie opgewonde
was oor die moontlikheid van ‘n werksbetrekking
en dat hy reeds
7 uur daardie aand gereed was om te gaan. Hy het getuig dat Veronica
hom gevra het om nie saam met die oorledene
te gaan nie sodat sy en
hy hulle verhoudingsprobleme kon uitsorteer. Veronica het getuig
dat sy op hierdie wyse gepoog het om
te verhinder dat Lucas die
oorledene vergesel. Veronica het getuig dat voor die oorledene se
vertrek het beskuldigde nr 2 vir
hom gesê dat daar ‘n wit
Escort motorvoertuig vir hom sou wag. Beskuldigde nr 2 het die
oorledene aangemoedig om na
die onderhoud te gaan. Hierdie getuienis
van Veronica is ook nie in geskil geplaas toe sy namens beskuldigde
nr 2 kruisondervra
was nie. Veronica het die oorledene se selfoon
aan hom oorhandig om saam met hom te neem.
[23] Beskuldigde nr 1 het
getuig dat beskuldigde nr 2 ‘n
‘please
call me’
sms aan hom gestuur het. Hy het haar geskakel en sy het vir hom gesê
om die oorledene voor
‘SMP
Logistics’
te ontmoet. SMP Logistics is ook in die industriële gebied van
Ermelo. Beskuldigde nr 2 het hierdie getuienis van beskuldigde
nr 1
ontken en getuig dat Veronica vir die oorledene gesê het
‘dat
hy die man by die dieseldepot’
moes ontmoet en dat Veronica ook beskuldigde nr 1 met beskuldigde nr
2 se selfoon daarvan verwittig het. Veronica is egter nie
met
hierdie getuienis van beskuldigde nr 2 konfronteer toe sy
kruisondervra was nie.
[24] Kapt. Schmulian het
getuig dat beskuldigde nr 1 erken het dat die selfoon wat uitgebeeld
is op bewysstukke E.11 – E.16
syne was. Beskuldigde nr 1 het
Kapt. Schmulian ingelig dat die sms boodskap wat op die selfoon
verskyn (bewysstukke E.11 –
E.13) ‘n boodskap is wat
beskuldigde nr 2 aan hom gestuur het. Hierdie boodskap gee voor om
afkomstig te wees van
‘Cindy
biker’
en lees:
‘
Lat wet my as
dit kla is onthou ek soek ‘n pic van ho as dit kla gedoen is en
di foon hy het ho no sam’.
Beskuldigde nr 1 het Kapt.
Schmulian ook ingelig dat die foto van die manspersoon wat op die
selfoon verskyn (bewysstukke E.14 –
E.15) die foto van die
oorledene is wat beskuldigde nr 2 aan hom gestuur het om vir hom aan
te toon hoe die oorledene lyk. Dit
blyk verder uit hierdie
bewysstukke dat die sms boodskap om 13:01 en die foto om 13:02
ontvang was. Beskuldigde nr 1 se advokaat
het dit op rekord geplaas
dat die toelaatbaarheid van Kapt. Schmulian se getuienis nie in
geskil is nie en dat beskuldigde nr 1
erken dat dit sy selfoon is wat
uitgebeeld word op bewysstukke E.11 – E.16. Kapt. Schmulian se
getuienis was ook nie deur
enigeen van die partye in geskil geplaas
nie. Beskuldigde nr 1 het dit uitdruklik bevestig toe hy getuig het.
Hy het onder andere
getuig dat beskuldigde nr 2 by wyse van die sms
boodskap hom weereens versoek het om ‘n
foto van die
oorledene te neem wanneer hy met hom afgereken het en om die
oorledene van sy selfoon te beroof sodat die insident
soos ‘n
roof voorkom. Hy het egter getuig dat die sms boodskap nie om 13:02
gestuur was nie, maar net na 7:00 nm. Veronica
het ook getuig dat
beskuldigde nr 2 haar daarvan vertel het dat beskuldigde nr 1 aan
haar ‘n foto sou stuur van hoe die oorledene
uitsien nadat
beskuldigde nr 1 met hom klaar was.
[25] Beskuldigde nr 2 het
tydens haar getuienis erken dat sy die foto van die oorledene aan
beskuldigde nr 1 gestuur het net voordat
die oorledene na sy
ontmoeting met beskuldgde nr 1 vertrek het. Sy het egter ontken dat
sy die sms boodskap aan hom gestuur het.
