About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg
>>
2011
>>
[2011] ZAGPJHC 163
|
|
S v Vermaak (SS70/2010) [2011] ZAGPJHC 163 (14 October 2011)
NOT REPORTABLE
SUID GAUTENG HOOGGEREGSHOF
JOHANNESBURG
SAAK NO
:SS70/2010
DATUM
:14/10/2011
In die saak tussen
DIE STAAT
en
CHRISTIAN FRANS
VERMAAK
..................................................................
Beskuldigde
U I T S P R A A K
(VONNIS)
VAN OOSTEN R
:
Die beskuldigde is
skuldig bevind aan twee uiters ernstige misdade. By die oorweging
van 'n gepaste vonnis poog die hof om 'n werkbare
balans te handhaaf
tussen die doel en oogmerke van straftoemeting. In dié proses
word in ag geneem die erns van die misdrywe
waaraan die beskuldigde
skuldig bevind is, die beskuldigde se persoonlike omstandighede, die
gemeenskapsbelang, asook enige ander
faktore wat die morele
blaamwaardigheid van die misdade waaran hy skuldig bevind is, mag
beïnvloed.
Wat die erns van die misdrywe aanbetref is daar
weinig wat ten gunste van die beskuldigde aangeteken kan word. Daar
is geen getuienis
wat op voorbedagte rade of voorafbeplanning van die
misdade dui nie. Wanneer egter die omstandighede as 'n geheel
beoordeel word,
maak ek die bevinding nie sonder huiwering nie. Hoe
dit ook al sy, die Staat het die pleit van skuldig, op die basis soos
wat dit
deur die beskuldigde aangebied is op die aanklag van moord
aanvaar, en volg dit dat die oplegging van vonnis benader moet word
op die basis dat daar geen voorafbeplanning was nie.
Die beskuldigde en die oorledene het mekaar
ontmoet deur middel van 'n sogenaamde "
date club
"
wat daarop ingestel is om mense van die teenoorgestelde geslag aan
mekaar voor te stel met die oog op ‘n verhouding.
Vóór
die ontmoeting het die beskuldigde op 'n soortgelyke wyse in kontak
gekom en in 'n verhouding betrokke geraak
met Me Grobbelaar, wat
vandag getuienis namens die Staat afgelê het. Dié
verhouding het egter skipbreuk gely.
Nadat die beskuldigde en die oorledene mekaar
ontmoet het, het hulle dikwels oor en weer gekuier. Volgens die
beskuldigde was die
oorledene 'n standvastige, "fantastiese
mens" wat sterk Christelike beginsels gehandhaaf het en van wie
hy geen kwade
woord kan spreek nie. Dié
persoonlikheidskwaliteite van die oorledene is bevestig in die
getuienis van haar suster, Me Wilhelmina
van Staden. Die oorledene
was 'n onderwyseres van beroep en baie geliefd by die privaat
hoërskool waar sy aktief by die leerders
betrokke was en as 'n
steunpilaar vir die gemeenskap en ouers van die leerders, haar plek
volgestaan het. Die oorledene was 42
jaar oud, sy was nooit getroud
nie en het alleen gewoon waar sy dan ook uiteindelik aan haar einde
gekom het.
Die dag voor die moord op die oorledene het die
beskuldigde by haar gekuier in haar meenthuis in Camelia Gardens,
Verwoerdpark,
Alberton. Die beskuldigde het te kenne gegee dat hulle
'n aangename dag saam belewe het. Die oorledene het aandete vir hulle
voorberei,
waarna hulle gaan slaap het in die dubbelbed in haar
slaapkamer. Later die nag het die beskuldigde wakker geword. Hy het
nie geweet
"wat oor hom gekom het nie" en of dat hy dalk
gedroom het nie maar hy het ‘n mes, wat in die kamer was,
opgeneem
het en die oorledene, wat steeds geslaap het, veskeie kere
daarmee toegetakel.
Die oorledene het blykens die
nadoodseondersoekverslag, en soos weergee word op die fotos van die
nadoodse ondersoek, die volgende
beserings opgedoen:
‘
1.
Four cm penetrating incised
wound left anterior triangle of the neck. This wound passes backwards
through the muscles of the neck
and severs the left carotid artery.
2. Two cm superficial penetrating incised wound just below the
left side of the jaw.
3. One cm superficial penetrating incised wound left cheek.
4. Two cm penetrating incised wound medial aspect of the left
nipple. This wound passes backwards, enters the left chest cavity and
terminates in the upper lobe of the left lung.’
Om terug te keer
na die gebeure. Ná die aanval op die oorledene, en nadat hy
besef het dat sy dood was, het die beskuldigde
getuig, het hy nog
sowat vir 'n uur in die kamer, soos hy dit gestel het "rondgedwaal".
Hy was geskok en verward oor
wat met hom gebeur het, en het daar en
dan op sy knieë gegaan het om die Allerhoogste te vra wat hy nou
eintllik gedoen het,
en vergifnis daarvoor gevra.
