S v Smith and Another (CC 18/10) [2011] ZAGPJHC 213 (4 April 2011)

75 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder — Conviction of co-accused for premeditated murder and robbery — Accused planned and executed murder of deceased, with one accused soliciting assistance from another — Evidence of conspiracy and execution of plan established — Sentencing considerations include personal circumstances of accused and impact on community. The first accused, Bernardus Edward Smith, and the second accused, Cindy Anne Snyman, were found guilty of the premeditated murder of Snyman's husband, Johannes Gerhardus Snyman, and robbery of his cellphone. The murder was planned, with Snyman soliciting Smith to kill her husband for a fee. The court considered the severe nature of the crimes, the personal circumstances of the accused, and the broader implications for community safety in determining appropriate sentences. The legal issue revolved around the appropriate sentencing for serious violent crimes, particularly in light of the prescribed minimum sentences under the Criminal Law Amendment Act, and whether any substantial and compelling circumstances justified a lesser sentence. The court concluded that the nature of the crimes warranted life imprisonment for the murder conviction and a minimum of 15 years for the robbery conviction, given the absence of substantial and compelling circumstances.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: South Gauteng High Court, Johannesburg
>>
2011
>>
[2011] ZAGPJHC 213
|

|

S v Smith and Another (CC 18/10) [2011] ZAGPJHC 213 (4 April 2011)

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN
SUID-AFRIKA
(Rondgaande Plaaslike Afdeling
vir die Oostelike Rondgang Distrik)
Saaknr. CC 18/10
Date:04/04/2011
In
die saak van:
DIE
STAAT
versus
BERNARDUS
EDWARD SMITH en CINDY ANNE SNYMAN
VONNIS
MEYER, R
[1] Op 4 November 2010 het ek
beskuldigde nr 1, Mnr Bernardus Edward Smith, en beskuldigde nr 2, Me
Cindy Anne Snyman, elk skuldig
bevind aan die moord van beskuldigde
nr 2 se oorlede eggenoot, Mnr Johannes Gerhardus Snyman (aanklag 1)
en aan roof van die oorledene
se selfoon met verswarende
omstandighede soos omskryf in artikel 1 van die Strafproseswet 51 van
1977 (aanklag 2).
[2] Ek het voorvonnisverslae
vereis vir doeleindes van die oorweging van gepaste vonisse. Die
verslae (bewysstukke ‘L’
en ‘M’) is voorberei
deur die adjunk direkteur maatskaplike dienste van die Mpumalanga
Provinsiale Regering Departement
van Maatskaplike Ontwikkeling, Me
Lynette Louw, wat ook tydens die vonnisverrigtinge getuig het (‘die
proefbeampte’).
‘n Verslag wat verkry is van die
Departement Korrektiewe Dienste, Ermelo aangaande korrektiewe toesig
as ‘n vonnismoontlikheid
vir beskuldigde nr 1 en ‘n brief
van sy ouma is ook aangebied en ontvang as bewysstukke ‘N’
en ‘O’.
Die beskuldigdes het verkies om nie ter
versagting van vonnis te getuig nie. Mnr Rudi Vorster vir wie die
beskuldigde sowat 6
maande voor sy skuldigbevindings gewerk het, het
namens hom getuig. Die staatsadvokaat en die beskuldigdes se
advokate het my
toegespreek oor die aangeleentheid van vonnis.
[3] Die misdaad moord waaraan
die beskuldigdes elk skuldig bevind is was beplan en met voorbedagte
rade gepleeg en is daarom ‘n
skuldigbevinding aan ‘n
misdryf gemeld in Deel I van Bylae 2 van die Strafregwysigingswet Nr.