Sy het enige kennis daarvan
ontken en getuig dat Lucas en Veronica op daardie tydstip ook toegang
tot haar selfoon gehad het.
Die suggestie dat Lucas die sms boodskap
sou gestuur het is met inagneming van al die getuienis verregaande en
die suggestie dat
Veronica dit sou gestuur het onwaarskynlik. Dit is
beskuldigde nr 2 wat beweer dat die oorledene haar en die kinders
tenagekom
het en dit is sy wat begerig was om die oorledene in haar
eie woorde
‘...
‘n les te leer’
.
Sy was die een met ‘n belang van hoe die oorledene uitsien
nadat daar met hom afgereken was. Verdermeer het die die sms
boodskap sowat een minuut na die foto gevolg wat sy erken sy wel
gestuur het. Beskuldigde nr 2 se onkenning dat sy die sms boodskap
aan beskuldigde nr 1 gestuur het is opsigtelik leuenagtig. Veronica
se getuienis en dié van beskuldigde nr 1 aangaande
die sms
boodskap was nie in geskil geplaas toe hulle namens haar
kruisondervra is nie. Haar ontkennende weergawe aangaande die
sms
boodskap het eers te voorskyn gekom toe sy getuig het.
[26] Die oorledene het te voet
gegaan na wat vir hom vertel was ‘n werksonderhoud te wees.
Beskuldigde nr 2, Veronica en
Lucas het in die woonstel agtergebly.
Dit is gemenesaak dat beskuldigde nr 1 die oorledene aangeval het.
In sy pleitverduideliking
het beskuldigde nr 1 die aanval soos volg
beskryf:
‘
Toe haar man
daar aankom het ek hom gevra hoekom mishandel hy sy vrou en sy
kinders want dis die inligting wat Cindi vir my gegee
het. Toe het
hy aan my gestamp en gesê dit het niks met my uit te waai nie.
Dis toe ek hom 2 keer in die gesig slaan met
die vuis. Hy het toe
geval. Ek skop hom toe op sy lyf. Toe ek hom op sy mond wil skop
draai hy sy kop en ek skop hom toe agter
op sy kop. Toe het ek
sekuriteitswagte sien nader kom. Toe het ek gevoel of hy nog pols
het en asem gehaal het. Als was nog
reg. Ek het toe weggevlug.’
Ek keer aanstons terug na
beskuldigde nr 1 se getuienis aangaande die aanval op die oorledene.
[27] Dit is gemenesaak dat die
oorsaak van die oorledene se dood
‘
[v]
eelvuldige
skedelfrakture, brein laserasies, sub-durale hematome verspreid’
was. Die
‘sub-durale
hematome verspreid’
is ‘n verwysing na bloeding wat veroorsaak was deur gebarste
are net onder die buitenste membraan wat die brein binne die
skedel
omring.
Die
skedelfrakture wat die oorledene opgedoen het was ingedrewe en oop
frakture van die linker en regter slape en agterhoofs. Dr
Kraft het
verduidelik dat in die geval van elk van die drie skedelfrakture is
die oorledene se skedel van buite na binne gebreek.
Dr Kraft het
getuig dat breinweefsel uitgepeul het uit die agterkop skedelbreuk.
Daarbenewens was die oorledene se regteroog
blou en geswel, het hy
laserasies aan die binnekant van die bo- en onderlip gehad en was
daar kneuswonde sigbaar op sy vel aan
beide kante van sy bors en ook
oor sy maag. Inaggenome al die beserings wat die oorledene opgedoen
het is dit die mening van Dr
Kraft dat die oorledene in sy gesig
geslaan was, dat hy geval het en dat hy geskop was terwyl hy op die
grond gelê het.
Dr Kraft het die mening uitgespreek dat elk
van die drie skedelfrakture waarskynlik deur dieselfde voorwerp
veroorsaak was omdat
elkeen presies dieselfde omvang gehad het. Elk
was ‘n 7 x 4 cm laserasiewond. Na die mening van Dr Kraft was
‘n
veiligheidskoen die waarskynlike voorwerp wat al drie
skedelfrakture veroorsaak het. Inaggenome die beserings wat die
oorledene
opgedoen het kon Dr Kraft hom duidelik nie weerhou om in
die lykskouingsverslag te notuleer dat die oorledene erg aangerand
was
‘met
opset om te vermoor.’