Die beskuldigde se daadwerklike optrede na die
moord op die oorledene spreek egter boekdele tot die teendeel. Hy het
van meet af
aan fyn berekende en goed beplande stappe gevolg om sy
wandade te verdoesel, en in die proses aan niemand anders as homself
gedink
nie. Eerstens het hy die mes waarmee hy die oorledene gedood
het, gewas en teruggeplaas in die kombuis waar dit gehoort het.
Daarna
het hy die oorledene se liggaam bedek met die beddeken of
duvet, en kussings daar bo-op gerangskik, ooglopend om alles so
normaal
moontlik te laat voorkom. Dit is dan ook in dié
toestand waarin die liggaam van die oorledene aangetref is op Sondag
4 April
2010, toe die oorledene se suster en haar ouers, wat toe al
‘n soektog na haar op tou gesit het, niks vermoedend op haar
liggaam in die bed afgekom het.
Die fotos wat van die toneel van die moord geneem
is toon aan dat die liggaam van die oorledene dwars op haar rug oor
die bed gelê
het, met haar nagrok opgetrek tot op die maag.
Waarom dit juis só was kon die beskuldigde nie verduidelik
nie.
Vervolgens het die beskuldigde die oorledene se
selfoon, wat in die slaapkamer was, geneem, aangesien, volgens hom,
die battery
van sy selfoon op daardie stadium pap was en hy dalk
oproepe sou moes maak. Daarna het die beskuldigde die sleutels van
die oorledene
se voertuig geneem, na die motorhuis waar die voertuig
parkeer was, gegaan, die voertuig uitgetrek en die deur van die
motorhuis
gesluit. By Me Van Staden se aankoms dié Sondag was
die motorhuisdeur steeds gesluit en het sy toegang tot die huis gekry
met 'n duplikaat sleutel wat sy altyd in bewaring gehou het.
Volgens die beskuldigde was die oorledene se
skootrekenaar in die kattebak van haar voertuig. Hy het later beide
haar selfoon en
skootrekenaar weggegooi. Die beskuldigde het met die
oorledene se voertuig na sy tuiste in Vanderbijlpark gery. Daarna, op
een
of ander stadium, het hy met die voertuig na Klerksdorp gery om
sy kinders gebore uit sy eerste huwelik, wat daar gewoon het, te
besoek. Intussen het hy die GP (Gauteng) nommerplate van die voertuig
afgehaal en vervang met vals FS (Vrystaat) nommerplate.
Op 7 April 2010 het die beskuldigde telefonies
kontak gemaak met sy vorige "
date club
"
vriendin, Me Grobbelaar. Me Groblaar het getuig dat sy aanvanklik nie
die oproep wou beantwoord nie aangesien dit van 'n
onbekende
selfoonnommer af gekom het. Toe sy dit uiteindelik wel beantwoord het
was dit ‘n oproep van die beskuldigde. Hy
het haar versoek of
hy saam met haar vader, Mnr Lukas van Tonder, kon gaan visvang. Mnr
van Tonder het getuig dat hy en die beskuldigde
voorheen saam
visgevang het gedurende die tydperk wat die beskuldigde en sy dogter
nog in 'n verhouding betrokke was.
Later die dag het die beskuldigde by Van Tonder
se huis opgedaag. Mnr van Tonder het op daardie stadium reeds die
polisie in kennis
gestel van die beskuldigde se voorgenome besoek,
wat volgens hulle kennis toe al soek was. Die beskuldigde het in die
oorledene
se voertuig, met die vals nommerplate daaraan, by die huis
van Mnr van Tonder opgedaag. Die beskuldigde het Van Tonder
meegedeel dat hy ‘n "plan moes maak" om die voertuig
aan te skaf en dat hy die voertuig gekoop het, waarmee Mnr
van Tonder
hom geluk gewens het en om hom na binne genooi het om saam met hulle
koffie te drink. Kort daarna het Adjudant Janse
van Rensburg, van die
SAPD, daar opgedaag en het hy die beskuldigde arresteer.
Die oorledene is op 'n sinnelose, wrede en
koelbloedige wyse om die lewe gebring. Haar keel is afgesny. Die
beskuldigde het blykens
die psigiatriese verslag die
wederregtelikheid van sy handelinge besef en was daar geen sprake van
'n gestesgebrek nie. Die beskuldigde
se verduideliking dat hy wakker
geword het en vir geen rede hoegenaamd nie besluit het om die
oorledene met die mes te steek, is
so inherent onwaarskynik dat dit
nie redelik moontlik waar kan wees nie. Dié verduideliking is
onteenseglik ontdaan van
die waarheid. Dit is duidelik dat die
beskuldigde verkies het om nie die volle waarheid aan hierdie hof te
openbaar nie.
Dit
bring my by die beskuldigde se pleit van skuldig en die vraag wat
gevolglik ontstaan of hy berou toon vir dit wat hy gedoen
het.
Tydens sy getuienislewering het die beskuldigde onder sigbare
emosionele opwelling verskoning en vergifnis teenoor die oorledene
se
familielede, wat in die hof gesit het, gevra vir sy wandade. Oor die
egtheid daarvan spreek ek my ernstige twyfel uit. Die pleit
van
skuldig, opsigself genome, is geen aanduiding van berou nie. Soos
Ponnan AR dit gestel het in
S
v Matyityi
2011 (1) SACR 40
(SCA) para
13:
‘
In order for the remorse
to be a valid consideration, the penitence must be sincere and the
accused must take the court fully into
his or her confidence.