105 van 1997 (‘die Wet’)
waarvoor die voorgeskrewe
vonnis, in terme van artikel 51(1) daarvan, lewenslange
gevangenisstraf is tensy daar wesenlike en dwingende
omstandighede
soos bedoel in artikel 51(3) daarvan bestaan wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis regverdig. Die misdaad
roof waaraan die beskuldigdes
elk skuldig bevind is was gepleeg met verswarende omstandighede en is
daarom ‘n skuldigbevinding
aan ‘n misdryf gemeld in Deel
II van Bylae 2 van die Wet waarvoor die voorgeskrewe vonnis, in terme
van artikel 51(2)(a)(i)
daarvan, gevangenisstraf vir ‘n tydperk
van minstens 15 jaar in die geval van eerste oortreders soos die
beskuldigdes is
tensy daar wesenlike en dwingende omstandighede soos
bedoel in artikel 51(3) bestaan wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis
regverdig.
[4] Lewenslange
gevangenisstraf
vir
die
beskuldigdes se
skuldigbevindings
aan moord
en
gevangenisstraf
vir ‘n tydperk van minstens vyftien jaar vir hulle
skuldigbevindings aan roof
is gevolglik
die
vertrekpunte
by
die
oorweging van
gepaste
vonnisse
.
In
die
oorweging of
wesenlike
en
dwingende
omstandighede
bestaan
wat
die
oplegging
van
mindere
vonnisse
regverdig
is
die
tradisionele
oogmerke
van straf
-
voorkoming
,
vergelding
,
afskrikking
en
rehabilitasie
-
toepaslik
en
word die
persoonlike
omstandighede van
elke
beskuldigde
opgeweeg
teen
die
misdaad
deur hom en haar gepleeg
en
ook
die
belange
van die
gemeenskap
.
[5] Beskuldigde nr 1 se
persoonlike omstandighede is uiteengesit in die voorvonnisverslag
(bewysstuk ‘L’). Hy is gebore
op 3 Desember 1985 en was
gevolglik byna 24 jaar oud ten tye van die pleging van die misdade
waaraan hy skuldig bevind is. Hy
is ‘n eerste oortreder wat ‘n
versagtende omstandigheid in sy guns is. Sy pa was ‘n
konstruksiewerker en sy
ma het in ‘n apteek gewerk. Hy het
twee jonger susters. Hy het sy kinderjare by sy grootouers
deurgebring terwyl sy susters
by sy ouers woonagtig was. Sy ouers
het egter baie kontak met hom gehad. Hy was goed versorg en sy
kinderjare blyk gelukkig te
wees. Hy het gehou van sport en was ‘n
goeie rugbyspeler. Hy het probleme ervaar met lees en leer. Hy het
skool na standerd
8 verlaat. In haar brief (bewysstuk ‘O’)
sê sy ouma, Mev F Coleman, dat sy hom van babatyd tot en met
19-jarige
ouderdom groot gemaak het waarna hy na sy ouers te Ermelo
is. Sy beskryf sy goeie karaktertrekke en eienskappe as kind en ook

na skoolverlating. Beskuldigde nr 1 was 16 toe hy begin werk het.
Sy gebrek aan kwalifikasies het veroorsaak dat hy laagbesoldigde
werk
verrig het. Hy is in 2007 getroud. Hy en sy vrou het ‘n baba
wat tans twee jaar oud is. Sy vrou het hom kort voor
die pleging van
die misdade verlaat en hulle is tans besig om te skei. Beskuldigde
nr 1 het daarna eers ‘n woonstel met
sy suster en haar
mansvriend gedeel waarna hy ingetrek het by sy vriend, Mnr
Stapelberg, wat ‘n staatsgetuie teen hom was.
Mnr Rudi Vorster
het getuig dat beskuldigde nr 1 ‘n harde werker is en dat hy
hom enige tyd weer in diens sal neem.
[6] Beskuldigde nr 2 se
persoonlike omstandighede is uiteengesit in die voorvonnisverslag
(bewysstuk ‘M’). Sy is gebore
op 4 Junie 1985 en was
gevolglik 24 jaar oud ten tye van die pleging van die misdade waaraan
sy skuldig bevind is. Sy is ook ‘n
eerste oortreder wat ‘n
versagtende omstandigheid in haar guns is. Haar pa is ‘n
ketelmaker van beroep en haar ma
‘n huisvrou. Sy het twee ouer
broers en ‘n halfbroer. Haar pa het alkohol misbruik totdat sy
sowat sewe of agt jaar
oud was waarna hy sy sokkies opgetrek het.