Wat Dr Kraft waarskynlik met hierdie stelling probeer oordra het is
dat die beserings aandui dat die oorledene nie eenvoudig aangerand
was nie maar dat hy doodgeskop was. Die kleur van die oorledene se
bloed soos uitgebeeld op die fotos wat van die oorledene geneem
was
nadat sy liggaam op 4 November 2009 gevind was, is, na die mening van
Dr Kraft, ‘n aanduiding dat die oorledene vir ten
minste twaalf
ure gelê het waar sy liggaam gevind was.
[28] Beskuldigde nr 1 het
getuig dat hy veiligheidstewels aangehad het ten tye van sy
ontmoeting met die oorledene. Dit is harde
en swaar skoene wat aan
die voorkant met staal versterk is en wat in die werksplek bedoel is
om ‘n persoon se voete te beveilig.
Beskuldigde nr 1 het
getuig dat hy die oorledene gevra het hoekom hy sy vrou slaan en sy
kinders mishandel waarop die oorledene
hom gestamp het. ‘n
Woordewisseling het gevolg. Wat presies gesê was kon
beskuldigde nr 1 nie meer onthou nie, maar
dit het volgens hom
ingesluit die oorledene wat vir hom in Engels sê
‘I
will kill you’
en beskuldigde nr 1 wat dieselfde in Afrikaans vir hom sou sê.
Hierdie beweerde oor en weer uitlatings verskyn nie in die
verklaring
wat beskuldigde nr 1 aan ‘n landdros gemaak het en wat hy as
pleitverduideliking ter aanvang van hierdie verhoor
aangebied het nie
(bewysstuk ‘A’). Beskuldigde nr 1 het getuig dat hy die
oorledene twee keer in die gesig geslaan
het met die vuis waarop die
oorledene geval het. Beskuldigde nr 1 het toe vir die oorledene met
sy veiligheidstewels een keer
op sy lyf en een keer agter sy kop
geskop. Hy het getuig dat die oorledene steeds ‘n polslag
gehad het en ook nog kon asemhaal
toe hy met hom klaar was.
Beskuldigde nr 1 was uitgevra hoekom hy dit nodig geag het om die die
oorledene se polslag en asemhaling
na te gaan en in antwoord daarop
het hy getuig dat die oorledene sy bewussyn verloor het nadat hy hom
geskop het, maar dat hy dit
weer herwin het voordat hy die oorledene
verlaat het.
[29] Beskuldigde nr 1 het
egter reeds tydens sy hoofondervraging toegegee dat daar ‘n
‘baie’
goeie moontlikheid bestaan dat hy die oorledene meermale geskop en
erger aangerand het as wat hy aanvanklik voorgegee het. Onder
kruisverhoor deur die staatsadvokaat het beskuldigde nr 1 getuig dat
hy kwaad was en dat hy sy kop verloor het. Hy het ook toegegee
dat
hy die oorledene geskop het met ‘n stewel met ‘n
staalpunt wat ‘n mens kan doodmaak as jy te hard daarmee
geskop
word. Hy het aanvaar dat hy die oorledene se dood veroorsaak het.
Beskuldigde nr 1 se toegewing in hierdie verband strook
in geheel met
die opinies en getuienis van Dr Kraft asook met beweerde mededelings
wat beskuldigde nr 1 ‘n paar dae later
aan sy vriende Stapes en
Eugene gemaak het. Ek keer later terug na die beweerde mededelings.
[30] Veronica het getuig
dat beskuldigde nr 2 haar vertel het dat beskuldigde nr 1 haar met sy
eie selfoon geskakel het en haar
gevra het om die oorledene se
selfoon te skakel. Toe beskuldigde nr 2 dit doen was dit beskuldigde
nr 1 wat die oorledene se selfoon
antwoord. Hierdie getuienis van
Veronica was deur die beskuldigdes ontken. Dit is gemenesaak dat
beskuldigde nr 1 in terme van
die voorafgaande afspraak die oorledene
van sy selfoon moes beroof en dat hy dit inderdaad gedoen het.