Until
and unless that happens, the genuineness of the contrition alleged to
exist cannot be determined. After all, before a court
can find that
an accused person is genuinely remorseful, it needs to have a proper
appreciation of, inter alia: what motivated
the accused to commit the
deed; what has since provoked his or her change of heart; and whether
he or she does indeed have a true
appreciation of the consequences of
those actions.’
Die beskuldigde was in besit gevind van die
oorledene se voertuig en kon in die omstandighede van hierdie saak
nouliks enige ander
pleit as skuldig aangebied het. Sy vertoon in die
hof weerklink soos ‘n klinkende simbaal teen die agtergrond van
sy optrede
direk na die pleging van die moord. Die beskuldigde het,
soos ek reeds na verwys het, op 'n koel, berekende wyse die spore van
sy dade probeer verdoesel en met sy lewe voortgegaan asof niks gebeur
het nie. Die minagting wat hy teenoor die oorledene betoon
het word
bevestig deurdat hy haar selfoon en skootrekenaar goedsmoeds
weggegooi het. Daar is niks te bespeur in die optrede van
die
beskuldigde ná die moord wat op enige wyse met opregte berou
versoen kan word nie. Die teendeel is veel eerder waar.
Die arrestasie van die beskuldigde is nie deur
homself teweeggebring nie, maar wel deur die wakker optrede van
Mnr van Tonder
en sy dogter. Die uitspreek van berou,
noudat die beskuldigde voor oop tronkdeure staan, kom my nouliks as
opreg voor.
Vervolgens behandel ek die beskuldigde se
persoonlike omstandighede wat in sy getuienis na vore gebring is. Hy
is tans 40 jaar
oud en ongetroud, alhoewel hy twee keer vantevore
getroud was, welke huwelike beide deur egskeiding beëindig is.
Uit die
eerste huwelik is daar twee kinders gebore, 'n dogter tans
16 jaar oud en 'n seun van 18/19 jaar oud. Die beskuldigde het
voorgegee
dat hy onlangs eers verneem het van die bestaan van sy
dogter wat uit die eerste huwelik gebore is. Tydens die gebeure was
die
beskuldigde werksaam by 'n maatskappy wat subkontrakteurswerk,
meestal in die buiteland, vir Eskom verrig het. Hy het 'n salaris
van
R28 000 per maand verdien.
Die beskuldigde het drie vorige veroordelings
erken, wat insluit aanranding en diefstal. Die laaste veroordeling,
een van diefstal,
is so lank terug as in 1992 opgedoen. Ek is van
oordeel dat die vorige veroordelings, weens tydsverloop, nie teen die
beskuldigde
in berekening gebring behoort te word nie, behalwe in dié
opsig dat hy reeds voorheen met die gereg gebots het en nie daaruit
‘n les geleer het nie.
Die beskuldigde is vanaf die datum van sy
arrestasie in hegtenis as verhoorafwagtende. 'n Tydperk van een en 'n
half jaar waarby
in berekening gebring moet word die beskuldigde se
verwysing na Sterkfontein, as verhoorafwagtende, is geensins
buitensporig nie
en kom ooreen met die gemiddelde tyd wat dit neem om
'n saak van hierdie aard op verhoor te stel.
Laastens, het die beskuldigde getuig dat hy
medikasie gebruik vir epileptiese aanvalle, depressie en hoë
bloeddruk. Niks hiervan
word vermeld in die verslag deur die
psigiaters wat die beskuldigde ondersoek het nie. Hoe dit ook al sy,
die beskuldigde beweer
in elk geval nie dat enige van hierdie kwale
bygedra het of verantwoordelik was vir die pleging van die misdrywe
nie.
Laastens, die gemeenskapsbelang. Geweld teenoor
vroue verdien die strengste afkeuring van hierdie hof (Vgl
S
v Baloyi
(
Minister of Justice & another Intervening
)
[1999] ZACC 19
;
2000 (2) SA 425
(CC))
. Die gemeenskap verwag tereg
dat vergrype teenoor vroue, veral waar dit so ernstig is soos in die
onderhawige saak, met erns deur
ons howe bejeën moet word. Die
beskuldigde se persoonlike omstandighede word totaal oorskadu deur
die erns van die misdrywe.
Daar is na my oordeel geen omstandighede
geopenbaar wat enige vonnis minder as die maksimum straf wat hierdie
hof kan oplê,
regverdig nie. In hierdie verband bevind ek dat
selfs die afwesigheid van voorafbeplanning nie 'n mindere vonnis
regverdig nie.
Bygevolg word die beskuldigde soos volg gevonnis:
1. Op aanklag 1, moord, lewenslange
gevangenisstraf.
2. Op aanklag 2, diefstal, ses jaar
gevangenisstraf.
000//000
Vir die Staat Adv (Me) DE Zinn
Vir die beskuldigde Adv (Me) J Henzen-Du Toit