Daarna was haar kinderdae sonder huislike probleme. Sy het skool
verlaat gedurende
standerd 8. Sy en die oorledene, wat ook ‘n
sekuriteitsbeampte was, het ontmoet terwyl sy na skoolverlating as
sekuriteitsbeampte
in ‘n supermark werksaam was. Hulle is
later getroud en het na Ermelo verhuis. Die oorledene en beskuldigde
nr 2 het twee
kinders, ‘n seuntjie van 6 jaar en ‘n
dogtertjie van 4 jaar oud. Ten tye van sy dood het die oorledene,
beskuldigde
nr 2 en hulle twee kinders in armoede en in beknopte
omstandighede in ‘n klein woonstel geleef. Beskuldigde nr 2 en
die
oorledene was werkloos en hulle huwelik was op die rotse.
[7]
Vrydagaand,
31 Oktober 2009, onderweg na ‘n plaaslike dansplek, Rebels, het
beskuldigde nr 2 haar vriendin, Veronica, vertel
dat die oorledene in
haar pad was en dat sy van hom wou skei, maar dat sy bang was dat sy
hulle twee kinders in die proses sou
verloor. Sy het Veronica ook
vertel van ‘n buite-egtelike verhouding tussen haar en ‘n
buurman. Later in die vroeë
oggendure terwyl hulle ‘n
na-geselligheid in die buitelug by ‘n plaaslike dam genaamd
Petdam bygewoon het, het beskuldigde
nr 2 vir Mnr Stapelberg, wat ‘n
lid van die Max motorfietsryklub was, in die teenwoordigheid van
beskuldigde nr 1, wat na
volwaardige lidmaatskap van die Max
motorfietsryklub gestreef het, gevra om haar man dood te maak teen ‘n
vergoeding van
R10, 000.00. Sy het hierdie versoek en aanbod van ‘n
finasiële beloning later herhaal, maar Mnr Stapelberg het
geweier
om dit te doen.
[8] Die ontmoeting by Petdam
is opgevolg met selfoonkontak tussen die beskuldigdes op
Maandagoggend, 3 November 2009 en op Dinsdagoggend,
4 November 2009
het hulle mekaar agter die plaaslike Spur restourant ontmoet.
Onderweg na hierdie ontmoeting het beskuldigde nr
2 vir Veronica, wat
haar daarheen vergesel het, vertel dat sy
‘moeg’
was vir die
oorledene en dat sy iemand gevind het om hom
‘dood
te maak’
.
Daarna het die beskuldigdes buite die Spur en in die teenwoordigheid
van Veronica beplan en afgespreek om die oorledene daardie
aand dood
te maak. Die afgespreekte plan was om die oorledene, wat werkloos
was, uit te nooi vir ‘n werksonderhoud in die
industriële
gebied van Ermelo waar beskuldigde nr 1 hom sou inwag en doodmaak.
Beskuldigde nr 2 se uitgesproke woorde aan
beskuldigde nr 1 was
‘maak
dit stadig en pynvol’
.
Beskuldigde nr 1 sou die oorledene se selfoon neem sodat die voorval
soos ‘n roof voorkom. Beskuldigde nr 2 het beskuldigde
nr 1
versoek om ‘n foto te neem van hoe haar man uitsien nadat hy
met hom afgereken het en om dit aan haar te stuur. Daarna
het die
beskuldigdes onder andere alkohol saam geniet, biljart (‘pool’)
gespeel en seksueel met mekaar omgegaan.