Beskuldigde nr 1 het ook
getuig dat hy nie aan beskuldigde nr 2 ‘n
foto van die oorledene gestuur het nadat hy sy opdrag of die versoek
wat aan hom
gerig was uitgevoer het nie. Beide beskuldigdes het
getuig dat daar na die aanval op die oorledene nie weer kontak tussen
hulle
was nie. Dit is myns insiens meer waarskynlik dat beskuldigde
nr 1 die wyse gevolg het soos deur Veronica getuig om beskuldigde
nr
2 te verwittig dat sy opdrag volvoer was.
[31] Beskuldigde nr 2 het
getuig dat sy lief vir die oorledene was en dat sy probeer verhinder
het dat hy die afspraak met beskuldigde
nr 1 bywoon. Die
vanselfsprekende vraag is natuurlik hoekom sy dan ‘n foto van
die oorledene aan beskuldigde nr 1 gestuur
het net voordat die
oorledene vertrek het of selfs hoekom sy nie eenvoudig beskuldigde nr
1 geskakel het en gepoog het om die afspraak
te kanselleer nie.
Veronica en Lucas het getuig dat beskuldigde nr 2 so om en by 9 uur
bekommerd voorgekom het omdat die oorledene
nog nie tuis was nie.
Beskuldigde nr 2 het getuig dat sy die oorledene probeer bel het,
maar dat sy selfoon af was. Die vraag
wat hier opduik is hoekom sy
dan nie eenvoudig beskuldigde nr 1 gebel en hom gevra het wat hy met
die oorledene aangevang het nie.
Dit is gemenesaak dat beskuldigde
nr 2 aktief betrokke was by ‘n soektog na die oorledene vanaf
ongeveer 9:00 nm daardie
aand en dat sy die persoon was wat die
oorledene se liggaam uiteindelik die volgende oggend iewers in ‘n
sloot in die industriële
gebied van Ermelo gevind het. Die
onafwendbare en enigste redelike afleiding is dat beskuldigde nr 2 se
sogenaamde bekommernis
oor die oorledene, soos wat Veronica tereg
getuig het, bloot toneelspel aan haar kant was, veral inaggenome dat
Veronica se vriend
Lucas ook teenwoordig was.
[32] Eugene Ahlfeldt het
getuig dat beskuldigde nr 1 die oggend na die voorval by sy woonstel
opgedaag het. Hy het vir Eugene gesê
dat
‘...
hy dink hy het iemand doodgemaak.’
Hy het hom vertel dat hy die persoon geslaan het en dat die persoon
agteroor geval het. Beskuldigde nr 1 se plan was, aldus Eugene,
om
na Secunda te vlug, want hy
‘sal
uit Ermelo moet verdwyn.’
Dit is namens beskuldigde nr 1 aan Eugene gestel dat hy bloot
inligting dat hy iemand aangerand het aan Eugene bekend gemaak het
en
dat hy nie voornemens was om uit Ermelo te vlug nie, maar dat hy vir
‘n werksonderhoud na Secunda sou gaan. Stapes het
ook getuig
dat beskuldigde nr 1 hom die Vrydagaand na die voorval vertel het dat
hy
‘in
die moeilikheid’
was. Onder kruisverhoor namens beskuldigde nr 1 is dit aan Stapes
gestel dat wat beskuldigde nr 1 vir hom gesê het was dat
hy
‘in
die moeilikheid’
was omdat hy nie ‘n motorfiets gehad het nie. Beskuldigde nr 1
het ook getuig dat wat hy vir Stapes gesê het was dat
hy
‘probleme’
gehad het omdat hy nie ‘n motorfiets gehad het nie. Stawing
vir Eugene se getuienis aangaande beskuldigde nr 1 se mededeling
aan
hom is tot ‘n mate te vinde in die getuienis van Stapes
aangaande die mededeling aan hom en ook andersom. Hulle getuienis
in
hierdie opsig strook dan ook met beskuldigde nr 1 se toegewing en
aanvaarding dat hy die oorledene se dood veroorsaak het.
Beskuldigde
nr 1 se getuienis aangaande die mededelings is in die lig van al die
getuienis ‘n poging aan sy kant om sy voor-arrestasie
mededelings aan sy goeie vriend Stapes en aan sy vriend Eugene
valslik te temper.
[33] Eugene het ook getuig dat
kort na beskuldigde nr 1 se besoek aan hom hy ‘n selfoon wat
aan hom onbekend was ontdek het
agter ‘n blompot op die yskas
in sy woonstel. Dit is later vasgestel dat hierdie selfoon aan die
oorledene behoort het.
Dit is namens beskuldigde nr 1 aan Eugene
gestel dat hy die selfoon by beskuldigde nr 1 wou koop, welke
stelling Eugene ontken
het. Die vasstelling dat die selfoon aan die
oorledene behoort het is natuurlik ontoelaatbare hoorsê
getuienis wat ek gevolglik
nie in ag neem nie. Dit is egter
gemenesaak dat beskuldigde nr 1 die oorledene se selfoon van hom
beroof het. Kapt. Schmulian
se getuienis dat beskuldigde nr 1
arresteer was op 8 November 2009 nadat die oorledene se selfoon
gevind was, is ook nie in geskil
geplaas nie. Kapt. Schmulian het
beskuldigde nr 2 arresteer op 8 November 2009 as gevolg van die sms
boodskap en foto wat op beskuldigde
nr 1 se selfoon gevind was.
[34] Inaggenome dat Veronica
‘n enkelgetuie is en dat sy jonk, onvolwasse en ook ‘n
medepligtige is wat gewaarsku was
in terme van art 204 van die
Strafproseswet voordat sy as staatsgetuie getuig het, is dit gepas om
haar getuienis met groot omsigtigheid
te benader. Beoordeel in die
lig van al die getuienis was sy na my oordeel ‘n goeie en
geloofwaardige getuie wat eerlike
en betroubare getuienis afgelê
het. Haar getuienis, soos wat ek reeds aangetoon het, was in
verskeie wesentlike opsigte
deur die ander staatsgetuies en ook deur
die beskuldigdes gestaaf. Sy het haar medepligtigheid aan die moord
en roof van die oorledene
erken en getuig dat sy
‘jonk
en dom’
was. Haar getuienis in hierdie verband strook met my waarneming en
beoordeling van haar in die getuiebank. Haar hoogste tersiêre
kwalifikasie is standerd 6 en sy het maar bra onvolwasse voorgekom.
[35] Veronica het
self-inkrimenerende getuienis gegee in die verwagting dat sy moontlik
vrywaring teen vervolging as medepligtige
mag ontvang. Sy het getuig
dat die beplanning en uitdruklike ooreenkoms wat bereik was, waarby
sy erken het sy ook betrokke was,
was om die oorledene dood te maak
en nie om hom bloot ‘n pak slae te gee soos wat die
beskuldigdes getuig het nie. Haar
getuienis in hierdie verband was
potensieel erg self-benadelend. Sy het haarself by ‘n
voorbedagte en beplande moord van
die oorledene betrek teenoor bloot
‘n afspraak van gewone aanranding. Sy het ‘n besondere
verhouding met die oorledene
en beskuldigde nr 2 gehad en daar skyn
geen rede te wees waarom sy veral beskuldigde nr 2 van moord sou
beskuldig indien sy dan
net betrokke was by ‘n gewone
aanranding van die oorledene nie.
[36] ‘n Faktor wat
aanduidend is van ‘n ooreenkoms of sameswering om die oorledene
te dood en wat die getuienis van
Veronica in ‘n wesentlike
opsig staaf, is die versoek wat beskuldigde nr 2 die Dinsdagoggend by
die Spur aan beskuldigde
nr 1 gerig het en die sms boodskap wat sy
later aan hom gestuur het om ‘n foto te neem van hoe die
oorledene uitsien nadat
hy met hom afgereken het en om dit aan haar
te stuur. Indien die afspraak eenvoudig was om die oorledene ‘n
pak slae te
gee dan sou beskuldigde nr 2 tog gesien het hoe haar man
lyk wanneer hy met
‘‘n
blou oog’
tuisgekom het. In antwoord op ‘n kruisvraag het beskuldigde nr
1 gesê dat ‘n goeie pak slae laat ‘n persoon
met ‘n
blou oog.