[9] Daardie aand het
beskuldigde nr 1 die oorledene iewers in die industriële gebied
van Ermelo ingewag. Hy het hom tweekeer
in die gesig geslaan met die
vuis waarop die oorledene geval het. Beskuldigde nr 1 het die
oorledene se kop flenters geskop met
sy harde en swaar
veiligheidstewels met staalpunte terwyl die oorledene magteloos op
die grond gelê het. Die skedelfrakture
wat die oorledene
opgedoen het was ingedrewe en oop frakture van die linker en regter
slape en agterhoofs. Sy breinweefsel het
by die
agterkopskedelfraktuur uitgepeul. Beskuldigde nr 1 het die oorledene
van sy selfoon beroof om die moord van die oorledene
die voorkoms van
roof te gee wat so algemeen in ons land voorkom. Hy het beskuldigde
nr 2 geskakel en haar waarskynlik verwittig
van die volvoering van
hulle moordafspraak. Beskuldigde nr 2 is die persoon wat die
oorledene se liggaam eers die volgende oggend
iewers in ‘n
sloot in die industriële gebied van Ermelo gevind het. Die
oorledene was maar 31 jaar oud toe hy so vermoor
was.
[10] Hierdie misdaad van moord
wat deur die beskuldigdes gepleeg was is ernstig en uiters grusaam.
Hulle
het opgetree in flagrante verontagsaming van die heiligheid of
onskendbaarheid van menselewe.
Hulle het die moord op die oorledene beplan en met voorbedagte rade
gepleeg. Hulle het saamgesweer en uitdruklik ooreengekom
om die
oorledene te dood. Beskuldigde nr 2 het beskuldigde nr 1 en Veronica
betrek en sy het die hoofrol beklee in die aangaan
van die ooreenkoms
om haar man dood te maak, in die beplanning van die aanval op die
oorledene en sy het aktief hulp verleen in
die uitvoering van die
moordafspraak. Beskuldigde nr 1 het in opdrag of op versoek van
beskuldigde nr 2 opgetree en hy het die
doodslag met koelbloedigheid
en wreedaardigheid uitgevoer.
[11] Die dood van die
oorledene is ook wesenlik benadelend vir die twee jong kinders.
Hulle is permanent ontneem van ‘n pa
wat hulle primêre
versorger was. Die teenwoordigheid van hulle ma is hulle ook
ontneem. Die gebeurtenis was vir hulle uiters
traumaties. Hulle was
aldus die proefbeampte verward en angstig. Hulle simptome het
nagmerries, enkuprese en aggressie ingesluit.
Hulle word egter tans
goed versorg deur hulle materne grootouers. Ek is meegedeel dat
beide die kinders se paterne en materne
grootouers huidiglik aansoek
doen om hulle aan te neem. Ongetwyfeld het die dood van die
oorledene ook ‘n negatiewe inwerking
op sy familie wie
gedurende dieselfde tyd ook ‘n ander seun vanweë
bloedkanker aan die dood afgestaan het.
[12] Wat die belange van die
gemeenskap aanbetref is dit alom bekend dat ons land gebuk gaan onder
‘n onaanvaarbare en kwellende
vlaag van veral ernstige
geweldsmisdade. Die gemeenskap vereis dat howe ferm optree teen
persone soos die beskuldigdes wat sulke
ernstige misdade pleeg.
[13] Verdere aspekte wat
geopper word in die voorvonnisverslae vereis oorweging. Die
proefbeampte skryf oor beskuldigde nr 1 dat
hoewel hy as kind goed
versorg en baie liefde gekry het terwyl hy by sy grootouers woonagtig
was hy ‘n hunkering na sy ouerhuis
gehad het en dat hy soms
verwerp gevoel het. Sy skryf ook dat hy probleme met lees en leer
ervaar het en dat dit sy selfbeeld
verder benadeel het. Dit blyk
egter ook uit haar verslag dat beskuldigde nr 1 gelukkige kinderjare
geniet het, dat hy van sport
gehou het en in rugby uitgeblink het.
Sy aanleg was moontlik nie akademies nie, maar hy het nietemin elke
jaar op skool geslaag.
Dit blyk ook nie dat hy as kind enige
gedragsafwykings openbaar het omdat hy nie by sy ouers woonagtig was
of omdat hy leerprobleme
ervaar het nie. Sy goeie karaktertrekke en
eienskappe as kind blyk dan ook uit sy ouma se brief.