[37] Die mediese getuienis
staaf Veronica se getuienis en toon die vewerplikheid van die
beskuldigdes se weergawes van ‘n
afspraak om die oorledene ‘n
pak slae te gee. Beskuldigde nr 1 het goed geweet dat ‘n
persoon doodgemaak kon word
as hy of sy te hard geskop word met die
tipe stewel waarmee hy die oorledene geskop het. Die enigste
redelike afleiding in die
lig van al die getuienis is dat beskuldigde
nr 1 die oorledene se skedel op drie plekke inmekaar geskop het.
Die oorledene se
breinweefsel het selfs by die agterkopskedelfraktuur
uitgepeul. Die oorledene was tog duidelik nie maar net ‘n pak
slae
gegee nie. Die onafwendbare en enigste redelike afleiding is
dat die oorledene doelbewus en opsetlik doodgeskop is deur
beskuldigde
nr 1. Dit is gemenesaak dat beskuldigde nr 1 ‘n
opdrag of versoek uitgevoer het. Die aard van die oorledene se
beserings
ondersteun Veronica se getuienis dat die opdrag of versoek
aan beskuldigde nr 1 en die uitdruklike ooreenkoms tussen die
beskuldigdes
was om die oorledene dood te maak.
[38] Veronica se getuienis
word ook tot ‘n mate gestaaf deur Stapes se getuienis dat
beskuldigde nr 2 hom die voorafgaande
Vrydagaand in die
teenwoordigheid en ten aanhore van beskuldigde nr 1 gevra het om haar
man ‘uit te haal’, of anders
gestel, dood te maak.
Stapes was ‘n geloofwaardige getuie en sy getuienis is
betroubaar wanneer dit in die lig van al die
getuienis beoordeel
word. Beskuldigde nr 1 het bevestig dat hy en Stapes baie goeie
vriende was en dat hulle nooit probleme met
mekaar gehad het nie.
Daar was ook geen suggestie van enige kwaadwilligheid aan sy kant
jeens beskuldigde nr 2 nie. Stapes se
getuienis dat beskuldigde nr 2
hom tweemaal gevra het om haar man dood te maak is betroubaar en dit
is onwaarskynlik dat beskuldigde
nr 2 op dieselfde geleentheid ‘n
ander versoek om hom bloot ‘n pak slae te gee aan beskuldigde
nr 1 sou gerig het.
[39] Die beskuldigdes se
getuienis in die lig van al die getuienis is in wesenlike opsigte
leuenagtig. Ek het vroeër in hierdie
uitspraak breedvoerig
gehandel met hoe hulle weergawes in verskeie wesenlike opsigte
aangepas is soos wat die verhoor aangegaan
het en die leuens waarmee
hulle vorendag gekom het in hulle onderskeie pogings om die staatsaak
te ontmoet wat die moordklagtes
teen hulle aanbetref. Verder het
hulle die betrokkenheid van Veronica valslik oordryf. Beskuldigde nr
1 het wel verskeie toegewings
en erkennings eerlik gemaak, maar hy
het volhard met sy leuenagtige weergawe dat hy en beskuldigde nr 2
net saamgesweer het om
die oorledene ‘n pak slae te gee.
Beskuldigde nr 2 was ‘n baie swak getuie en sy het geen goeie
indruk in die getuiebank
gemaak nie.
[40] Wanneer Veronica se
getuienis dan met die nodige omsigtigheid benader word en al die
relevante aspekte wat aanduidend is van
die beskuldigdes se skuld aan
moord opgeweeg word teen daardie aspekte wat aanduidend is van hulle
onskuld daaraan, bewys die geheel
van die getuienis na my oordeel die
skuld van beskuldigde nr 1 en van beskuldigde nr 2 aan die moord van
die oorledene bo enige
redelike twyfel. Veronica se getuienis word
voldoende gestaaf in verskeie wesenlike opsigte om haar getuienis as
eerlik en betroubaar
te aanvaar en om die moontlikheid van ‘n
valse implikasie van die beskuldigdes bo enige redelike twyfel uit te
sluit. Ook
Eugene en Lucas was geloofwaardige getuies en hulle
getuienis is, wanneer dit in die lig van al die getuienis beoordeel
word, betroubaar.
Die getuienis as geheel bewys bo enige redelike
twyfel dat die beskuldigdes se verontskuldigende weergawes insoverre
dit die moordklagtes
aanbetref leuenagtig en nie redelik moontlik
waar is nie. Die onafwendbare en enigste redelike afleiding is dat
beskuldigde nr
1 en beskuldigde nr 2 die nodige
mens
rea
gehad om
‘n skuldigbevinding aan die moord van die oorledene te
ondersteun en dat hulle met direkte opset opgetree het.
[41] Beskuldigde nr 2 was nie
teenwoordig toe die oorledene om die lewe gebring is nie, maar dit
verontskuldig haar nie. Die beskuldigdes
het saamgesweer en
uitdruklik ooreengekom om die oorledene dood te maak. Beskuldigde nr
2 het ongetwyfeld die hoofrol beklee in
die aangaan van die
ooreenkoms en sy was aktief betrokke in die bevordering van hulle
gemeenskaplike misdadige oogmerk. Sy het
dan ook die hoofrol beklee
in die beplanning van die aanval op die oorledene en sy het verder
aktief hulp verleen in die uivoering
van die moordafspraak en
gevolglike gemeenskaplike misdadige oogmerk. Dit was ongetwyfeld
beskuldigde nr 2 wat vir beskuldigde
nr 1 en Veronica betrek het.
Beskuldigde nr 1 het in opdrag van of op versoek van beskuldigde nr 2
opgetree. Beskuldigde nr 2
se deelname aan die doodslag van die
oorledene het onder andere ingesluit dat sy haar selfoon aan Veronica
oorhandig het om die
oorledene te bel en hom bedrieglik uit te lok na
die plek waar beskuldigde nr 1 hom sou aanval. Sy het met
beskuldigde nr 1 seksuele
gemeenskap gehad nadat die moordafspraak
getref was. Sy het aan die oorledene die moontlikheid van ‘n
werksbetrekking bedrieglik
voorgehou en hom aangemoedig om na die
plek te gaan waar sy geweet hy ingewag en aangeval sou word. Sy het
aan beskuldigde nr
1 ‘n foto van die oorledene gestuur ten
einde hom instaat te stel om die oorledene aan te val. Haar aktiewe
deelname was
voortdurend en sy het haarself op geen stadium van die
aanval op die oorledene onttrek nie.
[42] Beskuldigde nr 1 en
beskuldigde nr 2 se skuld aan roof met verswarende omstandighede soos
omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet
is ook bo enige redelike
twyfel bewys. Die pleging van hierdie misdryf het deel gevorm van
die sameswering en uitdruklike ooreenkoms
wat tussen die beskuldigdes
aangegaan is en, hoewel die handeling deur beskuldigde nr 1 verrig
is, het beskuldigde nr 2 aktief
deelgeneem aan die beplanning en
uitvoering van die roof. Hierdie misdryf was gepleeg om die moord
van die oorledene die voorkoms
van ‘n roof te gee wat so
algemeen in ons land voorkom. Beskuldigde nr 1 het erken dat hy
geweld teenoor die oorledene gebruik
het en dat hy sy selfoon afgevat
het. Dit het hy ook in opdrag of op versoek van beskuldigde nr 2
gedoen.
[43] Ten gevolge word:
(a) beskuldigde nr 1 skuldig
bevind aan die moord op die oorledene, Mnr Johannes Gerhardus Snyman,
soos aangekla in klagte 1 van
die akte van beskuldiging;
(b) beskuldigde nr 1 skuldig
bevind aan die roof van die oorledene se selfoon met verswarende
omstandighede soos omskryf in artikel
1 van die Strafproseswet 51 van
1977, soos aangekla in klagte 2 van die akte van beskuldiging;
(c) beskuldigde nr 2 skuldig
bevind aan die moord op haar oorlede eggenoot, Mnr Johannes Gerhardus
Snyman, soos aangekla in klagte
1 van die akte van beskuldiging;
(d) beskuldigde nr 2 skuldig
bevind aan die roof van die oorledene se selfoon met verswarende
omstandighede soos omskryf in artikel
1 van die Strafproseswet 51 van
197 7, soos aangekla in klagte 2 van die akte van beskuldiging; en
(e) aan die staatsgetuie, Me
Veronica Steyn, hiermee vrywaring verleen van vervolging op
aanklagtes van die moord op die oorledene,
Mnr Johannes Gerhardus
Snyman, en van die roof van sy selfoon met verswarende omstandighede
soos omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet
51 van 1977.
P.A. MEYER
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
VAN SUID-AFRIKA
4 November 2010