[14] Die proefbeampte maak die
stelling dat beskuldigde nr 1 ‘gesosialiseer’ is ‘om
te glo dat ‘n man ‘n
vrou moet beskerm.’ Sy sê
dat hy kort voor die pleging van die misdade ‘n soortgelyke
situasie op min of meer
dieselfde wyse ‘suksesvol’
hanteer het. Die ‘situasie’ waarna sy verwys is ‘n
vuisgeveg waarin hy
en sy suster se mansvriend betrokke geraak het
terwyl beskuldigde nr 1 saam met hulle ‘n woonstel gedeel het,
nadat hy sy
vrou verlaat het. Die vriend het sy suster na bewering
sleg behandel. Die proefbeampte sê voorts dat hierdie insident
beskuldigde
nr 1 waarskynlik moed gegee het om dieselfde vir
beskuldigde nr 2 te doen. Beskuldigde nr 1 se aggressiewe optrede
teenoor sy
eie vrou spreek egter nie van ‘n man wat vrouens
beskerm nie. Hy het sy vrou onder andere fisies aangerand en na
bewering
gewurg toe sy vier maande swanger was. Beskuldigde nr 1 se
optrede teenoor sy vrou, teenoor sy suster se vriend en teenoor die

oorledene spreek van ‘n man wat uiters aggressief kan optree
nieteenstaande Mnr Rudi Vorster se getuienis dat beskuldigde
nr 1
glad nie aggressief is nie.
[15] Die proefbeampte is van
mening dat beskuldigde nr 1 ‘n persoon is wat aanvaarding
gesoek het en beïnvloedbaar was.
Sy verwys onder andere na
beskuldigde nr 1 se ma se mededelings aan haar dat sy intrek by Mnr
Stapelberg

... ‘n
groot fout was, aangesien hy daar blootgestel is aan persone met baie
swak morele waardes. Daar is baie gedrink en
hulle was betrokke by
‘n motorfietsklub (die Max’s). Mnr Smith was mnr
Stapelberg se ‘appie’ by die klub
en en mnr Stapelberg
was sy ‘senior’. Mnr. Smith het saam met mnr. Stapelberg
uitgegaan na nagklubs en byeenkomste
van die motorfietsklub. Dit is
by een van hierdie besoeke aan ‘n nagklub waar mnr. Smith sy
mede-oortreder, mev Snyman,
ontmoet het. ...
Sy moeder is van mening
dat die misdaad ‘n direkte uitvloeisel is van mnr. se pogings
om die ander lede van die motorfietsgroep
waarmee hy geassosieer het,
te beïndruk. Dit blyk asof hy veral probeer het om die veel
sterker mnr. Stapelberg te beïndruk.
...
Mnr en mev Smith is
oortuig daarvan dat hulle kind nie in staat was om die oorledene te
vermoor nie. Hulle glo dat daar ‘n
ander party betrokke was
wat in ‘n wit Ford Ikon motor gery het. Die gesin voel dat
mnr. Smith se assosiasie met verkeerde
vriende hom in die situasie
laat beland het. Hulle is oortuig daarvan dat hy toegestem het om
mnr. Snyman aan te rand sodat hy
erkenning kon kry van die manne in
die motorfietsklub. ...’
[16] Wat onder andere nie
heeltemal strook met hierdie spekulatiewe bewerings nie is die bewese
feit dat Mnr Stapelberg in die teenwoordigheid
van beskuldigde nr 1
die versoek van beskuldigde nr 2 dat Mnr Stapelberg die oorledene
doodmaak vir ‘n beloning van R10,
000.00, geweier het en dat hy
as staatsgetuie teen die beskuldigdes getuig het. Beskuldigde nr 1
het verkies om hierdie Hof nie
ten volle in sy vertroue te neem nie.
Onbeantwoord is byvoorbeeld die vraag of daar enige meriete in die
menings en gevoelens
van beskuldigde nr 1 se ouers is oor die
betrokkenheid van andere wie hy moontlik wou beïndruk het met en
wie hom moontlik
kon beïnvloed het tot die pleging van die
gruweldaad. Dit is nie deur aanvaarbare getuienis aangetoon dat
beskuldigde nr
1 die gruwelmoord begaan het vanweë
selfbeeldprobleme, soeke na aanvaarding, beïnvloedbaarheid en
onvolwassenheid aan
sy kant om dan as versagtende omstandigheid in
aanmerking geneem te word nie.
[17] Die proefbeampte maak ook
die stelling dat die oormatige gebruik van alkohol ‘n
definitiewe rol gespeel het by beskuldigde
nr 1 se betrokkenheid by
die misdaad, dat hy alle inhibisies verloor het en dat dit
waarskynlik sy eiewaarde verhoog en hom moed
gegee het. Die feit dat
beskuldigde nr 1 alkohol oormatig gebruik het nadat hy by Mnr
Stapelberg ingetrek het regverdig egter
nie die afleiding dat hy
onder die invloed van drank was ten tye van die pleging van die
misdade nie. Geen sodanige getuienis
is voor hierdie Hof geplaas
nie.
[18] Beskuldigde nr 1 het
woorde van berou uitgespreek tydens sy getuienis voor
skuldigbevinding, teenoor die proefbeampte en skynbaar
ook teenoor
die familie van die oorledene. Ek is egter nie instaat om te bevind
dat sy woorde vertolk kan word as opregte berou
vir die koelbloedige
en wreedaardige moord wat hy gepleeg het nie en dat dit gevolglik as
‘n geldige oorweging ter strafversagting
in aanmerking geneem
moet word nie. Dit is ongetwyfeld so dat beskuldigde nr 2 hom betrek
het by die moord op die oorledene deur
voor te gee dat haar man haar
slaan en hulle kinders molesteer. Die leuenagtige weergawe waarmee
hy volhard is dat hy en beskuldigde
nr 2 ooreengekom het dat hy haar
man ‘‘n goeie pak slae’ sou gee. Hierdie
nie-moordgerigte motief is vals.
Die vraag of beskuldigde nr 1 dalk
enige ander voordeel soos aansien of ‘n finasiële een sou
ontvang is oopgelaat.
Beskuldigde nr 2 het geld aan Mnr Stapelberg
beloof indien hy bereid sou wees om haar man dood te maak. Kortom,
beskuldigde nr
1 se werklike motief met die gruwelmoord op die
oorledene is ‘n aangeleentheid vir spekulasie en ook sy
beweerde hartsverandering.
Hy is waarskynlik spyt oor sy optrede,
maar sodanige spyt verplaas nie sondermeer in opregte berou nie.
[19] Die proefbeampte wys
daarop dat beskuldigde nr 2 as vyfjarige kind in die bad brandwonde
in haar gesig, nek en bolyf opgedoen
het. Beskuldigde nr 2 het gegly
en die warmwater kraan het oopgegaan. Hieroor lees die verslag soos
volg:

Hierdie
brandwonde en die letsels wat dit gelaat het, het ‘n
verreikende impak op mev. Snyman se sosiale ontwikkeling gehad.
Mev. Snyman is
selfbewus oor die brandmerk in haar gesig en nek en sy voel dat almal
dit raaksien en dat sy anders is as ander mense.
Sy is as kind en
tiener daaroor gespot en sy moes byname soos ‘toaster’ in
die hoërskool verduur. Sy kon haarself
nie laat geld nie en het
baie magteloos en vernederd gevoel as sy gespot is. Sy het erge
verwerping en emosionele pyn ervaar,
totdat sy in Graad 10 uit
desperaatheid die skool verlaat het. Sy het gevoel dat onderwysers
ook vir haar lag en dat niemand haar
wou beskerm nie. Haar ma het
probeer om die saak by die skool te beredder, maar sonder resultate.
Sy het geen sielkundige
of psigiatriese behandeling ontvang om die brandwondtrauma te verwerk
nie omdat haar ouers nie regtig besef
het hoe groot die impak van die
brandwonde was nie en hulle ook nie die finansiële vermoë
of mediese fonds gehad het
nie.
Mev Snyman is ‘n
introvert wat huiwerig is om enige gevoelens te kommunikeer. Sy kom
emosioneel afgestomp voor. Sy vind
dit moeilik om gevoelens te
verwoord en onderdruk meestal enige emosie. Sy is maklik
beïnvloedbaar omdat sy graag aanvaarding
wil hê, maar kan
ook baie gedetermineerd en dominerend wees as sy iets wil hê.
Volgens haar ouers was sy as kind maklik
om te dissiplineer, maar was
soms passief-aggressief en sou haar ontevredenheid wys deur terug te
trek en te tob. Sy sukkel om
konflik en verwerping te hanteer en sal
eerder voorgee dat niks haar kan ontstel nie. Sy maak nie maklik
vriende met vroue nie,
aangesien hulle haar meestal minderwaardig
laat voel. Sy beweer sy is meer gemaklik met mansvriende omdat hulle
haar nie etiketteer
op grond van haar voorkoms nie.
Die proefbeambpte is
van opinie dat mev. Snyman goed georienteerd is ten opsigte van
datum, tyd en omgewing. Sy ervaar geen hallusinasies
of illusies nie
en sy is toerekeningsvatbaar. Sy kan rasioneel en duidelik op vrae
antwoord en is in staat om goed te redeneer
binne die perke van haar
intellek en skolastiese opleiding. Haar sosiale
hanteringsvaardighede is egter beperk en sy voel maklik
hulpeloos en
verneder. Hierdie eienskappe het waarskynlik ‘n groot bydrae
gelewer tot die motivering van en uiteindelike
pleging van die
misdryf.’
[20] Beskuldigde nr 2 en die
oorledene was aanvanklik gelukkig getroud. Sy het die proefbeampte
meegedeel dat sy egter haar liefde
en agting vir die oorledene
verloor het nadat hy en haar stiefbroer ‘n seksuele daad
gepleeg het terwyl sy met hulle dogtertjie
swanger was.
Huweliksprobleme tussen hulle het daarna net toegeneem. Die
ongelukkige situasie is vererger deur die oorledene
wat ook sy werk
as leerling motorwerktuigkundige verloor het en sy onvermoë om
weer ‘n vaste betrekking te bekom. Die
gesin het finansieel
baie swaar gekry en beskuldigde nr 2 was baie bekommerd oor hulle
situasie. Sy het onder andere haar trouring
verpand om in die gesin
se basiese behoeftes te voorsien. Alhoewel sy sedert haar
swangerskap met hulle eerste kind nie gewerk
het nie was sy kort voor
die moord op die oorledene genoop om maar self te gaan werk soek. Sy
het die verwagting gehad om ‘n
werksbetrekking by ‘n
winkelgroep, Game, te bekom. Sy het geglo dat die oorledene nie
moeite gedoen het om ‘n werksbetrekking
te bekom nie en dit het
haar frustreer. Die proefbeampte sê in haar verslag dat
beskuldigde nr 2 baie kwaad was toe die
oorledene na bewering teenoor
haar aangedui het dat sy by Game moes gaan werk en dat hy na die
kinders sou omsien. ‘Sy het
geglo dat dit die man se rol is om
die broodwinner in die huis te wees.’ Dit blyk ook dat die
oorledene die primêre
versorger van die kinders was, dat
beskuldigde nr 2 kritiseer was vir die wyse waarop sy die huishouding
hanteer het, dat sy nie
gewild by die skoonfamilie was nie, dat sy
nie welkom by sekere van die familielede was nie en dat sy met die
intimiteit van die
ouer-kind verhouding gesukkel het. Beskuldigde nr
2 was bekommerd dat sy die kinders in ‘n egskeidingsproses kon
verloor.
[21] Die emosionele trauma wat
beskuldigde nr 2 as kind ervaar het met die emosionele en sielkundige
gevolge daarvan, die ongelukkige
huwelik tussen haar en die oorledene
en hulle ongunstige huislike en finansiele omstandighede kan nie
sonderrmeer aanvaar word
haar tot moord gedwing het nie. Beskuldigde
nr 2 was bekommerd dat sy haar kinders in ‘n egskeidingsproses
kon verloor.
Of dit haar hulpeloos laat voel het en tot wanhopigheid
gedwing het sodat sy geen ander uitweg kon sien soos byvoorbeeld om
regshulp
in te win en te berus by die uitkoms van regsverrigtinge
nie, is nie deur aanvaarbare getuienis aangetoon nie. Sy het die
moord
oor ‘n tydperk van sowat vier dae beplan. Daar was
voldoende tyd vir haar om te besin. Sy het instede met die
wreedaardige
plan gewetenloos voortgegaan. Deur beskuldigde nr 1,
wie se rol soortgelyk aan dié van ‘n huurmoordenaar is,
te betrek
is ‘n ernstige verswarende faktor wat teen haar in
aanmerking geneem word.
[22] Daar is ook geen sprake
van opregte berou aan die kant van beskuldigde nr 2 nie. Sy volhard
steeds met haar leuenagtige verontskuldigende
weergawe wat die moord
van die oorledene aanbetref. Sy het verkies om hierdie Hof
hoegenaamd nie in haar vertroue te neem nie.
Wat beskuldigde nr 2 se
bewerings van seksuele misbruik van die kinders deur die oorledene
aanbetref, wys die proefbeampte daarop
dat daar geen aanduiding van
seksuele oorbewustheid of seksuele trauma by die kinders gevind was
tydens terapie wat hulle ontvang
het nie. Sy wys ook daarop dat
beskuldigde nr 2 se

... verweer dat
sy haar man ‘n les wou leer, is nie in lyn met die normale
progressie van gesinsgeweld nie. In normale omstandighede
sou so ‘n
stap ‘n baie aggressiewe eggenoot meer geweldadig maak. In die
tipiese siklus van huweliksgeweld, sou vroue
probeer om alle
provokasie te vermy, en sal waarskynlik net self tot geweld oorgaan
as hulle direk bedreig sou word.’
[23] ‘n Opweging van al
die omstandighede en oorwegings wat relevant is tot die oplegging van
gepaste vonisse wat insluit
al die verswarende omstandighede en die
min versagtende omstandighede noop my tot die onafwendbare
gevolgtrekking dat daar nie
wesenlike en dwingende omstandighede
bestaan wat die oplegging van mindere vonnisse as die voorgeskrewe
vonnisse regverdig nie.
[24] Bygevolg word:
(a) beskuldigde nr 1, Mnr
Bernardus Edward Smith, gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf vir
sy skuldigbevinding aan die moord
op die oorledene, Mnr Johannes
Gerhardus Snyman (klagte 1 van die akte van beskuldiging) en tot
gevangenisstraf vir ‘n tydperk
van vyftien jaar vir sy
skuldigbevinding aan die roof van die oorledene se selfoon met
verswarende omstandighede soos omskryf in
artikel 1 van die
Strafproseswet 51 van 1977(klagte 2 van die akte van beskuldiging),
welke vonnis van vyftien jaar gevangenisstraf
samelopend met die
vonnis van lewenslange gevangenisstraf is; en
(b) beskuldigde nr 2, Me Cindy
Anne Snyman, gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf vir haar
skuldigbevinding aan die moord op
haar oorlede eggenoot, Mnr Johannes
Gerhardus Snyman (klagte 1 van die akte van beskuldiging) en tot
gevangenisstraf vir ‘n
tydperk van vyftien jaar vir haar
skuldigbevinding aan die roof van die oorledene se selfoon met
verswarende omstandighede soos
omskryf in artikel 1 van die
Strafproseswet 51 van 1977(klagte 2 van die akte van beskuldiging),
welke vonnis van vyftien jaar
gevangenisstraf samelopend met die
vonnis van lewenslange gevangenisstraf is.
P.A. MEYER
REGTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF
VAN SUID-AFRIKA
4 April 2011